2023 een van verbruikers se taaiste jare nóg

(Foto: Pixabay)

Met stygende inflasie en al hoër rentekoerse, asook ʼn sukkelende ekonomie wat besteebare inkomste wegkalwe, was verlede jaar een van die moeilikste jare wat Suid-Afrikaanse verbruikers sedert die aanvang van die demokratiese bestel moes verduur.

Benay Sager, hoof van DebtBusters, sê stygende kos-, elektrisiteit- en brandstofpryse het inflasie aangevuur, met die Reserwebank wat rentekoerse – nou 475 basispunte hoër is as in 2020 – probeer teenwerk.

“Verlammende vlakke van beurtkrag het boonop betekenisvolle ekonomiese groei en gevolglik salarisverhogings aan bande gelê.

“Die gemiddelde rentekoers vir ʼn verband op eiendom het van 8,3% per jaar in die vierde kwartaal van 2020 tot 12,3% teen die laaste kwartaal in 2023 gestyg. Gemiddelde rentekoerse vir ongesekureerde skuld is nou op ʼn agtjaarhoogtepunt van 25,6%,” sê Sager.

Hy sê DebtBusters se 2023-skuldindeks vir die vierde kwartaal het bevind dat skuldberadingsnavrae met 46% toegeneem het en dat die vraag na aanlyn skuldbestuur met 54% toegeneem het vergeleke met dieselfde tydperk die vorige jaar.

“Voljaarskuldberadingsnavrae het met 39% toegeneem vergeleke met 2022.”

Sager sê die uitreiking van die data val saam met nasionale skuldbewustheidsmaand in Februarie.

“Hoewel die kombinasie van hoë inflasie, rentekoerse en swak ekonomiese prestasie die besteebare inkomste negatief beïnvloed het, is die feit dat meer mense hulp soek om hul skuld te bestuur, ʼn positiewe ding.

“Die toenemende gebruik van aanlyn skuldbestuursinstrumente dui daarop dat verbruikers meer proaktief met hul skuld optree. Die data dui ook daarop dat meer mense skuldberading as ʼn doeltreffende manier oorweeg om skuld in ʼn hoë-rentekoers-omgewing te hanteer”.

Onder skuldberading kan tariewe vir ongesekureerde skuld heronderhandel word (van 25,6% tot 2,6%). Dit stel verbruikers in staat om duur skuld vinniger terug te betaal. Rente op voertuigskuld en ballon-betalings – wat gemiddeld 15,6% beloop – kan byvoorbeeld ook heronderhandel word en die terugbetalingstydperk verleng word.

Volgens Sager het die skuldindeks ook bevind dat die vierde kwartaal van 2023 die tweede agtereenvolgende kwartaal was waar die gemiddelde skuld-tot-jaar-inkomste-verhouding gedaal het, hoewel dit op 106% steeds hoog is.

“Dit dui daarop dat verbruikers steeds die uitwerking van die rentekoersverhogings, wat in November 2021 begin het, ervaar.

“Byna almal (95%) wat in die vierde kwartaal vir skuldberading aansoek gedoen het, het ʼn persoonlike lening gehad en 24% ʼn korttermynlening. Dit dui daarop dat persoonlike lenings vir baie ʼn reddingsboei geword het en dat verbruikers hul inkomste met korttermynlenings aanvul,” sê Sager.

Só vergelyk die huidige situasie met 2016, toe DebtBusters die data begin versamel en ontleed het:

  • 39% persent minder koopkrag: Wanneer kumulatiewe inflasie van 40% in ag geneem word, het bestedingskrag in werklikheid met 39% afgeneem, hoewel nominale inkomste 1% hoër was as sewe jaar gelede.
  • ʼn Hoër skulddienslas: Verbruikers bestee gemiddeld – voordat hulle skuldberading ontvang – 62% van hul inkomste aan die terugbetaling van skuld. Diegene wat R35 000 of meer per maand verdien, gebruik 71% van hul inkomste om skuld terug te betaal. Die skuld-tot-inkomste-verhouding vir diegene wat R20 000 per maand verdien is 131%, en 171% vir mense wat R35 000 of meer verdien. Vir hierdie inkomstegroepe is die verhoudings naby aan die hoogste vlakke ooit.
  • Onvolhoubaar hoë vlakke van ongesekureerde skuld: Ongesekureerde skuld is gemiddeld 32% hoër as in 2016. Vir diegene wat meer as R35 000 per maand verdien, is dit 42% hoër. Hoewel dit gelykstaande is aan inflasie, wys dit dat verbruikers in die afwesigheid van betekenisvolle salarisverhogings hul inkomste met ongesekureerde skuld aanvul.

Sager sê die intekenaarbasis vir gratis aanlyn skuldbestuurnutsmiddels het in 2023 met 82% toegeneem in vergelyking met die vorige jaar.

“Gegewe hierdie belangstelling om skuld pro-aktief te bestuur, het DebtBusters ʼn skuldvolhoubaarheidsaanwyser bygevoeg.

“Dit bereken die verhouding van inkomste wat gebruik word om skuld terug te betaal en bied praktiese wenke oor hoe om dit meer volhoubaar te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karoo ·

2023 was taai… maar 2024 gaan ‘n “maak of breek” jaar wees vir my. Ons sny ons rieme smal, vleis tande getrek, jan-tuisbly se karretjie staan voor die deur.

Aai ·

Karoo jy kan dit weer se dinge raak glad nie beter in die land met anc en sy kaders,korrupsie misdaad,krag ens.

S ·

Dit was en is steeds taai. Als is duur en onbekostigbaar, gaan jy winkel toe vir die minimum benodighede (geen luukshede nie) dan is een sakkie goed maklik R300/R400. Dan nog SARS, skoolgelde, die bank, munisipaliteit, petrol wat elke laaste bietjie wat oor is neem. ‘n Konstante berg op die skouers, probeer net kop bo water hou en maand tot maand oorleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.