Phala Phala: Soedanees se buffels teel al aan

Daar is meer vrae as antwoorde oor die diefstal van mijoene dollar op pres. Cyril Ramaphosa se plaas in Limpopo. (Foto: studgamebreeders.co.za)

Die buffels wat die sakeman Hazim Mustafa op pres. Cyril Ramaphosa se Phala Phala-wildplaas gekoop het, het al aangeteel teen die tyd dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) sy ondersoek na die versteekte geld in die rusbank gedoen het. Daar was egter teen Maart vanjaar skynbaar geen haas aan Ramaphosa se kant om die buffels aan die regmatige eienaar te verskaf nie.

Mustafa het op Kersdag 2019 in kontant $580 000 (destyds nagenoeg R8 miljoen) betaal vir 20 buffels. Hy het 15 koeie en vyf bulle gekoop. Dit is onbekend hoe groot die kudde tans is.

Dié buffels was deel van die president se uitskotdiere op die plaas.

Ramaphosa het aan ondersoekers van SARB erken Mustafa is geregtig op die buffels of ʼn terugbetaling.

“… mens wag tot die hele ding oorgewaai het en omdat mens in die skuld staan, sal mens die transaksie deursien as hulle nog in die buffels belangstel, en natuurlik sal mens die nageslag ook vir hulle gee – want hulle het natuurlik geboorte gegee. Of anders hou ons die buffels en betaal hulle terug,” het die president gesê. Die president het ook aangedui “sodra die stof oor hierdie hele ding gaan lê”, sal daar na Mustafa uitgereik word oor sy buffels en die deposito wat hy daarvoor betaal het.

Hy het reageer op vrae van André Malherbe, SARB-ondersoeker vir finansiële waarneming, oor “teenstrydighede” met die buffeltransaksie. Ramaphosa het in Maart vanjaar voor die ondersoekpaneel verskyn.

Die paneel het verlede jaar ondersoek ingestel ná verskeie politieke partye griefskrifte gerig het.

Die president, sy Phala Phala-plaasbestuurder, Hendrik von Wielligh, en waarnemende plaasbestuurder, Sylvester Ndlovu, het onder andere voor die ondersoekpaneel verskyn.

Die president se transkripsie en verklarings vorm nou deel van hofstukke wat onlangs by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is as deel van die Demokratiese Alliansie se aansoek om die grondwetlikheid van die SARB se bevindings te betwis.

Die Reserwebank het vroeër vanjaar bevind nóg Ramaphosa nóg enigiemand op sy plaas het enige valutabeheerregulasies oortree nadat duisende dollars voete gekry het.

Hazim Mustafa en sy vrou Bianca O

Hazim Mustafa, die besigheidsman van Sudan wat die buffels by pres. Cyril Ramaphosa se Phala Phala-wildplaas gekoop het, saam met sy vrou Bianca O’Donoghue. (Foto: Bianca O’Donoghue / Facebook).

Mustafa het nooit ʼn verklaring aan die SARB gegee nie, slegs ʼn skriftelike eedsverklaring waarin hy die president se weergawe van gebeure beaam.

Volgens hom was die transaksie nie voltooi nie, want hy het nog kopers gesoek vir die buffels. Eers dan sou daar voortgegaan word om die diere se verskuiwing te reël. “Maar die Covid-pandemie het dit verhoed, die mark was dood,” lui sy verklaring.

Oor hoekom hy kontant betaal het, sê Mustafa hy wou die transaksie waarborg.

“Ek het gevind dat mense jou ernstiger sal opneem as jy wys jy het kontant beskikbaar wanneer jy aanbied om iets te koop. Ek het die kontant beskikbaar gehad en daarom het ek dit gebruik. Ek wou die kontant los om die buffels te waarborg en my bereidwilligheid te toon om voort te gaan met die transaksie.”

Ramaphosa het ook na die geld wat Mustafa betaal het, verwys as ʼn deposito.

Die president is deur Ndlovu, wat aan diens was, in kennis gestel van ʼn buitelandse kliënt wat in kontant betaal het.

Die president het Ndlovu opdrag gegee om die geld op die plaas te hou totdat hy (Ramaphosa) weer die plaas besoek aangesien hy weer die volgende dag na Kaapstad sou vertrek. Ramaphosa sou ook Von Wielligh inlig sodat hy die transaksie verder kon verwerk en die geld deponeer.

Dit het nooit gebeur nie en 46 dae later – op 9 Februarie 2020 – is die geld gesteel.

Arthur Fraser, voormalige hoof van die staatsveiligheidsagentskap, het die diefstal verlede jaar Junie aan die groot klok gehang.

Ndlovu sê oor die bank

Ndlovu het in Februarie voor die SARB verskyn en getuig hoekom hy die geld in die president se huis gaan wegsteek het.

