11 in hof oor Parys-betogings

[Foto: Verskaf]

Altesaam 11 mense sal na verwagting Woensdag in die landdroshof in Parys in die Vrystaat verskyn in verband met gewelddadige betogings op die dorp.

Die 11 word aangekla van openbare geweld nadat betogings Maandagoggend in Parys uitgebreek het.

Volgens sers. Sinah Mpakane, polisiewoordvoerder, is vier mense, drie vroue en een man, Maandag tydens die betogings in hegtenis geneem. Nog sewe verdagtes, vyf vroue en twee mans, is vandag [Dinsdag] in die Tumahole-nedersetting in Parys in hegtenis geneem.

Betogers het Sondagmiddag reeds JoJo-tenks in die Tumahole- en Schonkenville-nedersetting gebrand en teen Maandagoggend die strate van Parys ingevaar.

Betogings het deurnag in Tumahole voortgegaan en betogers het Dinsdagoggend weer die dorp binnegestroom.

Volgens Mpakane was die op in die dorp teen Dinsdag vroegmiddag rustig, maar betogings het nog in Tumahole voortgegaan.

“Winkels is geplunder en die pad tussen Tumahole en Parys is versper,” sê Mpakane.

Soos vroeër berig het inwoners oorgegaan tot protesoptrede omdat hulle keelvol daarvoor is dat hulle alewig sonder water sit, en indien daar wel water is, is dit vuil.

“Hulle het reeds op 7 Desember verlede jaar ʼn memorandum – waarin hulle hul griewe uitspreek oor die waterkrisis – aan die munisipaliteit oorhandig. Hulle was egter nie tevrede met die munisipaliteit se reaksie op die memorandum nie.”

[Foto: Verskaf]

Die VF Plus het intussen ʼn skrywe aan die premier van die Vrystaat, Sisi Ntombela, gerig waarin aangedring word op dringende ingryping in die voortslepende waterkrisis in Parys. Dié krisis het daartoe gelei dat klinieke, hospitale en skole in die gebied reeds vir drie weke aaneenlopend sonder water is.

In reaksie op die VF Plus se skrywe het die premier bevestig dat die nasionale departement van water en sanitasie genader word om hulp te verleen ten opsigte van die waterkrisis.

Sy het onderneem om te versoek dat watertenkwaens in Parys, Skonkenville en Thumahole beskikbaar gestel word en sê die weermag is ook genader om hulp te verleen.

“Die VF Plus versoek al vir jare dat die water- en kraginfrastruktuur van die Ngwathe-munisipaliteit dringend opgegradeer en in stand gehou word. Dit het tot ʼn jammerlike toestand verval,” sê Tammy Breedt, VF Plus-raadslid en kiesafdelingshoof van die Ngwathe- plaaslike munisipaliteit.

(Foto: Verskaf)

“Kragonderbrekings weens beurtkrag word vererger omdat vervalle infrastruktuur dikwels met die gereelde aan- en afskakel van elektrisiteit onklaar raak. Dit lei tot watertekorte omdat die reservoirs nie voldoende volgepomp kan word nie.

“ʼn Humanitêre krisis het nou ontstaan, wat growwe menseregteskendings veroorsaak.”

Betogers het die burgemeester van die Ngwathe- plaaslike munisipaliteit, Victoria de Beer, se ma se huis Maandagmiddag aan die brand gesteek. Hulle het ook die munisipale gebou aan die brand gesteek en ander strukture vernietig. Twee winkels van buitelandse burgers is ook geplunder.

Verder is bande gebrand en paaie met klippe versper.

Die polisie doen ʼn beroep op enigiemand met meer inligting wat tot nog inhegtenisnemings kan lei, om lt.kol Juanita van Rensburg by 082 564 9622 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Burgermeester ·

So as ek reg verstaan, die mense betoog omdat hulle keelvol is dat hulle alewig sonder water sit, en indien daar wel water is, is dit vuil. Maar in die proses vernietig hulle Jo-Jo tenks? Die logika maak mos nou nie sin nie, of verstaan ek dit verkeerd?

Jakes ·

Ek stem nie saam met vernietiging van eiendom nie, maar hierdie mense kry rivier water in Jojo tanks wat ‘n tender is van die burgemeester se pal. Daar word miljoene en miljoene gesteel! Sy bly in weelde, nie eers Parys nie! Sy’t’ n paar eiendomme wat miljoene werd is! Sy maak alewig leë beloftes en lieg blatant vir die kamera! So oorweeg u antwoord en oordeel!

TruthDealer ·

Ja dis maar n moeilike een die. Aan die een kant verstaan ek die gemeenskap se woede en desperaatheid. Maar om JoJo tenks te verbrand gaan nou ook nie water verskaf nie. Dis haglike omstandighede om in te leef, kan ek my voorstel. Mens is deesdae bevoorreg as jy in n plek woon waar jy darem meeste van die tyd water het, lyk dit my. Nie meer iets om as vanselfsprekend te aanvaar nie.

Vriendelike Frikkie ·

Ek deel hulle frustrasie. In die wêreld waarvoor die inwoners betaal hoef daar nie Jo-Jo tenks te wees nie. Die water sal skoon en in die krane wees. Huidiglik is dit so vuil jy kan nie eers ‘n hond daarin bad wanneer dit wel eendag uit die kraan uitkom nie. Kom ons hoop hierdie frustrasies maak dat hulle tweekeer sal dink wanneer daar weer gestem word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.