20% toename in kragtarief ‘buitensporig’

(Argieffoto: Unsplash)

Die DA meen Eskom se versoek vir ’n 20,5%‑kragtariefverhoging is nie net buitensporig nie, maar ook uit voeling met die stygende lewenskoste van die gewone Suid-Afrikaanse verbruiker.

Boonop, sê die party, is Eskom nie eers in staat om deurlopend krag aan sy klante te voorsien nie.

Maroela Media het vroeër berig dat Eskom in sy aansoek aan die nasionale energiereguleerder (Nersa) vra dat die 20,5%-verhoging vir die 2022‑’23-boekjaar landwyd ingestel moet word. Die DA het Eskom na afloop hiervan skriftelik versoek om sy aansoek terug te trek aangesien Suid-Afrikaners dit nie kan bekostig nie.

“Dit het nie net  ʼn enorme impak op verbruikerskoste nie, maar op elke aspek van die lewe en sakeondernemings. Dit sal ook ʼn uitwerking op produsenteprysinflasie hê,” het Kevin Mileham, die DA se skaduminister van minerale hulpbronne en energie, Maandag gesê.

“Ons herhaal dus ons oproep aan Nersa om Eskom se 20,5%-tariefversoek te verwerp. Bewyse van onafhanklike energiekenners bevestig dat Eskom se week-tot-week‑energiebeskikbaarheidsfaktor (EBF) vir die 2021-kalenderjaar tot 61,75% in 2021 van 64,79% in 2020 gedaal het.

“Die EBF is die gemiddelde hoeveelheid se kragopwekking wat Eskom relatief tot sy geïnstalleerde kapasiteit beskikbaar het.”

Mileham sê voorts dit is bloot swak sakepraktyk vir Eskom om te eis dat verbruikers soveel meer moet opdok vir ʼn produk wat hulle dikwels nie eers het nie – hoofsaaklik weens Eskom se “onbevoegdheid en disfunksionaliteit”.

“Trouens, data wat deur die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) saamgestel is, wys dat 2021 die slegste jaar nóg ten opsigte van beurtkrag was. Altesame 1 136 ure se onderbrekings is aangeteken, 37% meer as die 859 ure wat in 2020 aangeteken is.”

Die DA sê daar kan nie van Suid-Afrikaners verwag word om Eskom se mislukte energiemonopolie verder te subsidieer nie, ook nie Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energiesake, se voortgesette dwarsboming om die sektor aan onafhanklike kragprodusente (IPP’s) oop te stel nie.

Boonop pak Eskom die skuld vir die stygende koste op IPP’s, terwyl dié produsente krag teen die helfte van dit wat dit Eskom kos, kan opwek, sê Mileham.

“Suid-Afrikaners dra nou die koste van hierdie eindelose energiekrisis, van gebrek aan investering in die ekonomie, werkverliese en stygende inflasie. Die tariefverhogingsversoek van 20,5% is gewetenloos en moet afgekeur word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Bart-Man ·

Elke keer as die krag prys vermeerder, verminder die mense wat wel daarvoor betaal.

FM ·

Die handjie vol eerlike verbruikers wat hul rekening getrou betaal, betaal vir al die onwettige verbruikers ook.

Die skaal hou aan kantel totdat als dood wurg.

Nie meer lank nie dan begin ons van vooraf bou.

Hou moed

gpsa ·

Baie waar. Al meer maatskapye, winkel sentrums, hospitale, privaat huise ens ens gaan oor na son krag en gas. Wie gaan oorbly om te betaal en hoeveel gaan hulle betaal?

Johanncb ·

Ek twyfel of ons óóit die stryd teen prysverhogings sal wen! Veral teen Eskom!

JohanR ·

Kom ons wees maar eerlik…..Eskom gee nie ‘n duit om vir ek en jy nie. Hulle wil geld he….en baie geld!

Johann ·

Verduidelik net vir my hoe verhoog jy die prys van iets wat jy bemark, maar nie genoeg van het om te verkoop nie? Maw jy “verkoop” Pre Paid krag, wat jy nie het nie maar voor betaal word? Dis mos bedrog?

OF wat van julle kry 20% meer krag diewe om te betaal vir wat hulle vat?

Mariana ·

Eskom is deeglik bewus van wat mense kan bekostig. Dis net makliker om ons elke keer te druk vir meer geld want ons is afhanklik van hulle. Hulle stel nie in enigiets belang nie, net hulle profyt. Wel Eskom ons is voos betaal vir als terwyl julle nie genoeg doen om julle eie skuld te delg nie. Ons is ook moeg betaal vir al die kragdiewe, hulle wat net als verniet wil hê terwyl ander betaal.

casper ·

Aag kom ons maak dit nou maar 30% – Dit is so ‘n mooi ronde nommer en almal in Soweto sal met graagte dit betaal !!

AndrewL ·

My huis was maar een van honderde wat gebrand het as gevolg van beurtkrag. Dit ten spyte daarvan dat my huis baie goed onderhou word.

Eskom wil nou meer geld hê om net meer skade aan te rig.

Die feit is, hul moet eers die skuld invorder, onwettige koppelings stop en sabotasie binne die organisasie hokslaan.

SomeOne ·

laat cirrel se tjommas wat elek verniet kry en steel, dat hulle ook betaal, dan sal 20.5% nie nodig wees nie.
laat die een wat gesê het alles is verniet, laat hy dit maar al die elek wat verbruik word, uit sy eie sak betaal

Blikkantien ·

Eskom kan gerus ook maar van surplus “personeel” ontslae raak.

AmY ·

As daai verhoging goed gekeur word, gaan hulle my dwing om te kies tussen ESKOM en my verband elke maand.
Ek kan ESKOM nie meer bekostig nie!

Nico ·

ESKOM het nie eers die mannekrag om die krag voorsiening te stabiliseer nie nou wil ESKOM ie verbruiker laat betaal vir die gemors waarin ESKOM beland het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.