90 km vir berusting

Dewald en Yolandi Fourie Sondag tydens die Comrades-marathon. (Foto: Verskaf)

’n Vrystaatse egpaar het die naweek saam die eindstreep van die Comrades-marathon oorgesteek – en het daarmee saam ook as ouerpaar berusting gevind en ’n swaar hoofstuk in hul lewe afgesluit het: die dood van hul kind.

Dewald en Yolandi Fourie van Bloemfontein het Sondag ’n banier ter ere van hul dogtertjie Karla omhoog gehou toe hulle ná 11 uur en 33 minute die eindstreep by die Moses Mabhida-stadion in Durban oorgesteek het.

“Dit was eerlikwaar uitputtend,” erken Yolandi nou. “Ek glo en vertrou Karlatjie was heelpad met ons, want ons het by tye krag gekry wat ons nie geweet het waar dit vandaan kom nie.”

Karla Fourie was maar 22 maande oud toe sy op 5 Desember 2009 in die swembad van haar ouerhuis beland het. Die peuter is destyds ná vyf uitmergelende dae in die waakeenheid van ’n Bloemfonteinse hospitaal op 10 Desember dood nadat sy breindood verklaar is.

Die kruisie wat Dewald Fourie heelpad in sy hand gehou het. (Foto: Verskaf)

Vriende van die egpaar het die roerende banier sowat een kilometer voor die eindstreep aan hulle aangegee. Dewald het egter vir 90 km – van Pietermaritzburg tot Durban – ʼn houtkruisie met Karla se naam in sy hand gehou.

Dié Vrystaatse pa het die afgelope jaar met ’n asmapompie in sy hand geoefen ter voorbereiding vir Sondag se marathon. “Die kruisie het vir ons die krag gegee,” vertel sy vrou.

Die kruisie sal nou op Karla se grafsteen met sement aangebring word.

Die egpaar het aanvanklik beplan om saam die Comrades in 2019 by die tiende herdenking van Karla se dood te hardloop. Toe beland Yolandi drie maande voor die marathon in ’n motorongeluk en Dewald moes die marathon alleen aanpak.

Dewald het ongelukkig daardie jaar op 80 km die afsnypunt met net twee sekondes misgeloop. Die egpaar het besluit om in 2020 weer in te skryf maar toe tref die Covid-19-pandemie en stuit wéér hul planne.

Karla Fourie (Foto: Verskaf)

Dewald en Yolandi was egter vasbeslote om 90 km te voet vir Karla af te lê. “Ons het net vir mekaar gesê dis ’n boek wat ons wíl afsluit. Ons sou nie tot ruste kom tot ons daardie boek toemaak nie,” verduidelik Yolandi.

En wat ’n belewenis was dit nie toe die egpaar eindelik saam die eindstreep kon oorsteek ter gedagtenis aan hul “sonstraalkind” nie.

“Weet jy, verskeie mense het Sondag na ons toe gekom. Sommige het ons van 2009 onthou, toe dit gebeur het. Daar het ook ’n pastoor langs ons stilgehou en vir ons gebid. Dit het alles net reg uitgewerk.”

Dewald beplan nou om vorentoe weer die moordende Comrades-marathon te hardloop.

“Ek oorweeg dit nog,” skerts ’n stywe en seer Yolandi.

Die egpaar het nog twee dogters. Die oudste (15) wil graag die Comrades vir haar 21ste verjaardag hardloop. “Ons het gesê ons gaan hom dan weer saam hardloop,” sê Yolandi.

Yolandi en klein Karla Fourie. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hermien ·

Ons was in die stadion toe hulle met die banier indraf, nodeloos om te sê ons was in trane. Dit was ‘n baie mooi gebaar.

Kobus ·

Dankie vir die berig. Het die egpaar op TV gesien tydens die wedloop en gehoop Toks van der Linde sou met hulle ‘n onderhoud voer maar hy was meer betrokke by atlete wat eerste keer deelgeneem het dat hierdie aangrypende verhaal agterwee gebly het. Sterkte aan die egpaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.