15 000 SA’ners kan dalk weens besoedeling sterf

Die Komati-kragsentrale. (Argieffoto: Eskom)

Meer as 15 000 Suid-Afrikaners kan teen 2050 aan lugbesoedelingverwante siektes sterf as die regering nie sy kragsentrales teen 2030 buite diens stel nie.

ʼn Nuwe studie deur die sentrum vir navorsing vir energie en skoon lug wys dat lewensverlies by die duisende kan beloop as daar nog vertragings is om steenkoolaanlegte uit bedryf te stel.

Dit sal boonop die ekonomie duur te staan kom met verwagte verliese van sowat R340 miljard.

Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, het vroeër vanjaar gesê dat van die land se steenkoolaangedrewe kragstasies eers later buite diens gestel gaan word. Hy het voorgestel dat van die sentrales eerder opgeknap word.

“Die lugbesoedeling wat veroorsaak word deur die langdurige gebruik van die aanlegte sal ʼn groot impak op openbare gesondheid in Suid-Afrika hê,” het die navorsingsentrum in die studie gesê.

Na verwagting sal 6 200 mense sterf weens blootstelling aan deeltjies in die lug, 3 500 weens blootstelling aan stikstofdioksied en 5 700 weens blootstelling aan swaeldioksied.

Diegene wat veral vatbaar is, is mense met asma, babas wat vroeggebore of ondergewig is, depressielyers, mense met longontsteking of brongitis en bejaardes met demensie.

Slegs een van Suid-Afrika se steenkoolaangedrewe kragstasies is deels buite werking gestel, maar volgens die studie het dit reeds sowat 220 menselewens gered.

Die navorsingsentrum wys daarop dat Suid-Afrika een van die wêreld se 12 grootste lugbesoedelaars is en die sewende grootste steenkoolprodusent is.

“Suid-Afrika het ʼn aantal lugbesoedelingsbrandpunte waar die luggehalte nie aan nasionale standaarde voldoen nie, wat nog te sê aan die Wêreldgesondheidsorganisasie se riglyne,” lui die studie.

Steenkool is egter die basis van Suid-Afrika se ekonomie, aangesien 80% van krag deur steenkool opgewek word.

Tog staar ʼn kragkrisis Suid-Afrika in die gesig, met beurtkrag wat geredelik ingestel word wanneer kragsentrales onklaar raak.

Die oorgang na skonerkragopwekkingstegnologieë is boonop bemoeilik deur binnegevegte op nasionale vlak.

Die navorsingsentrum sê wel as verouderde steenkoolaanlegte mettertyd buite werking gestel word, kan dit die “totale bedryf- en instandhoudingskoste verminder”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Wit Leeu ·

Wat ‘n klomp snert wat hier gepraat word !!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

JohanEtz ·

Kla oor beurtkrag –
Kla oor lugbesoedeling –
Kerm oor alles!!!!
Covid pandemie was ook voorspel dat miljoene gaan dooi – bog praatjies?

Atta ·

Hoekom verban hulle nie sommer karre ook, dan sal daar ten minste 350 000 lewens gespaar word teen 2050. O ja, en sigarette sommer ook. Daar spaar ons nog ʼn verdere 200 000 lewens. Ons het mos ʼn goeie oefenlopie in 2020 gehad om te sien of dit sal werk.

Henk ·

Ek moes nou eers op my almanak kyk om seker te maak dis nie 1 April nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Gelukkig is daar nie steenkoolstasies in die Kaap nie.

ENFM ·

Die studie is gebaseer op ‘n model, wat met ‘n rekenaar uitgewerk word. Rekenaars kan slim wees, maar kan net die inligting gebruik wat ingevoer word en neem nie alles in ag nie.
Almal moet een of ander tyd doodgaan en die studie poog nou om vrees te veroorsaak vir iets wat in elk geval een of ander tyd gaan gebeur.
Wat is nou weer die hoofbestanddele in kunsmis? Is dit nie hoog in stikstof nie? So die kragsentrales se afval, kan dalk plante beter laat groei en die vervaardiging van kunsmis, wat erg lugbesoedeling veroorsaak verminder? Plante maak mos lug skoon..
Wat is die langtermyn gevolge van die ontginning van materiale vir sogenaamde vervaardiging van “skoon energie”? Wat gebeur met die apparate as hul uitgedien is.
‘n Rukkie terug was metaangas die groot sondebok vir besoedeling en rede waarom minder vleis geëet en boere moet ophou boer.
Hoekom juis 2030?

annie ·

… en as ons oorslaan na atoomkrag kan 60 miljoen binne ‘n paar jaar sterf. Afrika se onkunde en arrogansie maak steenkool ‘n beter opsie. Hierdie is nie ‘n eerste-wêreldland nie. Raad en skree sal nie die NC tot orde roep nie.

ENFM ·

Dis hierdie tipe “navorsing” wat maak dat wetenskaplikes ‘n slegte naam het.

Michael ·

Ag asb wat ‘n klomp bog-geen land kan net op “groen krag” oorleef nie en hulle weet dit

Anel ·

Ag, asseblief! Hoe bepaal hulle dit? Daar gaan in elke geval meer mense in die land dood wat vermoor word per jaar as wat hulle voorspel!

Jacobus ·

Moeilike storie. Maar dink ‘n bietjie. Swak kragvoorsiening is die oorsaak vir water voorsiening. Benewens swak beplanning is afval water ook genoem riool ‘n groot gesondheids probleem.
Intussen word baie swak gehalte steenkool aan kragstasies voorsien. Die nodige gehalte steenkool word egter onder politieke druk na die buiteland uitgevoer – tot voordeel van land se leierskap. (Maak sommer kragstasies toe!)
Gaan doen nou die somme met die werklike syfers!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.