Rugby kan selfs veiliger as draf wees

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Al/Unsplash)

Nuwe data oor die hoeveelheid krag wat op rugbyspelers se koppe uitgeoefen word tydens ʼn wedstryd of oefening, moet volgens Wêreldrugby ouers en jong atlete gerusstel oor die veiligheid van dié sport. Dit geld veral vir amateurspelers.

Die nuwe studie het bevind dat die impak wat amateurrugbyspelers tydens ʼn wedstryd of oefening ervaar, dieselfde of selfs minder kan wees as wat ʼn drawwer voel wanneer hy oefen. Dis nou as almal presies volgens die reëls speel, nie enige gevaarlike duikslae uitoefen nie en alle spelers mondskerms dra.

ʼn Uitbreiding van die studie onder professionele spelers, wys boonop dat die hoeveelheid krag wat tydens impak op dié spelers se koppe uitgeoefen word, ook nie noodwendig noemenswaardig hoef te wees nie.

Albei studies het slimmondskerms gebruik om die kragte wat spelers tydens wedstryde en oefensituasies op hul koppe ervaar, te verstaan. Die mondskerms meet die kragversnelling of swaartekrag tydens wedstryde met behulp van tegnologie wat onafhanklik in navorsingslaboratoriums geverifieer is.

Die eerste studie is deur die Otago Rugby Community Head Impact Detection (Orchid), in samewerking met Wêreldrugby, Nieu-Seeland Rugby, Otago Rugby, die Universiteit van Otago en Prevent Biometrics, onderneem. Dit het 17 000 afsonderlike gevalle van impak op jong rugbyspelers se koppe gemeet. Meer as 300 spelers tussen die ouderdom van 13 en 22 jaar het aan die studie deelgeneem.

Die tweede studie was ʼn uitbreiding van die eerste een, om professionele spelers in al nege internasionale rugbyunies in te sluit en het onderneem om “ ʼn volledige prentjie te skets van hoe dit werklik is om rugby te speel”.

Dié studie moes bepaal watter risiko’s met kontakgebeurtenisse op professionele vlak verband hou.

Die bevindinge in die Orchid-studie het daarop gedui dat 86% van die kragte wat tydens die spel op spelers se koppe gemeet is, dieselfde of minder is as wat ervaar word wanneer algemene oefeninge soos hardloop of touspring gedoen word.

Altesame 94% van die kragte wat spelers op hul koppe ervaar het, was selfs laer as dié wat voorheen gemeet is op mense wat ʼn tuimeltrein ry.

In gevalle waar die kragte die sterkste was, was dit as gevolg van swak tegniek tydens ʼn duikslag.

Die bevindinge het ook aangedui dat sterker kragte op voorspelers se koppe uitgeoefen word, as op agterspelers s’n. Dit is waarskynlik omdat hulle meer gereeld aan kontakgebeurtenisse blootgestel word.

Grafika

In die studie oor professionele rugbyspelers het die bevindinge gewys dat die meeste kontakgebeurtenisse tydens wedstryde nie tot “enige noemenswaardige kragte op die kop lei nie”. Dit ten spyte van die feit dat impakte baie hoër tydens wedstryde is, as tydens oefeninge.

Die meeste lae, medium- en hoë kragte op spelers se koppe word gemeet tydens ʼn duikslag of losskrum.

“Hierdie data, tesame met die onlangse navorsing oor die gesondheidsvoordele van rugby, skets ʼn vollediger prentjie van hoe dit is om ons sport te beoefen,” sê dr. Eanna Falvey, Wêreldrugby se mediese hoof.

“Hierdie studies help ons om die oorsake van verskillende impakte op spelers se koppe te verstaan en die nodige veranderinge aan te bring om die spel veiliger te maak.”

Wêreldrugby het reeds die bevindinge van albei studies gebruik om slimmondskerms te implementeer om spelers teen kopbeserings te help beskerm. Die slimmondskermtegnologie word gebruik om dokters langs die veld bewus te maak van moontlike harsingskudding.

Hierdie tegnologie sal vanaf Januarie by Wêreldrugby se kopbeseringsbeoordelingshandleiding geïntegreer word.

“Ons doel as navorsers is om ʼn betekenisvolle impak deur ons werk te maak. Daarom is ons baie bly om te sien dat ons werk geïntegreer is in nuwe strategieë en riglyne wat ontwerp is om spelerveiligheid te verbeter,” sê dr. Melanie Bussey, medeprofessor in biomeganika aan die Universiteit van Otago in Nieu-Seeland.

“Ons glo dat slimmondskermtegnologie geweldige potensiaal inhou om spelers se veiligheid en prestasie-analise in rugby te verbeter en bevorder. Ons navorsing het deure oopgemaak vir ʼn magdom insigte, en ons is daartoe verbind om hierdie innoverende veld verder te verken.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.