ActionSA wil ikoniese pretpark help red

Durban Funworld. (Foto: Verskaf)

ActionSA hoop om saam met die derdegenerasie-eienaar van die gewilde Durban Funworld-pretpark te werk om dié ikoniese park te red.

Zwakele Mncwango, provinsiale voorsitter van ActionSA, gaan Dinsdag om 10:00 met die eienaar, Nic Steyn, vergader om die opsies vir die park te bespreek.

Volgens Mncwango gaan Steyn onder andere verduidelik wat die uitdagings is wat hom met die eThekwini-munisipaliteit in die gesig staar.

“Ons sal moontlike oplossings bespreek sodat die finale sluiting van die park vermy kan word,” sê hy.

“ActionSA wil ook praat oor hoe hy van hulp kan wees om hierdie proses te vertraag en eindelik te skrap.”

Maroela Media het vroeër berig dat die ikoniese pretpark se einde aangebreek het en die park op 1 Mei finaal sy deure gaan sluit.

Dit kom nadat ʼn stryd met die eThekwini-munisipaliteit, eienaar van die grond waarop die pretpark al dekades lank geleë is, dit onmoontlik gemaak het om die pretpark se wiele aan die rol te hou. Dit het onlangs aan die lig gekom dat die huurkontrak tussen die munisipaliteit en Steyn beëindig is.

Die eThekwini-munisipaliteit het vroeër gesê hy het “groot planne” vir die perseel waarop die park geleë is.

“Een van die vele opsies wat die stad vir die terrein ondersoek het, was om die pretpark deel van uShaka Marine World te maak, maar dit het deur die mat geval,” het Musa Mbhele, eThekwini se stadsbestuurder, gesê.

Volgens die munisipaliteit was Steyn nie bereid om die finansiële inligting te verskaf wat uShaka Marine World in staat sou stel om ʼn ingeligte besluit te neem nie.

Die munisipaliteit werk tans aan ʼn tenderproses om potensiële ontwikkelaars te kry sodat die Funworld-terrein opgeknap kan word.

Die DA in eThekwini glo egter dat die munisipaliteit se planne net tot die verdere verval van Durban gaan bydra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Althes ·

Dankie Action SA. Die pretpark hoort in sy volle glorie daar.

Samuel ·

Enigiets wat die kaders beplan sal net ‘n skelm spul wees om tenderpreneurs te verryk.

Henk ·

My Vader en Moeder het ons in die 60 jare baie na die Pretpark geneem.Langsaan die Pretpark was die Slangpark.Dit was wonderlike tye.

SwartBees ·

Die land lyk al hoe meer na n diktatorskap. Daar is net een weg en dis die kommunis se weg en basta met die res. Dis asof alles voor 1994 met wortel en tak uitgeroei moet word. Selfs die kinders op skool word gebrainwash….. ewe skielik word die kommuniste uitgemaak as die “puppy in the rain”.

Vonny ·

Action SA jul kry ons votes!!!
En bàie in ons familie en vriende kring.

Andries ·

Jare terug kon jy tot 8 uur die aand daar spandeer. Nou word jy beroof sommer helder oordag.

Lillian ·

Nee wat Mnr Masaba, los maar jy gaan dié een verloor, die munisipaliteit het reeds planne en sal nie daarvan afsien nie, want daars geld betrokke en dit beteken iemand gaan weer skatryk word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.