Hy sou met verlof gaan en het gevrees die geld sou uit die plaaskluis verdwyn. Hy was onseker wanneer Von Wielligh van verlof af sou terugkeer. Heelwat personeel het glo toegang gehad tot die Bayeto-lokaal, waar die kluis in die plaaskantoor staan.

“So dit het by my opgekom ek moet die geld skuif na ʼn veilige plek wat die president se huis, wat ook op die plaas is, sal wees.”

“Ek het die president se huis gekies, want ek het geweet dit is baie veilig daar en dat niemand daar sal kom nie juis omdat dit die president se huis is. Daar is ook [veiligheid]kameras buite.”

Hy het ʼn spaarkamer gekies waarin Ramaphosa se dogter soms slaap as sy die plaas besoek.

Ná hy die geld in die kussings en ook die voering van die bank versteek het, het hy ʼn gholfsak gevat en dit bo-op geplaas “sodat die geld nie sigbaar is nie”.

Hy het nooit vir Von Wielligh van die geld vertel nie “omdat hy aangeneem het die president sou”.

Von Wielligh het getuig die dag van die inbraak was die eerste keer dat hy van Mustafa en die transaksie te hore gekom het. Volgens die president sou Ndlovu nie Von Wielligh inlig oor die stand van sake nie “omdat die twee ʼn stram verhouding gehad het”.

Volgens Ramaphosa het hyself nie daarby uitgekom om Von Wielligh in te lig nie. “Hy [Von Wielligh] was weg van die plaas [in die buiteland] en waarvan ek baie seker was, was dat hy sou terugkom en dat hy oor alles ingelig sou word. […]”

Twee verdagtes in hof oor diefstal by Phala Phala

Imanuwela David (links) en Froliana Joseph het Dinsdag vlugtig in die Bela-Bela landdroshof in Limpopo verskyn. (Foto: Mashudu Malabi Dzhangi / Nasionale Vervolgingsgesag)

  • Intussen het twee verdagtes in verband met die diefstal op die president se plaas hierdie week in die landdroshof in Bela-Bela, Limpopo, verskyn. Imanuwela David (39) en Frolina Joseph (30) het Dinsdag op aanklagte van sameswering om huisbraak te pleeg, huisbraak, geldwassery en diefstal verskyn. Hulle sal na verwagting môre weer in die hof verskyn en dan om borgtog aansoek doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Sobymykoolkop ·

JA….Kersvader kom die 25 ste Des en ek glo in hom ook. As ons soveel weggesteek het was on nou nog in die tronk

Nicky ·

Is hy van plan om die buffels te lewer of is dit net woorde Pasop Sudan is soos n mafia as jy nie deliver nie, het jy twak op jou hande

domheks ·

Jy kan lieg, maar die daar is ‘n gesegde wat se die waarheid haal hom wel in.

Marous ·

So daar was ‘n transaksie en geen valuta beheer nie . Die geld is nie verklaar nie . Wat van SARS ? Daar is baie Afrikaanse woorde wat die storie genoem kan word . Toesmeer is een .

Johann ·

Ergste is die klomp leunaars verwag ons moet dit glo? En voor in die koor is RamaNocio.

Martie Smartie ·

Hulle wil hulle wil nie hulle wil hulle wil nie. Kan iemand nou besluit of hulle die transaksie wil doen. Intussen is dit sooooo vreemd dat ‘n ryk sakeman so groot klomp geld oorhandig as hy nog nie besluit het of hy wil koop nie. As daar ‘n ooreenkoms was en een party presteer het, is die transaksie volbring. Gaan lees die reg. Die SARB en sy ondersoekers se kennis is gebrekkig. En politieke druk maak almal mos gebrekkig. Ramaphala lieg net soos ou zoemels. Hy is net gouer uitgevang as wat hy gedink het.

SwartBees ·

Kan op ‘n myl vêr sien hoe is die storie by die “fall guys” woord vir woord in hul koppe geprint.

Chris ·

Die nommer 1 publieke amptenaar/dienaar in ons land is ‘n krimineel.

JohanR ·

Agh ek is soe bly vir almal. Soos ek hier tik rol die trane. Dis soos ‘n Hallmark moment.

annie ·

En die ergste is Cyril wil, soos Biden, steeds aanbly en aanjok. Die hofsaak gaan hom afbring aarde toe want die stelers sal nie alleen wit sit nie. Die ware storie het ons nog nie gehoor nie. Nog erger is dat daar niemand op die horison is vir wie ons respek kan hê nie, maar almal van hulle voel dit is hul beurt om te beheer. As mens oor 5 jaar van hieraf wonder, krul jou tone van angs.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.