Betogers brand burgemeester se ma se huis af

Die burgemeester van die Ngwathe- plaaslike munisipaliteit, Victoria de Beer, se ma se huis is Maandagmiddag in Parys deur betogers aan die brand gesteek [Foto: Verskaf]

Inwoners wat Maandag die strate in Parys in die Vrystaat ingevaar het oor die eindelose waterkrisis in die dorp, se woede het kookpunt bereik toe hulle die huis van die burgemeester se ma afgebrand het.

Die woede het intussen ook na Kroonstad, minder as 100 km van Parys, oorgespoel.

Die burgemeester van die Ngwathe- plaaslike munisipaliteit, Victoria de Beer, se ma se huis is Maandagmiddag in Parys deur betogers aan die brand gesteek.

[Foto: Verskaf]

Volgens sers. Sinah Mpakane, polisiewoordvoerder, het betogers ook die munisipale gebou aan die brand gesteek en ander strukture vernietig. Twee winkels van buitelandse burgers is ook geplunder.

“Die polisie het gevolglik vier mense, drie vroue en een man, in hegtenis geneem vir openbare geweld,” bevestig Mpakane.

Soos vroeër berig, het betogers Sondagmiddag reeds JoJo-tenks in die Tumahole- en Schonkenville-nedersettings gebrand en teen Maandagoggend die strate van Parys ingevaar.

Hulle het eers na die munisipale geboue en waterwerke opgeruk en daarna die dorp binnegestroom, waar hulle bande gebrand en paaie met klippe toegepak het.

Die inwoners het oorgegaan tot protesoptrede omdat hulle keelvol daarvoor is dat hulle alewig sonder water sit, en indien daar wel water is, is dit vuil.

Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, sê die betogings het deurnag in die Tumahole-nedersetting voortgegaan. Betogers het Dinsdag omstreeks 06:00 na die dorp se industriële gebied opgeruk en daarna weer in die dorp versprei. Hulle het ook weer die R59-pad by die ingang na Parys van Sasolburg se kant af, versper.

Skole is Dinsdag steeds gesluit weens die betogings.

Mpakane sê daar is van Maandag af ’n swaar polisieteenwoordigheid in die dorp.

Chaos het Maandag ook in Kroonstad geheers toe ’n groot groep inwoners ’n optog in die dorp gehou het. Die inwoners is ontevrede oor algehele swak dienslewering in die dorp.

Die inwoners het na die Moqhaka- plaaslike munisipaliteit se kantore opgeruk om ’n memorandum aan die burgemeester te oorhandig, waarin hulle hul griewe uitspreek oor die onbehoorlike voorsiening van water, sanitasie en wonings, asook hoë elektrisiteitskoste, slaggate, gebrekkige jeugontwikkeling en werkloosheid in die dorp.

Die inwoners het die burgemeester sewe dae gegee om op hul memorandum te reageer.

Volgens Gabrie Grobbelaar, voorsitter van AfriForum in Kroonstad, het inwoners – nadat die memorandum oorhandig is – amok in die dorp gemaak deur asblikke om te gooi, bande te brand en paaie met die brandende bande te versper.

Van die ondernemings op die dorp was genoop om hul deure te sluit.

“Daar was polisie teenwoordig en veiligheidsbeamptes op die toneel om die situasie te monitor,” sê Grobbelaar.

Teen omstreeks 14:00 was die situasie egter rustig en die strate leeg.

“Afgesien van die gemors in die strate is daar geen noemenswaardige skade aan geboue of infrastruktuur aangerig nie.”

Die strate was teen Dinsdagoggend nog rustig, maar Grobbelaar sê inwoners moet steeds op hul hoede wees.

Die Vrystaatse premier, Sefora Ntombela, het Maandagmiddag ’n beroep gedoen op kalmte in Parys en Kroonstad. Hy het ook inwoners, veral leiers van die protesoptogte, gevra om te verseker dat dissipline te alle tye gehandhaaf word om infrastruktuur te beskerm.

“Hoewel inwoners die reg het om te betoog, moet die regte van ander inwoners ook gerespekteer word,” sê Ntombela.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Annelize ·

Goeie genade!!! Nou vir wat die Ma se huis afbrand???

Ek myself het vanmore alle selfbeheersing en varkies verloor oor swak dienslewering, of die totale gebrek daaraan, hier in Rustenburg. Maar goeie genade, ek gaan mos nou nie Pietie, vir wie ek kwaad is, se skoonsus se oorlede tannie se niggie se huis daaroor afbrand nie!

Geen maar geen gesonde redenasie vermoe nie, die dat kruisies jaar na jaar na jaar net op een plek getrek bly word.

Lee ·

Die ironie is dat die brande wat hulle gestig het juis oor die water tekorte waarskynlik nie geblus kon word nie omdat die selfde water nie beskikaar was nie!

Reinette ·

Neee genade tog.. Hul besef nog nie dt is die mense vir wie hul stem nie.. Gaan na hul wonings of parlement en vra vir hulle… Dt help nie jul breek af nie.. En brand ander mense se eiendomme nie.. Maar alles word mos so gedoen.. Verskoning om te verniel…ASHOOP LAND!!!!!!!

