Nuuskommentaar: Wapensterftes teenoor wapengeweld in Amerika

(Foto: CENGIZ YAR, JR/AFP)

Amerika het onlangs weer ʼn gruwelike massaskietvoorval by ʼn laerskool aanskou – 19 leerders en twee volwassenes is doodgeskiet. Die voorval word beskryf as een van die dodelikste massaskietvoorvalle in Amerika se onlangse geskiedenis.

Die voorkoms van hierdie voorvalle ruk ʼn mens gewoonlik tot stilstand. Wat presies moes waar in iemand se lewe skeefgeloop het vir hulle om by ʼn laerskool in te stap en onskuldige kinders te begin skiet? In die naskokke van massaskietvoorvalle word dieselfde ou debat egter altyd oopgekrap – wapenbeheer.

Diegene aan die kant van wapenbeheer staan redelik desperaat op soek na ʼn oplossing om sulke voorvalle te probeer stopsit – soos mense oor die hele spektrum natuurlik doen. Hulle oplossing vir wapengeweldbeheer is uiteraard wapenbeheer – mense kan nie by laerskole instap en onskuldige kinders doodskiet as hulle nie wapens het nie. Pres. Joe Biden het ook benadruk hoe “siek en sat” hy vir hierdie soort voorvalle is. Daar is natuurlik ook talle voorstanders van baie strenger wapenbeheer met die samelewing wat stelselmatig gestuur word na ʼn wapenlose samelewing – een waarin daar veronderstel word feitlik niebestaande wapengeweld te wees.

Die debat word, nes met uitsonderlike omstrede kwessies, dikwels in morele uiterstes geskets – óf jy moet streng wapenbeheer voorstaan óf jy staan outomaties apaties teenoor massaskietvoorvalle soos hierdie. Die probleem met sulke kwessies is gewoonlik dat mense saamstem oor die probleemstelling – die verskil kom gewoonlik net by die rede vir die probleem en die oplossing daarvoor in. Mense stem saam dat ʼn massaskietery soos hierdie afgryslik is en toekomstig so goed moontlik stopgesit of verhoed moet word. Die sentrale vraag is nie of massaskietvoorvalle ʼn afgryslikheid is nie, maar eerder of strenger wapenbeheer in dié opsig die oplossing is.

Die debat oor wapenbeheer sal ook altyd sentreer rondom burgers se mees fundamentele reg op wapenbesit soos ook verskans in die Amerikaanse grondwet – die misbruik van ʼn reg ontdoen die fundamentaliteit daarvan geensins nie. Vandaar die bekende ou stelling – “guns don’t kill people, people kill people”. Dit is uiteraard waar, maar ook nie so eenvoudig soos wat dit gestel word nie.

In hierdie debatte word wapengeweld en wapensterftes ook sinoniem met mekaar gebruik. Wapengeweld heers kwansuis in Amerika omdat die koerse van wapensterftes so hoog is. Die een ding wat ons beslis weet van Amerika se wapengeweld, is dat ons eintlik baie min daarvan weet – gegewe die grootte van die probleem, word daar weglaatbare finansiering vir navorsing bewillig. Hierdie kwessie, tesame met politieke agendas wat teen wapenbesit gevoer word, kan ook verduidelik waarom mense wapengeweld en wapensterftes aan mekaar gelykstel.

Pew Research het in 2020 bewys dat meer as die helfte van wapensterftes wat in 2020 in Amerika opgeteken is selfmoorde was. Dit beteken dat meer as die helfte van alle wapenverwante sterftes wat in Amerika plaasvind nié verwant is aan moord of ander geweldsmisdaad nie.

Massaskietvoorvalle soos hier bespreek, maak minder as 1% van alle wapenverwante moorde in Amerika uit – tog kry dit verreweg die meeste aandag.

Dit is altyd ʼn slegte idee om lyke te vergelyk en te tel – dit is ook nie die doel van hierdie vergelyking nie. Massaskietvoorvalle soos hierdie wat by skole en openbare ruimtes plaasvind, traumatiseer ongetwyfeld gemeenskappe. Die groter nuusdekking wat dit kry, dra natuurlik ook by tot mense se persepsies van die mate waarin dit deel van die groter prentjie uitmaak. Selfmoord is verreweg die grootste oortreder in hierdie opsig.

Hierdie absoluut tragiese massaskietvoorvalle word dikwels oneerlikerwys geëkstrapoleer om te bewys hoe geweld geheel en al in Amerika heers – geweld wat deur wapenbeheer of -verbod stopgesit sal kan word. Dan is daar natuurlik ook die kant van die debat wat voorhou dat al daardie mense nie selfmoord sou pleeg as wapens nie so geredelik beskikbaar was nie. Indien vuurwapens meer volop is, sal mense uiteraard makliker selfmoord pleeg met vuurwapens.

