Nuuskommentaar: Wie verloor almal in Rusland-Oekraïne-oorlog?

oekraine rusland

(Foto: Anatolii Stepanov, AFP)

Rusland het ná sy maande lange luiering op die Oekraïense grens uiteindelik ingeval. Sedertdien het meer as 500 000 mense uit Oekraïne gevlug. Oekraïne se burgers het ook reeds vrede daarmee gemaak dat hulle baie letterlik om die heil van hul eie land moet veg. Burgerlikes is bewapen en selfs gevangenes met gevegservaring is vrygelaat in ʼn desperate poging om hul magte te versterk en te vergroot. Oekraïense mans tussen 18 en 60 jaar oud word ook by die grense verplig om agter te bly en hul land te verdedig.

Diplomatieke oplossings is lank reeds uitgeput. Pres. Wladimir Poetin self is nou ook al so ver in die letterlike oorlogspad af dat Rusland bloed gaan sweet om internasionaal hiervan te herstel. Hoewel die oorlog tussen Rusland en Oekraïne woed, is soveel meer as net Oekraïne se heil op die spel.

Jean Jacques Boshoff, dosent in sosiale wetenskappe aan Akademia, vra hom in ʼn meningstuk die vraag af hoe die oploop tot hierdie oorlog vergelyk met die Eerste Wêreldoorlog-lesse wat uit die Versailles-verdrag geleer kon word. Hoewel die geallieerdes aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog die oorlog gewen het, het hulle die vrede verloor. Duitsland is in dié oorlog vernietig en boonop vervreem – dit sou op die ou einde grootliks tot die opkoms van nazisme en die vernietigende militêre konflik van die Tweede Wêreldoorlog bydra.

(Argieffoto: Jason Lee/Reuters)

Rusland het veral ná die val van die Sowjetunie ʼn soortgelyke mate van vervreemding teenoor die Weste ervaar. Rusland het verkleineer en verneder uit die Koue Oorlog gestap. Dit beteken uiteraard nie dat die Weste in ʼn desperate poging om vrede voor Rusland moes neerval en elke moontlike bedreiging vir Rusland, waaronder spesifiek Navo, moes ontbind nie. Daar is egter wel iets te sê vir die deurlopende en aanhoudende vervreemding wat tussen die Weste en Rusland in die post- Koue Oorlog-wêreld geskied het en die uitwerking wat dit uiteindelik op Rusland se imperialistiese sentimente gehad het.

Diegene wat die meer liberale skool van internasionale politieke ontleding aanhang, is feitlik volledig deur hierdie oorlog oorrompel. Die internasionale orde word ingevolge dié stel reëls, wat veral ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog en Koue Oorlog prominent geword het, verstaan, beoordeel en gereël. Sodoende is dit ondenkbaar vir veral die Weste dat enigiemand dié spanning tussen Rusland en Oekraïne op enige ander wyse sou interpreteer. Die probleem is egter dat Rusland self dit veel anders interpreteer – aldus Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling aan die Solidariteit Beweging.

Dit bring ʼn mens by “Tsaar Wladimir” spesifiek se aspirasies om Rusland weer tot ʼn ontsagwekkende ryk uit te bou soos wat Niall Ferguson, gesiene historikus, verduidelik. (Daar is egter reeds vroeë intelligensieaanduidings dat die mense van Rusland dalk nie op dieselfde golflengte as Poetin self is nie.) Rusland vat net terug wat eintlik syne is – of so meen Poetin. Dít is die motivering wat aan die kern van Poetin se angswekkende toesprake, militêre optrede en absolute verontagsaming van Oekraïense soewereiniteit lê. Diplomatieke opsies is lank reeds uitgeput met oorlog as enigste uitweg vir Poetin. Sodoende kan die oorlog op een van drie maniere volgens Kleynhans eindig.

Russiese magte het die middeplein en hoofkantoor van die Kharkiv-administrasie in Oekraïne  geteiken (Foto: Oekraïnse departement van nooddienste/AFP)

Rusland moet uit Oekraïne gedryf word, Oekraïne moet homself aan Rusland oorgee of Rusland moet van die oorlog en Oekraïne afstand doen. Soos wat sake tans staan, is die mees waarskynlike opsie egter dat Rusland Oekraïne gaan oorneem. Hoewel die Oekraïense moreel uitsonderlik hoog is en die weermag hiervan ʼn baie duur oorlog vir Rusland kan maak, sal hulle alleen nie sommer die Russiese weermag verslaan nie. Die Weste is dan ook uitsonderlik skugter vir militêre inmenging. Tog verskaf hulle militêre ondersteuning sover hulle kan. Ook Duitsland het sy militêre besteding drasties verhoog en sy eie post- Tweede Wêreldoorlog-beleid verontagsaam deur dodelike wapentuig te verskaf.

