100 dae van elektrisiteitsminister; 99 dae van beurtkrag

Minister van elektrisiteit, Kgosientso Ramokgopa (Foto: Twitter)

Terwyl dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, op 15 Junie sy 100ste dag in die amp vier, vier Suid-Afrika egter die meeste beurtkrag nóg in ʼn enkele jaar. Ramokgopa het op 7 Maart vanjaar die amp opgeneem ná pres. Cyril Ramaphosa se skepping van dié pos tydens sy staatsrede die vorige aand.

Meeste beurtkrag nóg

Uit die 100 dae van Ramokgopa in die amp, het Suid-Afrika 99 dae van beurtkrag verduur – met net ʼn enkele beurtkraglose dag op 21 Maart.

Sedert die begin van die jaar het Suid-Afrika sowat 3 711 uur – of 154 aaneenlopende “dae” beurtkrag – ervaar. Dit beteken die regering het vir minstens 94% van die totale ure van vanjaar Suid-Afrikaners se krag afgeskakel. Dit beteken ook dat Suid-Afrikaners sedert die begin van die jaar net 6% van die tyd Eskom-krag gehad het.

Die ergste beurtkragjaar voor 2023 was in 2022, toe die krag net meer as 40% van die tyd af was.

Binne die volgende week behoort Suid-Afrika reeds meer ure beurtkrag te verduur het as in die ganse 2022.

(Grafika: Maroela Media)

Só ook was daar nog net een dag van die jaar waarop geen fase van beurtkrag toegepas is nie:  ʼn drastiese toename in beurtkragaanhoudendheid in vergelyking met vorige jare.

(Grafika: Maroela Media)

In hierdie opsig was Ramokgopa dus nog geen ligpunt in Suid-Afrikaners se lewens nie.

Magte laat toegeken

Ramokgopa het egter eers op dag 80 gehoor wat die omvang van sy magte behels. Op 26 Mei het Ramaphosa te kenne gegee dat artikel 34(1) van die Wet op Elektrisiteitsregulering die strekking van Ramokgopa se magte uitstippel.

Dié artikel, wat tot dusver by Gwede Mantashe, minister van minerale en energiehulpbronne berus het, handel oor nuwe opwekkingskapasiteit. Ingevolge hiervan het Ramokgopa die mag om, in oorleg met die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa), te bepaal wanneer nuwe opwekkingskapasiteit nodig is, asook uit watter energiemengsel dié krag opgewek moet word.

Minister Kgosientso Ramokgopa deel meer oor sy besoeke aan al 18 van Eskom se kragstasies (Foto: Twitter)

Ramokgopa vervul gevolglik grootliks ʼn oorsigrol deur toesig te hou oor die reaksie op die nasionale elektrisiteitskrisis, spesifiek die uitvoer van die energie-aksieplan en die werksaamhede van die Nasionale Energiekomitee.

Ministeriële magstryd duur voort

Ramokgopa se magte is in die groter energielandskap egter steeds beperk en die ministeriële magstryd oor die elektrisiteitskrisis duur voort.

Hoewel Ramokgopa elektrisiteitsbehoeftes kan bepaal en koördineer, is hy steeds nie in beheer van inwerkingstelling en verkryging van opwekkingskapasiteit nie. Mantashe bly in beheer hiervan met die Onafhanklike Kragprodusentekantoor wat steeds uitvoering beheer.

Minister Kgosientso Ramokgopa besoek die Kusile-kragstasie (Foto: Twitter)

Voorts bly Mantashe in beheer van energiebeleidmaking, wat insluit langtermynbeplanning, regulering, brandstofprysbepaling, pypleiding en lisensiëring – elemente noodsaaklik in die privatisering van die elektrisiteitslandskap.

Ramokgopa word ingevolge hiervan in staat gestel om die korttermynversnelling te bepaal, met ministers Mantashe en Pravin Gordhan (openbare ondernemings) wat steeds langtermynroetebepaling beheer.

Groot media-oomblikke

Met magte wat laat in die stryd eers toegeken is, het Ramokgopa egter gou met die gemeenskap- en sakesektor, asook buitelandse politieke leiers, vergader om te bepaal hoe rolspelers saam kan kom om die kragkrisis op te los. By verskeie groot mediageleenthede het hy rolspelers ontmoet.

Minister van elektrisiteit Kgosientso Ramokgopa besoek alle Eskom kragstasies (Foto: Twitter)

Hy het onder meer vergader met die Chinese ambassadeur na Suid-Afrika, die Mosambiekse minister van minerale en energie, Business Unity SA, die Black Business Council, Mercedes-Benz, Volkswagen, Isuzu, Nissan en Toyota. Die minister het ook besoek afgelê aan die private beroepsopleidingskollege Sol-Tech vir ʼn gesprek met Solidariteit oor die elektrisiteitskrisis.