Dit is egter moeilik om so ʼn blatante korrelasie te veronderstel tussen wapenbesit en selfmoordkoerse oor die algemeen – ʼn mens hoef net ʼn bietjie ooswaarts te kyk as bewys hiervan. Suid-Korea het een van die hoogste selfmoordkoerse ter wêreld teen ʼn koers van sowat 25 uit 100 000. Dit teenoor Amerika se koers van sowat 14 per 100 000. Suid-Korea het feitlik niebestaande privaat vuurwapenbesit, met Amerika wat verreweg die hoogste besitkoers van privaat vuurwapens ter wêreld het. Tog is Suid-Korea se selfmoordkoers amper dubbel Amerika sʼn.

So is dit dat nie gewere nie, maar ménse ander mense doodmaak. Streng wapenbeheer gaan ʼn misdadiger nie keer om ʼn misdaad te pleeg nie. Sodoende gaan streng wapenbeheer of enige wapenverbod mense ongelukkig ook nie keer om skade aan hulself of ander aan te rig nie.

In Suid-Afrika is die polisiediens self lief daarvoor om aan te voer dat ons net van wapens in privaat besit ontslae moet raak – sodoende sal die polisie uiteindelik ʼn houvas op wapengebaseerde geweldsmisdaad kan kry. Indien ons net privaat burgers kan ontwapen, sal ons dus uiteindelik ʼn wapen- en geweldlose samelewing kan betree. Ons polisiediens is egter die grootste “verskaffer” van onwettige wapens – wapens waarmee gewone burgers hulself nie beskerm nie, maar misdadigers misdrywe pleeg. Tussen 2005 en 2017 het die polisiediens meer as 26 000 wapens hetsy deur nalatigheid of diefstal verloor.

Dit is dieselfde soort denke van sommiges in die Amerikaanse vuurwapendebat. Ons is net een goeie stuk wapenwetgewing daarvan weg om die mens van gewelddadigheid te stroop. Dit is egter belangrik om wetgewing te maak vir hoe mense ís en nie hoe jy gewens het hulle was nie. (So ook is dit noodsaaklik om ernstig ondersoek te gaan instel na wáárom oorwegend tienerseuns hierdie soort gewetenlose massaskietery teen onskuldige kinders aanhou pleeg.)

ʼn Ontwapening van die burgery ontwapen slegs goeie burgers. ʼn Gesonde en verantwoordelike wapenkultuur is kernbelangrik vir ʼn samelewing se weerbaarheid, selfstandigheid en veiligheid. Booswigte en misdadigers sal altyd ʼn manier kry om geweld teen die samelewing te pleeg. Dit is waarom die reg op wapenbesit steeds sentraal staan in die burgerlike verskansing teen spontane en strukturele geweld. ʼn Wapenlose burger kan homself nie beskerm teen misdadigers op grondvlak nie. ʼn Wapenlose burgery kan homself nog minder beskerm teen ʼn tiranniese regering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Dewald ·

Massaskietvoorvalle is dalk ‘n klein oorsaak van wapen verwante sterftes in Amerika, maar dit is ‘n pandemie uniek aan daardie land, wat aangepreek moet word.

Strenger wapenbeheer is nie ontwapening nie. Amerika het strenger wapenbeheer nodig, daar is geen rede vir ‘n 18-jarige om wettiglik twee semi-automatiese gewere te kan koop nie – dit hoort nie so nie. Ongelukkig sien die sterk aanhangers van Amerika se 2de amendament hierdie voorstel as ontwapening, en skop dus vas daarteen.

VaalDonkie ·

Dit gebeur altyd net so voor ‘n verkiesing. Daai land se politici is siek. Niks wat hulle aanvang sal my verbaas nie.

Johan ·

Dewald, hy het net een nodig om n misdaad te pleeg wat maak dit dan saak as hy 50 mag besit? Om wapens te beperk help niks.

Pampoen ·

Eerstens: Daar is beslis iets fout met die sosiale ‘fiber’ in VSA. Hulle kan maar daar begin soek. Tweedens: Mense met ‘wurms’ in hulle koppe, behoort nie vuurwapens te kan bekom nie en veral nie aanvalswapens nie.

marius ·

Hoeveel mense word in Suid Afrika met onwettige wapens doodgeskiet ?

Johan ·

99.9% want dit is so moeilik om n lisensie te kry dat amper alle wapens “onwettig” is.

