Ace sê nuwe ACT-party is ‘alternatiewe politieke tuiste’

Ace Magashule, uitgeskopte sekretaris-generaal van die ANC, het Woensdag sy nuwe politieke party, die African Congress for Transformation (ACT), bekendgestel [Foto: Twitter]

Ace Magashule, uitgeskopte sekretaris-generaal van die ANC, het Woensdag sy nuwe politieke party, die African Congress for Transformation (ACT), bekendgestel.

Magashule het by ʼn mediakonferensie in Soweto gesê Suid-Afrikaners benodig ʼn “alternatiewe politieke tuiste”.

Die veteraanpolitikus sê sy party is vir “al die mense van Suid-Afrika en sal ʼn skip van vryheid wees vir dié wat hopeloos voel en polities misbruik is”.

Die ANC het Magashule in Junie uit die party geskop.

Die eens invloedryke leier is vroeër skuldig bevind dat hy die ANC in oneer gebring het nadat hy, sonder magtiging, probeer het om pres. Cyril Ramaphosa uit die party te skors. Magashule het die president op 3 Mei 2021 uit die ANC “geskors” kort nadat hy self geskors is hangende die finale uitslag van die strafsaak teen hom.

Verskeie aanklagte van korrupsie staar Magashule in die gesig. Dié saak is hangende.

[Foto: Twitter]

By die bekendstelling van die party het Magashule gesê die party sal fokus op Afrika-nasionalisme en pan-Afrikanisme.

Hy sê sy party is vir ʼn breë versameling belangegroepe, insluitend vryheidsvegters, werkloses en godsdiensgroepe.

“Ons staan vir die mense en sal namens die mense optree,” het hy gesê.

Die party gaan in Oktober sy manifes en leierskap bekendmaak.

Die voormalige hoof van die Valke, lt.genl. Berning Ntlemeza, het ook Woensdag na vore getree en aangekondig dat hy by die nuwe politieke party gaan aansluit. Ntlemeza is in 2017 uit die polisie ontslaan nadat ʼn hof beslis het dat sy aanstelling as hoof van die Valke irrasioneel was.

Roy Jankielsohn, die DA-leier in die Vrystaat, sê Magashule en sy faksie het die Vrystaatse ekonomie geweldige skade berokken in die rol wat hulle gespeel het in staatskaping, is deel van diegene wat dienslewering in die provinsie en munisipaliteite verwoes het en 61% van die mense in die Vrystaat in armoede gelaat het.

“Magashule en sy kaders is betrek by baie omstrede en hoogs gepubliseerde sake soos die omstrede Vrede-suiwelsaak en die asbes-skandaal. Sy kaders bly in provinsiale en munisipale regerings en sal voortgaan om dienslewering te saboteer,” sê Jankielsohn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

annie ·

‘n Land met ‘n verlamde onaktiewe regstelsel. Zuma sal dalk een van sy kandidate wees… ‘n Alternatiewe tuiste? As al die skelms vir Ace stem, kan sy Mafia-bende dalk wen.

Harry ·

Kyk my oë, dit roll in my kaste. Side note, can we have term limits for MP and just politicians in general?

Sonja ·

Gee my krag. Nog ‘n pensionaris wat ons land wil rule. Regtig dit is lagwekkend

Misky ·

“‘N skip van vryheid” sê hy….. ek hoop daai skip sink nog voor hy uit die hawe gevaar het.

Vonkprop ·

Nog ‘n been van die ANC. So daar is nou die ANC Deluxe vir die meerderheid ANC ondersteuner, dan ANC Pro in die vorm van die EFF wat alle nie-werkende en het niks om te verloor ANC ondersteuner dien en dan die ANC Lite in die vorm van Ace se nuwe party vir al die ANC ondersteuners wat ietsie tussen die ANC en EFF is.

Gert ·

Laat sommer nog baie sulkes op kom om splinter partye te vorm. Dit sal die ANC se stemkrag afwater.

George ·

Dis net in ons land wat jy so baie partye gaan raak loop lol…elkeen wat nie sy sin kry nie stig n nuwe party ????????…wat n sirkus en klomp clowns ????????????????

Jaco ·

Ace se ACT, Niehaus se ARETA en die EFF se beleide is basies dieselfde, maar dis 3 verskillende partye. Ook maar nes die Afrikaners wat nie kan saamwerk nie. Vandaar dat die ou Konserwatiewe Party en die Herstigte Nasionale Party nooit kon saamwerk nie. Kyk ook na Orania: skaars 3000 mense maar daars 8 kerke.

Gert ·

Hoeveel klein kerke gaan 3000 mense kan hanteer. Ek reken so om en by 8. Hoop daar kom nog 100 kerke by. Laat Orania geken word deur sy aantal kerke ne nie soos Tembisa vir sy hoeveelheid taverns nie.

Danie ·

Baie mense is nou up in arms maar ek dink weer dit is n goeie ding. Hoe meer van hulle wegbreek van die ANC hoe minder stemme vir die ANC en sodoende gaan die ANC se drakoniese regeringstelsel tot n val kom. Ace gaan defnitief nie wen nie,maar hy gaan wel stemme wegvat van die ANC.

Brombeer80 ·

Die leidende party is besig om te ontrafel. Eers JM, nou AM. Wie is volgende? Saamstaan bestaan nie meer daar nie. Dalk beter nuus vir opposisie partye.

Sonblom ·

Wel, ek sien dit so. Ek glo hy het so paar ondersteuners. So hopelik minder wat ANC gaan stem. Nog klein bietjie minder ANC beheer oor SA. Mens kan hoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.