Afgetrede polisieman dood gevind

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

Niemand is nog in hegtenis geneem nadat ʼn afgetrede Vrystaatse polisiebeampte verlede week dood in sy huis in Theunissen aangetref is nie.

Die liggaam van AO Sabata Tsoai is op 14 Mei omstreeks 16:40 in ʼn slaapkamer in sy huis gevind.

Sers. Mamello Mokhuoane, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn 12-jarige familielid van Tsoai het na sy huis gegaan om klere te gaan haal wat sy daar gelos het. Sy het opgemerk dat die deur na die hoofhuis oopstaan en het gaan ondersoek instel.

“Binne die huis het sy ʼn bloedspoor opgemerk en onmiddellik die polisie in kennis gestel,” het Mokhuoane gesê. “AO Tsoai se liggaam is in een van die slaapkamers in die huis gevind. Sy hande en voete was met draad vasgebind.”

Mokhuoane het gesê weens die sensitiewe aard van die ondersoek kan daar nie in dié stadium bevestig word of enigiets uit die huis gesteel is of nie.

Volgens Mokhuoane wag die polisie steeds op die uitslae van die nadoodse ondersoek om die oorsaak van Tsoai se dood te bevestig. ʼn Saak van moord word ondersoek.

Tsoai was 31 jaar lank lid van die polisiemag en verbonde aan die Theunissen- sigbare polisiëringseenheid. Hy het in 2006 afgetree.

Mense met meer inligting oor die voorval word versoek om konst. Mzwandile Mekana by 078 239 9594 te nader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

RIP ·

Jy sien, wat se kans het ‘n gewone lid van die publiek as ‘n (opgeleide) oud polisieman nie eers ‘n kans gestaan het teen sy moordenaars nie?? MY innige simpatie met die familie en vriende van die vermoorde. Alle sterkte aan die gesin wat ‘n broodwinner en pa/man verloor het.

Ex speurder Katryn ·

Onthou, ons oud lede het nie meer ‘n vuurwapen wat ons saam met ons dra nie. Meeste van ons was uitgereik met die stasie of eenheid se vuurwapen. Indien jy bedank (ons moet ontslag koop uit die Polisie), moet jy jou eie vuurwapen aankoop. Ek vermoed hy het nie eers ‘n wapen gehad nie. Bly steeds hartseer. Rus in vrede oud kollega…

Nie krities ·

Die 1ste kommentaaar was nie krities bedoel nie, dit probeer net sê, Polisie beamptes se sintuie is beter ontwikkel en hul het geleer om hulself te verdedig, die misdaad is soooo erg dat dit nie genoeg is nie!!!!!Dit is egter steeds skokkend dat ouer weerlose mense maklik vir die waarde van ‘n paar rand doodgemaak word.

RIP ·

Jammer maar ek sien niks van ‘n vuurwapen wat ek genoem het nie. Tweedens jy kan jou eie privaat vuurwapen aanskaf as jy uittree uit die mag, soos ons gewone mense maar gedoen het, MAAR ek het eintlik bedoel dat met die opleiding wat polisiemanne ontvang is hulle seker meer paraat as ek by die huis.

Pieter ·

Nou vermoor hulle voor die voet maak nie saak ras of geslag nie.

Piet ·

Ja die slagoffers is van oral oor die land, kan jy ons dalk se wies die misdadigers? Ek meen is daar n patroon wat vorm of mag jy nie se nie?

Alida ·

Hoe goef jou sintuie ookal ingestel is as n spul van 4 of5 jou gryp help niks. Hulle kom mos 4 of 5 op n slag. Lafaards.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.