Advokaat ‘kla herhaaldelik’ dat oudregter haar teister

Adv. Mpho Rasivhetshele saam met adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid. (Foto: Verskaf)

Op die tweede dag van die verhoor van waarnemende oudregter Vuyo Mtati, wat daarvan aangekla word dat hy adv. Mpho Rasivhetshele seksueel aangerand het, het die staat se getuie die klaer se weergawe van die gebeure gestaaf.

Mtati het na bewering Rasivhetshele, ’n voormalige getuienisleier in die Zondo-kommissie oor staatskaping, op die aand van 7 Desember 2019 by ’n sosiale byeenkoms betas. Sy het ’n strafregtelike klag teen die beskuldigde ingedien.

Rasivhetshele het Donderdag getuig dat Mtati haar op die dag van die partytjie herhaaldelik gepla en onvanpaste opmerkings gemaak het. Sy het by twee geleenthede ander mense by die partytjie genader om oor sy optrede te kla. Ten spyte hiervan het hy later glo haar vagina van agter gegryp toe sy verby hom gestap het.

Adv. Phillip Mahlatsi was die eerste persoon by wie Rasivhetshele die aand gekla het. “Mpho het na my toe gekom en vir my gesê dat Mtati haar pla, by haar aanlê en hy het gesê dat sy sy meisie gaan wees. Ek kon sien dat sy nie gelukkig was oor die situasie nie. Ek het na Mtati gegaan en ek het vir hom gesê daar is ’n klagte. Ek het gesê, ‘hou asseblief op’,” het hy getuig.

Mahlatse het verder getuig dat Rasivhetshele vir ’n tweede keer by hom sowel as die gasheer van die partytjie gekla het oor Mtati se optrede. Hy sê dit was hierna dat Mtati gevra is om die partytjie te verlaat. Mahlatse was onder die indruk dat Mtati die partytjie verlaat het. “Ewe skielik is die musiek afgeskakel en Mpho was histeries. Sy het gehuil, vir Mtati gevloek en gesê dat hy aan haar geraak het. Ek kan nie presies onthou wat sy gesê het nie, maar die indruk was dat hy haar private dele aangeraak het. Ons moes verseker dat Mtati gaan. Hy is toe weg,” het Mahlatsi gesê.

Die aanklaer het Mahlatsi gevra hoe Mtati gereageer het toe hy vroeër die aand gevra is om die partytjie te verlaat, nadat Rasivhetshele oor sy gedrag gekla het. “Hy was daarvan bewus. Hy het nooit ontken wat hy gedoen het nie, en daarom het hy ingestem om te gaan,” het Mahlatsi geantwoord.

Mtati het skuld ontken op die aanklag. Sy advokaat het aan die hof gesê hy sal getuig dat hy nie Rasivhetshele op die beweerde wyse aangeraak het nie.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik besluit om nie te vervolg nie. Rasivhetshele het toe AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader.

Die eenheid het vertoë gerig aan adv. Andrew Chauke, direkteur van openbare vervolging (DOV) in Gauteng, in Oktober 2021 omdat geen strafregtelike stappe tot op daardie stadium teen die waarnemende regter gedoen is nie. Die DOV se kantoor het in Februarie 2022 in ’n brief aan AfriForum se privaatvervolgingseenheid aangedui dat hulle, ná ontvangs van die vertoë, die beskuldigde sal vervolg.

“Die eenheid is bly dat Rasivhetshele ’n geleentheid gehad het om haar storie aan ’n hof te vertel, en dat die verhoor uiteindelik aan die gang is,” het Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid, gesê.

Die verhoor word op 3 November voortgesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marcello ·

Ek haal my hoed vir haar af, dat sy deur gedruk het met haar klag. Stekte aan haar en haar Regspan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.