13 huise brand by Mabalingwe

13 huise het teen Sondagmiddag by Mabalingwe afgebrand. (Foto: Facebook/ Thinus Smit)

Minstens 13 vakansiehuise het Sondag vroegmiddag al by Mabalingwe-wildreservaat buite Warmbad in Limpopo afgebrand. Dít nadat ʼn veldbrand Saterdagmiddag op ʼn berg langs dié reservaat uitgebreek het.

Die reservaat is Sondagoggend al ontruim en teen 13:00 was die oord besig om die laaste gaste uit die oord te verwyder.

“Geen lewensverlies is tot dusver aangemeld nie, maar die brand is nog geensins in bedwang nie,” het Jee Dee Cloete, VF Plus-wyksraadslid in Bela-Bela, aan Maroela Media gesê.

Die brandlyn strek sowat 23 km en volgens Cloete is tientalle brandweerspanne en ʼn helikopter aktief besig om die brand te bestry. Sowat 200 brandbestryders was teen Sondagmiddag nog op die toneel.

“Die brand het reeds na omliggende plase versprei. Omdat dit in die berge brand, is dit moeilik om by die vlamme uit te kom. Ons hoop die bestryding vanuit die lug sal nou help.” Hy sê die brand het reeds na omliggende plase versprei.

Die gemeenskap is nie heeltemal seker hoe die brand ontstaan het nie. Dit het na bewering op ʼn privaat plaas ontstaan en is deur sterk winde aangedryf. Die spanne verwag boonop nog sterker winde later vandag.

“Ek wil wel net ook dankie sê vir Warmbad se sakekamer en gemeenskapslede wat binne ʼn paar uur twee ton water en koeldrank, asook 180 etes vir die brandbestryders ingesamel het. Hierdie ouens werk nou al sedert gistermiddag om die vuur te probeer blus en hulle is gedaan.”

Die Zebula-gholflandgoed langs Mabalingwe het Sondag in ʼn plasing op hul Facebook-blad gevra dat besoekers nie dié naweek enige oop vure maak nie. “Die huidige winderige en ongelooflik droë toestande skep ʼn hoë risiko vir die ontstaan van gevaarlike veldbrande.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.