Misky ·

Brand, verniel en verwoes alles tot daar net stof oor is. Al wat die ANC en hulle volgers goed kan doen.

anko ·

Die ironie is dat hulle vergeet daar is nou nog minder fondse beskikbaar agv gebrande “goeters” (want dis seker hoe dit gesien word ipv geboue) wat weer opgebou moet word.

domheks ·

“om die situasie te monitor,” – dit is ook al wat ons polisie kan/wil doen – MONITOR! Is julle bang vir die betogers? Of keur julle dit maar net goed?

Waarom ·

Al taal wat anc se ondersteuners verstaan. Breek, brand, plunder, mors en versper paaie. Hoe meer hoe groter die nuus dekking. Die polisie monitor net en doen niks aan die onskuldige mense wat geraak word deur die betogers nie.

Johanncb ·

En nou, nadat die skade aangerig is, gaan dienslewering nóg langer neem!

anko ·

dit was eers teen slakkepas maar nou gaan dit al teen ‘n stink spoed

Kokkies ·

Daar waar die bande gebrand is, oor n paar maande word dit slagate, wat die teer kan nie daai hitte hanteer nie. Die teer is nou beskadig

LANA is ELANè ·

Ek kan nou maar eenmaal net nie die rassionaal agter sulke optrede verstaan nie. Ek stem, ons moet opstaan vir ons regte in die vorm van optogte ens maar moet onskuldige mense se eiendom daaronder ly? Moet infrastruktuur vernietig word, gaan intimideer die pesone verantwoordelik, die ANC, en los die res uit.

anko ·

soms kry mens die idee dat hulle weet nie wie die verantwoordelike persone is nie

Marcello ·

Ek sê nie dit is reg nie, maar wragties as ek vir 5 jaar nie water in my krane het nie, sal ek ook protesteer. Dit is vir my wreed, hoe bestaan mens sonder water, dit is ontneming van hulle mensereg, om nie water te verskaf nie.

Christine ·

Protesteer ja, maar so vernietigend optree en nog meer skade aanrig. Geen wonder Afrika lyk soos hy lyk nie. Hulle kan maar net nie opbou nie, van bo tot onder vernietig hulle.

Nie Verbaas ·

Hoe kan jy hulle vra om dissipline te handhaaf? Julle, Sefora Ntombela is onbevoeg en hopeloos en julle mense kan mos niks vermag as dit nie geplunder, beskadig of gebrand word nie. Hoekom huil jy? Omdat dinge nie verloop soos jy wil hê dit moet nie? Nuttelose gemors.

Casper ·

En daai brandbestrydingsvoertuig is hopeloos te lig om die tipe brand te blus.Seker nie genoeg water vir ‘n lorrie nie.Die skoonma het niks daarmee uit te waai nie.

Jacobus ·

Ek het dan gedink Kroonstad is die dorp vandie jaar. En nou?

Cannamom ·

Ek self woon in Parys…hierdie water tekort het breekpunt bereik. Eerstens beweer ons burgermeester, op sosiale media, daar is nie water tekort nie, die inwoners vertel leuens. Tweedens is ‘n persoon betrap waar hy rivier water in die water tenk pomp, en dit is die water wat in die JOJO tenks ingepomp word. Natuurlik het dit die gemoedere ontlont. Ons geagte burgermeester is nèrens te sien nie. Elke boodskap van haar word nou met agterdog bejeën. Mense moenie alles glo wat op sosiale media versprei word nie, kom praat met die inwoners wat die waarheid sal vertel oor wat hier aangaan. Jy kan op ‘n Vrydag kom kyk , die munisipale kantore is leeg..niemand weet waar is iemand nie…net die leë kantoor.

Danie ·

Wel genoeg is genoeg.Geen stem gaan die cancer verwyder nie kyk net na hul getalle.

Christine ·

Dis hoekom Afriforum en Solidariteit sê ons moet self opbou wat ons wil hê en glad nie afhanklik van die staat wees nie. Laat die regering maar hulself en hul mense vernietig.

Papsak ·

Hou op stem vir die ANC regering en julle sal skoon water en krag he nou plunder en brand julle onskuldige mense se plekke en dorpe wat julle niks gedoen het nie af maar so redeneer our people hulle wil alles met geweld reg kry en dit werk nie so nie jammer kry die ANC uit

Johann ·

Maar stem vir hulle redders in swart BMW’s, stem hulle elke jaar. En brand en breek en demand elke keer as iemand ‘n spare tyre te skenk het.

Kyk na die foto van die twee oumas wat die matras aan die brand steek. Lyk asof hulle praktiese indiens opleiding gee aan die twee jongelinge wat staan en kyk?

Casper ·

Hierdie kwessie in Parys kom nou al ‘n lang pad.Wens ek het geweet wat regtig daar aangaan.Van waar kry Parys water vandaan.Kan jy die mense kwalik neem wat in opstand kom,nee hulle doen dit net op die verkeerde manier.Hulle moet dit by die stembusse regstel.

Andre ·

Hierdie is nie plaaslik nie, ook nie beperk tot die land nie. Wie “tel” die stemme? Of liewer, wie bepaal die uitslag?

Eugene ·

Ek lag vir daai brand besstrydings voertuig. Hoe de hel moet daai vuur geblus word???? Dis n’ huis wat brand, nie n’ stuk papier nie. Elk geval, op die video klink dit of daai generator uit petrol uit gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.