13-jarige lemnaeler skop stof op by SA’s

Simphiwe het goud in die 100m, 200m en spiesgooi by die nasionale atletiekkampioenskapvir gestremdes. (Foto: Verskaf)

ʼn Jong lemnaeler van ʼn plaasgemeenskap in die Vrystaat het rede om van oor tot oor te glimlag.

Die 13-jarige Simphiwe Ditshaba het verlede naweek koning gekraai in die 100 m-item by die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap vir gestremde atlete in Bloemfontein. Hy het die wedloop in net 16,82 sekondes gehardloop. ʼn Persoonlike beste.

ʼn Besonderse prestasie, veral as jy in ag neem dat hy nog net ʼn paar maande met sy lemme hardloop.

Simphiwe, ʼn leerder aan die Hoërskool Sandveld in Wesselsbron, onthou nog goed hoe sy naam ná afloop van die item verlede naweek oor die Mangaung-stadion in Bloemfontein weergalm het.

“Simphiwe! Jou doring!”

Hy het ook aan die 200 m- en spiesgooi-items deelgeneem. Hy het die 200 m gewen deur dit in 36 sekondes te hardloop en sy eie rekord met die spiesgooi verbeter deur 12,77 m ver te gooi.

Ditshaba het in Augustus 2023 sy lemme by dr. Frans Kleinhans van Bloemfontein gekry, ná verskeie fondsinsamelingsprojekte om daarvoor te betaal.

Van daar af moes hy leer hoe om die sport te benader. Dit was die eerste keer dat hy weer aan sport kon deelneem sedert hy albei sy bene, regtervoorarm en dele van sy linkerhand weens septisemie moes laat afsit. Hy was maar sewe jaar oud.

Simphiwe Ditshaba hardloop die 200m. (Foto: Verskaf)

Die Vrystaatse atletiekkampioenskapsreeks was eerste in sy visier en so het hy sy pad tot die Suid-Afrikaanse kampioenskap oopgeveg.

Asof dinge nie reeds moeilik genoeg was nie, het Simphiwe kort voor die Suid-Afrikaanse kampioenskap griep opgedoen en hy kon vir drie weke nie oefen nie. Sy regterkantste lem het boonop die gees gegee. Saam met dr. Kleinhans het hulle toe ʼn plan beraam en ʼn plaasvervangerlem is vanuit Ysland ingevoer.

“Met die Here se genade” het hy net-net herstel om tog verlede week deel te neem.

“Ek het duidelik opdrag gekry dat ek nie voor Simphiwe se wedren my stem mag dik maak nie,” vertel Lizelle Olivier, Simphiwe se mentor, tong-in-die-kies.

Simphiwe en Olivier se paaie het in 2018 by die Bongani-streekshospitaal in Welkom gekruis, waar hy besig was met sy rehabilitasie. Sy het haar oor hom ontferm en hom sedertdien bygestaan om sy droom te bewaarheid. Sy is ʼn onderwyseres by Hoërskool Sandveld.

Ouma Selina het haar kleinseun verlede week vir die eerste keer in aksie gesien.

“Ek het my ouma trots gemaak!”

Simphiwe is in 2018 met breinvliesontsteking in die hospitaal opgeneem. Hy het in die hospitaal septisemie opgedoen en dokters het die nuus van veelvoudige amputasie aan hom gebreek.

Dit het hom egter nie gestuit om sy drome op die sportveld na te streef nie.

“Ek wil soos [die 100 m-kampioen Usain] Bolt wees! Ek wil sy tyd in die 100 m verbeter.”

Simphiwe ontmoet sy held, Siya Kolisi. (Foto: Verskaf)

Simphiwe het in Februarie sy rugbyhelde, Siya Kolisi en Duane Vermeulen, ontmoet by ʼn geselligheid wat MTN vir gestremde sportlui in Johannesburg gehou het. Hy is as ʼn inspirerende atleet van die jaar genooi.

Die Springbokreuse het vir kom ʼn getekende trui gegee.

Tydens die geleentheid het Simphiwe ʼn donasie ontvang wat hy in ʼn rekening bêre vir as ʼn lem die gees gee of hy ʼn opvolgafspraak by die dokter moet maak.

Hy is ook glad nie skaam om oor sy omstandighede of gestremdhede te gesels nie.

“Enigiemand kan ʼn Simphiwe wees. As jy die regte kopskuif doen, glo ek alles is moontlik.”

Voor Simphiwe sy lemme gekry het, het hy op die onderkant van sy bene, waar die amputasie gedoen is, rondbeweeg. Hy kan egter nie die lemme permanent dra nie en loop nog met sy “olifantpote”, soos hy daarna verwys.

Dit is al vir Simphiwe soos tweede natuur.

By die skool help sy maats, Herman Botes en Nyakallo Tsai, graag om sy tas oor die skoolterrein rond te stoot.

Een van dié gr. 7-leerder se vakke is musiek, waar Simphiwe sy liefde op die klawerbord uitleef.

Ná afloop van die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskap het Simphiwe die groot leemte onder gestremde atlete gesien en ʼn begeerte ontwikkel om meer bewustheid vir dié atlete te skep.

“Ek besef ek is in ʼn bevoorregte posisie met juffrou Lizelle en dr. Kleinhans se insette.

“Of die temperatuur die hoogtes inskiet en of dit yskoud is, ek weet waartoe ek in staat is.”

Daarom is Simphiwe gerat om ander atlete – nes hy – te motiveer en beoog om ʼn ortotis en prostetis te word.

Sy familie en Olivier spaar reeds vir die dag as Simphiwe aan sy eerste Paralimpiese Spele deelneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.