Phala Phala: Drie nou in hof oor diefstal op plaas

Twee verdagtes in hof oor diefstal by Phala Phala

Imanuwela David (links) en Froliana Joseph het Dinsdag vlugtig in die Bela-Bela landdroshof in Limpopo verskyn. (Foto: Mashudu Malabi Dzhangi / Nasionale Vervolgingsgesag)

Frolina Joseph en haar broer, Ndilinasho David Joseph (27), die derde verdagte wat in verband met die diefstal van duisende dollars op pres. Cyril Ramaphosa se Phala Phala-wildplaas in hegtenis geneem is, het Vrydag in die hof op Bela-Bela aangevoer die staat se saak teen hulle is swak.

Imanuwela David (39) en Frolina Joseph (31) het Dinsdag vir die eerste keer in die hof verskyn op aanklagte van sameswering om huisbraak te pleeg, huisbraak, geldwassery en diefstal. Hulle is onderskeidelik Sondag en Maandag in hegtenis geneem.

Die twee was Vrydag weer in die beskuldigdebank, maar het dié keer saam met Ndilinasho verskyn wat hom Donderdag aan die polisie oorgegee het.

Imanuwela se borgtogaansoek het nie voortgegaan nie omdat sy regsverteenwoordiger nie beskikbaar was nie.

Frolina en haar broer het albei in hul eedsverklaring, wat deel was van hul borgtogaansoek, aangedui dat sou die staat voortgaan met die saak teen hulle, hulle van plan is om onskuldig te pleit op al die aanklagte teen hulle. “Die staat se saak is swak,” het al twee in hul verklarings aangevoer.

Frolina het ook aangedui sy het ʼn eenjarige kind met ʼn kroniese mediese toestand. Sy moet die kind ook borsvoed. “Sou ek nie op borgtog vrygelaat word nie, sal my kind benadeel word,” voer sy aan.

Sy het aangedui dat sy borgtog van R2 000 kan bekostig. Frolina het voorheen op Ramaphosa se plaas gewerk.

Die klagte teen hulle hou verband met die inbraak op Ramaphosa se wildplaas in Februarie 2020 waartydens $580 000 – wat in ʼn rusbank versteek was – gesteel is.

Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in Limpopo, het vroeër gesê Frolina en Imanuwela ken mekaar en het saamgesweer om die Phala Phala-plaas te beroof.

Hulle het volgens die NVG glo op 8 Februarie – verkeerdelik – saam met nog twee verdagtes op ʼn ander plaas in die omgewing, Stokkiesdraai, ingebreek, maar niks gesteel nie omdat dit die verkeerde plaas was.

Die dag daarna het hulle glo by Phala Phala ingebreek.

Frolina, soos haar medebeskuldigdes, het ʼn gesigsmasker in die hof gedra. Die kappie van haar baadjie was ook laag oor haar gesig getrek. Sy het emosioneel voorgekom en oor haar oë gevee toe sy deur die hof gevra is of sy die inhoud van haar borgtogaansoek verstaan. Sy het geknik en saggies bevestigend geantwoord.

Haar broer het net so sag op dieselfde vraag geantwoord.

Die staat het nie Frolina en Ndilinasho se borgtogaansoek teengestaan nie en gevra dat Frolina se borgtog op R5 000 vasgestel word en dié van haar broer op R10 000.

Uitspraak in hul aansoeke is voorbehou. Hulle sal weer volgende Vrydag saam met Imanuwela in die hof verskyn wanneer uitspraak in die borgtogaansoek na verwagting gelewer gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ansie ·

Wel ek verstaan nie hoe hulle by die verkeerde plaas ingebreek het as sy voorheen op CR se plaas gewerk het.

Johann ·

So ons hier in die RSA is soort van gewoond aan die absurdheid wat met elke RamaNocio verbintenis saam gaan. Maar imagine wat die res van die wêreld moet dink van die klomp gwano?

Michele ·

Ek wonder of hul regtig deel was van die…. en of die net n maklike uitweg is vir Rampies

Piet 6 ·

Dit is duidelik dat diegene wat hier kommentaar lewer, geen idee het wat gebeur het nie en hulle eie idees en stories opmaak.

Juffrou ·

Dis ń snaakse affêre die:
Hulle kruip weg agter gesigsmaskers, kappies, praat saggies, knik die koppe…..hoe het hulle dan karre en eiendom gaan koop? Waar/hoe het al dié gebeur?

domheks ·

Hoop die VOLLE bedrag word hier genoem, dan wys dit ons prez hou skelm $$$$ in sy huis aan. Oortree die valuta regulasies.

Samuel ·

Ja… Maar waarom het die SP die geld in die rusbank weggesteek? Was hy nie ook skelm nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.