HR McMaster, voormalige nasionale veiligheidsraadgewer in die VSA, meen egter dat die VSA nie genoeg gedoen het om die Oekraïense weermag te help versterk nie. Dit is veral in die vroegtydige afweer van die oorlog – weens ʼn tekort aan afweringsvermoëns het Poetin geglo dat militêre optrede ʼn haalbare opsie vir hom is omdat Rusland sterker is as die teenstand wat sy magte sal kry en in die aanloop tot die inval gekry het.

Selfs die harde ekonomiese sanksies wat die Weste teen Rusland instel, is beperk deur hul eie ekonomiese belange in Rusland – spesifiek hul afhanklikheid van Rusland se aardgasreserwes. Die Weste is tans ook deurtrek met swak staatsleiers wat oor die algemeen in strategiese besluitnemingsvermoëns tekortskiet en risikovermydend is. Die Bretton Woods-instellings wat post- Tweede Wêreldoorlog vir internasionale vrede moes sorg, is meestal ook niks meer nie as besluitnemingsforums sonder uitvoerende mag – daadwerklike mag lê nie hier nie, maar by individuele state wat bereid is om beslissend op te tree. Is daar tans so ʼn Westerse staat?

Pres. Wladimir Poetin (Foto: Handout/KREMLIN.RU/AFP)

McMaster bespiegel egter ook dat dít moontlik die begin van die einde vir Poetin kan beteken – hoewel hy militêr die oorhand het, het hy dalk sy hand op die internasionale politieke en ekonomiese verhoog radikaal oorspeel.

Hierdie oorlog is soveel meer as net ʼn inval in Oekraïne – dit is inderwaarheid ʼn toets van die huidige stand van die Weste en gegewe die waarskynlike uitkoms ook moontlik die einde van die Westers gedomineerde, liberale en idealistiese wêreldorde wat in die onlangse geskiedenis geheers het. Terwyl die Weste intern mekaar se kele afgesny het oor watter voornaamwoorde die verdraagsaamste is, het daar in realpolitiek ʼn daadwerklike eksistensiële bedreiging vir die Weste homself tuisgemaak op die Oekraïense grens.

Die krisis is eksistensieel, nie omdat Rusland onder Poetin noodwendig die mag gekonsolideer het waaroor die Sowjetunie beskik het nie, maar eerder omdat hulle fundamenteel in konflik staan met die Westerse opvatting van die wêreldorde. Hoe goed die Westerse lande se funderende idees ook al mag wees, verkeer hulle tans in ʼn groot identiteitskrisis. So weersinwekkend as wat Poetin se idees ook al mag wees, so sterk staan sy opvatting van Russiese identiteit. Die oomblik dat beskawings vertroue in hul eie funderende idees verloor, staan hulle weerloos teenoor ander met beter gewortelde identiteitsekerheid. Die vraag is dan wie dié stryd om die ordes tot watter mate sal wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vrijburger

Puik ontleding.
Hierdie situasie het ook die westerse swakhede (veral leierskap) ontbloot aan hul vyande. Hou hierdie spasie dop, Taiwan is ook op Sjina se spyskaart, nou dalk gouer as later.

Leon

Ag , Rusland verkleineer en verneder hul was nog altyd n wereldleier of moondheid gewees en sterk militaristies

Nico

Die Cabal het hulle hand oorspeel. Van binne het die Weste hulself verrot met ultra-linkse opvattings asook die aftakeling van beginsels. Hulle het hul eie mense verniel en baie vernietig om die euwel van NWO tot stand te bring vir hul siek gejaag na geld en mag. Doen bietjie moeite en kyk na die geskiedenis. Daar is verskeie gevalle waar US ook doen wat Putin nou doen. Daar was ook ‘n baie duidelike omskrewe ooreenkoms waar NATO,US,EU onderneem het om nie NATO uit te brei na die ontbinde state van die USSR nie,waarvan Okraine een is(1991). Daar was 12 van… Lees meer »

Dirk Mostert

Eenogige artikel. Die Minsk vredesooreenkoms in 2015, wat aan Putin te danke is, is sedertdien knaend geskend deur Kiev- magte in Donbas. Daar is op hierdie oomblik gevegte daar. Wat soek die Kiev regime se magte daar? Woongebiede is en word gebombardeer. Meer as 100,000 vlugtelinge is al oor die grens na Rusland. Zelensky en Porosjenko, sy voorganger, moes lankal by die ICC aangekla gewees het vir oorlogsmisdade. Die skynheiligheid van die Weste en hul media maak my siek!

Hendrik

“Terwyl die Weste intern mekaar se kele afgesny het oor watter voornaamwoorde die verdraagsaamste is” – dit som alles eintlik baie mooi op. Dis wat ek al telkemale vantevore gesê het. Kan nie besluit oor him/her/us/they/them nie, wat nog van goed wat eintlik van belang is. Die weste gaan hierdie een verloor. Hulle speel nie nou in Irak of Afghanistan nie. Die Russe speel met regte gewere, hulle kruip nie weg in grotte nie.