Pieter wen goud in Peru

Pieter Coetzé in aksie in Peru. Foto: Ernesto Benavides/AFP.

Dit mag dalk nog ’n bietjie ver in die toekoms wees, maar jy het nie ’n kristalbal nodig om te voorspel dat Pieter Coetzé een van Suid-Afrika se moontlike medaljewenners by die volgende Olimpiese Spele in 2024 kan wees nie.

Die 18-jarige Pretorianer het die goue medalje in die 200 m-rugslagitem by Fina se Junior Wêreldkampioenskap in Peru ingeoes toe hy water in sy teenstanders se oë met ’n wentyd van 1:56.05 gespat het.

In die proses het hy sommer Hugo Gonzalez se rekord van 1:56.69 verbeter en ’n nuwe persoonlike beste tyd in die item geswem. Sy vorige beste tyd was by die Statebondspele in Birmingham toe hy derde met sy tyd van 1:56.77 geëindig het.

Die jong swemmer het vroeër twee silwermedaljes (50 m- en 100 m-rugslag) in Peru ingeoes en hy het sommer ook die Afrika-rekord na 52.95 sekondes in die 100 m-item verbeter.

By die Statebondspele in Birmingham het hy ’n rits medaljes losgeswem en hy het veral met sy merkwaardige eindpogings beïndruk.

Die kersie op die koek was natuurlik sy briljante vertoning in die 100 m-rugslagitem toe hy met alle mag vorentoe gestrek het om die goue medalje voor Brodie Williams se neus weg te gryp.

In die 200 m-rugslagitem het hy vriend en vyand verras om van ’n sesde plek na die bronsmedaljewenner oor die finale 50 m te vorder.

“Ek het beslis dinge ’n bietjie te laat gelos, maar ek is baie tevrede met my medalje en ’n persoonlike beste tyd,” het hy in ’n destydse onderhoud met die TeamSA-webblad gesê.

Met swemmers soos Coetzé, Tatjana Schoenmaker, Lara van Niekerk en Matthew Sates is Suid-Afrikaanse swem beslis in goeie hande.

Uitslae:

  1. Pieter Coetzé 1:56.05
  2. Hidekazu Takehara 1:58.22
  3. Ksawery Masiuk 1:58.55
  4. Apostolos Siskos 1:58.89
  5. Filip Kosinski 2:00.76.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.