Gerhard ·

Gaan kyk eerder na die geweldadige videospeletjies wat enige kind kan speel waar mense voor die voet doodgemaak word.
Tweedens voer Hollywood films mense met die mees grafiese geweld.
Dit moét mense/tieners onsensitief oor geweld maak.

KatjieDeKat ·

Ek moet se ek stem nie saam in die algemeen nie. My eie seun is 16 en speel gewelddadige video speletjies. Sy Amerikaanse en Meksikaanse maatjies ook. Hulle is gebalanseerde welaangepaste kinders met ouers vir wie hulle respek het. They are sane and sensible teenagers who know its a Game. Nie een van hulle gaan losbrand op skole of skares mense nie. Dit is duidelik ook die geval met die oorgrote meerderheid Amerikaanse en Meksikaanse tieners en jong mense – anders sou ons ten minste vyf keer n week so n gruwel sou sien, ook hier in SA, ook in Europa. Oral oor diw planeet speel jong mense hierdie video speletjies. Dis wanneer mense ernstige psigologiese probleme het, wat hierdie massa moorde gebeur. En dan is video speletjies nie eens n faktor nie, ENIG IETS gaan jou dan laat kop verloor, of dit nou jou koffiebeker is wat breek of jou buurman se hond wat te veel blaf.

B-Man ·

Daar is maar bittermin speletjies en films waar die booswig kinders skiet.

henndrik ·

Baie goeie artikel. Ek het ‘n teorie oor die skietery in Amerika – hierdie mense soek net hulle 15 minute in die kollig en op hierdie manier is hulle gewaarborg daarvan

absoluut ·

Absoluut, enigeiets om n movie ster te kan wees en lewe soos een of eerder soos hulle dink dit moet wees

KatjieDeKat ·

Dit kan nie blameer word op gewelddadige videospeletjies nie. My eie 16jarige seun speel dit, sy Amerikaanse en Meksikaanse vriende speel dit. In SA, in Europa, oraloor die planeet speel tieners en jong mans dit, selfs meisies doen. As gewelddadige videospeletjies die oorsaak was sou ons elke liewe dag gruwelike massa skietvoorvalle gesien het. Veral in Amerika, waar vuurwapens uiters maklik bekombaar is. Ons sou dit Elke Liewe Dag gesien het. Die oorsaak is ernstige psigologiese probleme.

absoluut ·

Amerikaanse kinders word baie anders as kinders in SA grootgemaak en wat hulle ervaar in die lewe buite hulle huise, in Amerika en in SA

Hendrik ·

Die fout wat almal maak is om te dink dat persoonlike verantwoordelikheid genoeg is om mense verantwoordelik te hou met vuurwapens. Duisende sterftes in die VSA vind plaas omdat wapens nie toegesluit word nie, of omdat background checks glad nie, of nie behoorlik gedoen word nie. Daarom is wapenwetgewing nodig. In die VSA mag n 18-jarige nie eers n bier koop nie, maar hy mag n semi-outomatiese geweer met onbeperkte ammunisie koop, dit terwyl die belangrike voorste deel van sy brein nog ontwikkel. Daardie deel is die deel wat onder andere empatie met ander mense het. Ingelukkig het die NRA ontaard in n organisasie wat net veg vir minder wapenwette, sonder om die verantwoordelikheid van wapen besit in ag te neem. Hulle spandeer ook miljoene om hoofsaaklik Republikeinse politici te swaai om enige wapenwetgewing te dwarsboom. Nêrens in die beskaafde wêreld (sien bv Switzerland en Finland) is soveel massamoorde en selfmoorde en skietongelukke as in die VSA nie. Die verskil is wetgewing.

Johan ·

Hier word “background checks” ook nie gedoen nie want dit is so moeilik om n lisensie te kry dat allmal maar daarsonder moet gaan. Hoe moet dit gedoen word as mense nie eers moeite doen om n lisensie te probeer kry nie.

Johan ·

Goeie artikel, danki. Die gemors van n wet in SA slaan ons baie hard terwyl die skurke net mooi niks oorkom nie. wapen beheer is eenvoudig nie die oplossing nie. Maak dit maklik om n wapen te registreer en jy het tenminste n databasis, hier is hul totaal blind met betrekking tot hoeveel, waar en wat se wapens daar is.

Johann101 ·

Die oomblik as ‘n regering strenger wapenwette wil inbring, wat privaat eienaarskap vir selfverdedig verbied as ook om jou eie patrone te laat…
Beteken dit net een ding ONTWAPENING!… en dan wie gaan ons beskerm teen ons tiraniese regering?…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.