Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag eindelik met die president van Oekraïne, Wolodimir Zelenski, in gesprek getree oor die voortslepende konflik tussen dié land en Rusland.
Die gesprek kom weke nadat Suid-Afrika met die Russiese president, Wladimir Poetin, vergader het. Suid-Afrika het onder skerp kritiek deurgeloop nadat hy versuim het om Rusland se inval in Oekraïne in die openbaar te veroordeel.
Ramaphosa het op Twitter aangekondig dat hy ʼn telefoniese gesprek met Zelenski gehad het “om die konflik in Oekraïne en die tragiese tol wat dit geëis het te bespreek”.
Die twee presidente het ook die globale gevolge van die konflik – wat onder meer hemelhoë kos- en brandstofpryse tot gevolg het – bespreek.
“Ons stem saam oor die behoefte aan ʼn onderhandelde einde aan die konflik wat Oekraïne se plek in die wêreldwye voorsieningskettings beïnvloed het, asook sy posisie as ʼn groot uitvoerder van voedsel na ons eie vasteland,” het Ramaphosa gesê.
I had a telephone conversation with President @ZelenskyyUa of Ukraine to discuss the conflict in Ukraine and its tragic human cost, as well its global ramifications. pic.twitter.com/hDtGOJ56DU
— Cyril Ramaphosa ???????? (@CyrilRamaphosa) April 21, 2022
Ramaphosa het meer as ʼn maand gelede telefonies met Poetin vergader waarin hy Suid-Afrika se standpunt oor die konflik uiteengesit en gevra het dat die konflik deur middel van bemiddeling en onderhandeling opgelos moet word.
Ten spyte hiervan het Suid-Afrika tot dusver geweier om sy stem in te dien in twee hoëprofiel‑teregwysings van Rusland by die Verenigde Nasies (VN). Die VN se Algemene Vergadering het vroeër vandeesmaand Rusland uit die wêreldliggaam se Menseregteraad geskors as straf vir sy inval in Oekraïne.
Tientalle ander Afrika-lande het ook die geleentheid laat verbygaan om by die VN teen Rusland te stem.
Desnieteenstaande voer Ramaphosa aan dat Zelenski gesê het dat hy “in die toekoms nouer betrekkinge met Afrika verwag”.
Volgens die Afrika-unie (AU) se huidige hoof, die Senegalese president Macky Sall, het Zelenski reeds ʼn versoek ingedien om die AU toe te spreek.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
22 Kommentare
CR en die regering is so onkundig dat ek regtig nie kan sien hoe hulle enigsins van nut vir enige ander land kan wees nie.Ek sou nie eers my asem mors om met hulle te praat nie.
Hy ondersteun komunistiese lande en steun Rusland nou hoe nou?
Sal enige politikus wat sy sout werd is, na CR luister? Hy is ‘n hopelose leier wat sy eie land nie kan regeer nie.
mr zelenski , moet nie die leuns glo wat anc opdis nie ….
Weereens nie Suid Afrika maar die cANCer party se denke