Verder het Ramokgopa oor die verloop van twee weke al die Eskom-kragsentrales besoek om hom van die stand van sake daar te vergewis.

Minister Kgosientso Ramokgopa besoek Kriel- en Duvha-kragstasies (Foto: Twitter)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

JvR ·

Tog is die beurtkrag ure minder? Maar wie tel nou. Ek glo buitendien al laaaankal nie meer die onderhoud storie nie

Johanncb ·

Siende dat die Agbare Minister nou gekend is met die situasie, wanneer sien ons positiewe aksie?

Althes ·

Teen sy enorme salaris wat ons brlastingbetalers betaal, moes ons al wonderwerke gesien het, nê.

Stofdonkie ·

Verwag jy om enige positiewe aksies te sien uit iets wat onder die anc aangestel is?

Kiewiet ·

Ek sal daarvan hou om te weet wat mnr elektrisiteit se salaris is en hy wou v Mnr De Ruyter gewys het hoe word dinge gedoen!?!?!..en nou wat nou!!

Stofdonkie ·

R485,000 per maand. Dis hoekom hy so min doen, want as daar nie meer probleme is by eskom nie gaan hy nie meer benodig word nie en gaan hy nie meer die salaris verdien nie.

Andries ·

Behalwe Al di byvoordele soos kragopwekker, diesel, voertuig net dienste en brandstof – byna R7000 per dag… (R2,4 mil per jaar)

Althes ·

Die ANC het nog altyd net wanpresteer. Hulle is ñ joke vir demokrasie, welvaart en werkskepping. Hul moet ñ toekenning kry vir Vrotste Regeerder van ñ Land.

Martin ·

Hy gaan definitief nie Eskom se probleme oplos nie. Hy kan solank sy boek begin skryf.

JvR ·

Die vorige een het ook begin boek skryf laaaaank voor hy die hasepad gekies het

Manie ·

Kom nou, wanneer dop die name van die saboteurs uit, dit gons al oral. Het sy nou weggehardloop?

Cabous like braai ·

Lekker lag ek nou………nee eintlik moet ek huil ons belasting geld wat gemors word…..en dit net dat nog n onbevoegde een n salaris verdien wat 10 keer myne oorskry

JvR ·

Vergeet die mense dat ons die eerster maal fase ses gehaal het onder deR?

Wondermaarnet ·

Hy is soos Cele. Wil die titel en salaris hê, maar is nutteloos.

Kokerboom ·

Hy is ‘n ” square peg in a round hole”!Hy is totaal uit sy diepte! “n Siviele ing wat swaarstroom elektriese ingenieursveld betree!!’n Koordinerende elektriese ingenieursbestuurder en nie nog ‘n minister was nodig. Jan Oberholster kon na aftrede die funksie verrig het!!!

annie ·

Wat het die man tevore gedoen wat hom sy aanstelling laat verdien het? Mantashe is steeds die grootbaas wie se planne geensins aangetas sal word nie. Sy atoomkragstasies is nog op die tafel en die marxistiese beheer oor alle wat beplan word is steeds sy baby. ‘n Uitval tussen die twee kaders kom nog. Mantashe glo hy het Cyril se lewe gered tov Phaala en die president skuld hom big time.

Johan ·

Ek vat nie n kant nie, maar sal die agbare kommentators wat de Ruyter se naam noem in n positiewe lig, asof hy n verskil gemaak het vir die positiewe, asb uitdruklik sê waar presies hy n positiewe verskil gemaak het gedurende sy bestuur van ESKOM?

Eugene ·

Nou gaan dit eers sleg met loadshedding. Julle fire de Ruyter, maar dit gaan oor velkleur, nie kennis nie.

Andries ·

Ek bly buite Pretoria en koop krag direk van eskom. Daar is n rits ‘vaste kostes’ PER DAG op my maandelikse rekening. Ons gebruik minder as 400 kwh per maand maar as ek die Totale rekening hiermee deel, kos 1 kwh my R8.80. Ons is deur tye van tot 10.5 uur beurkrag Per dag – maar steeds moes ek n vol dag aan eskom betaal… Dit klink nie net so nie – dit ís boere verneukery!

Papsak ·

Krag nou eers pateties regtig hy gaan niks reg kry nie hy ontvang net vet pay dis al shame ne

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.