Rentekoers + inflasie = gevaarligte

(Argieffoto: Maroela Media)

Die beste geskenk wat jy jouself dié Kersfees kan gee, is selfbeheersing en matigheid wat jou beursie betref.

Kenners sê gevaarligte flikker vir diegene wat reeds spook om hul skuld te delg. Die jongste rentekoersverhoging en meegaande inflasie beteken al hoe meer verbruikers moet uitgawes tot op die been sny bloot om te oorleef.

Die maatskappy DebtHealth maan boonop dat die situasie nie gou gaan verbeter nie. Martheli Kruger, ʼn prokureur by DebtHealth, sê inflasie hou aan toeneem weens stygende kos- en brandstofpryse asook hoër krag- en munisipale tariewe.

Werkers verwag dat hul salarisverhogings dié inflasie gaan teenwerk, maar dit is slegs moontlik as die pryse van produkte en dienste verhoog word.

“Hierdie sneeubal-effek vererger ongelukkig die skuldsituasie deurdat mense hul kredietkaartlimiet bereik,” sê sy.

“Die feestelikhede is hierdie tyd van die jaar aan die gang en dit begin soos Kersfees voel. Dit lyk dalk nou na ʼn maklike uitweg om selfs meer skuld aan te gaan, maar dit gaan die situasie ongelukkig net vererger.”

Volgens Kruger gaan Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsig nie gou na “normaal” terugkeer nie en inflasie gaan na verwagting eers teen die tweede kwartaal van 2024 begin stabiliseer. Intussen moet die Reserwebank stappe doen om die rand te beskerm, veral wat betref buitelandse beleggings.

“Jou persoonlike finansies is ʼn groot verantwoordelikheid en skommelings in rentekoerse en inflasie gaan jou nie in ʼn beter finansiële posisie plaas nie.”

Kruger sê mense moet dus hierdie feestyd “twee keer dink” voordat hulle geld uitgee en eerder gehaltetyd met hul gesinne koester.

“Gee jouself en jou geliefdes die geskenk van selfbeheersing en matigheid hierdie feestyd.

“Speel speletjies, sing saam, lees ʼn boek of kyk na Kersfeesflieks met springmielies op die bank en geniet die dinge wat geld nie kan koop nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Vonkprop ·

Net jammer dat die mense wat hierdie ekonomie veroorsaak het nie die pyn voel soos ons op die grondvlak nie. Nou moet ons planne maak vir oorlewing en afskaal oor Kersfees, maar hulle hou duur partytjies met alkohol en fynproewer etes. Hoop hierdie wiel draai vinniger. Ek het BAIE hard gewerk deur die jaar net om kop bo water te hou en nou kan ek nie eens ‘n vakansie bekostig nie te danke aan ons regering en die geldhonger wêreldleiers.

Tredoux ·

Moet nie bekommer nie. Maroela het berig die ekonomie is sterker nou as voor die Lockdown.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ja, ons kan nou geld spandeer, want volgende jaar is die ekonomie nog sterker.

Erik ·

En tog is daar ‘n groot groep mense wat heerlike lewens lewe. Was redelik onlangs in ‘n vliegtuig na ‘n eiland vakansie (eerste keer) en was verstom oor die groot hoeveelhede Afrikaners op die vlug en selfs by die oord op die eiland. Die een vliegtuig na die ander bring hulle in… Kon darm vir eenkeer bietjie ryk voel, maar daar is ‘n ander kant waar mense heerlik lewe.

Alida ·

Dit gaan inderdaad beter met mense wat nie skuld het nie en wat spaargeld het. Maar dit het ons baie, baie jare van noustrop trek, deur rentekoerse op ‘n huisverband wat bo 15% en aan die einde van die 1990’s selfs bo 20% gedraai het, en inflasie van 16% , geneem om by hierdie punt uit te kom. Dis maar vasbyt en rieme dun sny. Toe ons kinders klein en jonk was, kon ons ook nooit bekostig om met vakansie te gaan nie. Het maar by die huis vakansie gehou. Ons gaan steeds nie Desembermaande met vakansie nie want pryse is belaglik duur.

Johan ·

Nou waar val SatsSA uit met hul ontleding dat die ekonomie so sterk is soos voor die C19 regulasies katastrofe.

Koos 100 ·

Ek kan nie glo dat die rentekoers die enigste manier is om inflasie te beheer nie? Verhoogte rentekoerse maak mense se sakke platter, hulle kan minder koop, winkels moet pryse verhoog om aan die lewe te bly en so styg inflasie. Wel dis hoe ek dit verstaan. ‘n Kringloop uit die bose!

Pierre ·

Koos ek stem 100% saam met jou, rentekoers verhoog inset kostes wat inflasie op jaag, om die ekonomie te stimuleer moet rente koerse daal, maar spandeerbare geld word in die mark gesit wat produksie verhoog, wat lei tot laer werkloosheid wat meer belasting beteken, wat meer geld in die regering se sakke sit wat veroderstel is om infrastruktuur te verbeter wat tot meer besigheid lei en die siklus groei en groei, maar vir een of ander rede word gegloo om inflasie te beheer moet geld uit die mark geneem word in n land wat reeds buig onder werkloosheid.

annie ·

Moenie worry nie. Die sittejasie is onder beheer. Ons kan nog baie ekstra vakansiedae bekostig en daai ou foto bo van ons ou geld is binnekort ounuus met die nuwe blinkes wat in kasregisters klingel… Ongelukkig nou nie ou dollarnote nie (wat altyd eers in sitbanke moet rus), maar ons sal maar tevrede wees… soos ons altyd met alles is wat die ANC aanvang. Heil Cyril!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.