Afrikaans, sport en familie laat Jennifer glimlag

Jennifer Myburgh. Foto: Verskaf.

As Jennifer Myburgh ooit aan ’n sportvasvrakompetisie sou deelneem, is die kans baie goed dat sy sal glimlag wanneer sy sommige van die vrae sien.

“Wie het Graeme Pollock se rekord verbeter deur die jongste speler te word om ’n dubbele honderdtal in ’n eersterangse wedstryd te slaan?”

Johann Myburgh – haar broer.

“Wie het een van die vinnigste T20-vyftigtalle teen die Proteas gemoker?”

Stephan Myburgh – haar ander broer.

“Watter Suid-Afrikaanse snelbouler het die Engelse op SuperSportpark in 2009 laat bontstaan?

Friedel de Wet – haar swaer.

Natuurlik is Jennifer self ook ’n bekende stem én gesig by Afrikaanse radio- en televisieliefhebbers danksy haar puik werk op GROOTfm se Die GROOT Brekfis en deesdae Die GROOT Ontbyt op GROOTfm en kykNET.

En as die liefde vir haar familie een van die boustene vir haar loopbaansukses is, dan is sport ongetwyfeld die gom wat vir daardie einste familie sommer ’n tikkie ekstra woema besorg.

Die Myburgh-gesin. Foto: Verskaf.

“Dit sou eintlik moeilik vir my gewees het om nie van sport te hou nie – almal in ons gesin het een of ander tyd ’n sportsoort beoefen,” laat weet sy terwyl sy hul indrukwekkende sportgetuigskrifte deurgee.

Benewens Johann, Stephan en Friedel se krieketprestasies was haar ma ’n kranige sagtebalspeler, haar pa het lank rugby gespeel en haar suster (Alecia) was ’n hokkiester terwyl sy ook provinsiale krieket gespeel het.

“Vandat ek kan onthou was ons langs die krieketveld om by broers te ondersteun. Op Saterdae het ons altyd ’n piekniekmandjie so saam met my huiswerk in die kar gelaai en ons het dikwels ook ons vakansies rondom hul kriekettoernooie beplan. Dit was egter iets wat nooit gepla het nie; dit was immers ’n voorreg om daar vir hulle te wees.”

Haar ouerhuis was ook gereeld die venue vir epiese atletiekbyeenkomste, krieketwedstryde en tennistoernooie.

Saam met haar oudste broer, Johann, op Wimbledon. Foto: Verskaf.

Matrasse is uitgedra om die hoogspringitem van die Olimpiese Spele na te boots, terwyl die tenniswedstryde ook ’n ernstige storie was: Daar was ’n skeidsregter en die spelers sou hul beste professionele voet voorsit – kompleet met piesangs en energiedrankies in hul tennissakke.

Jennifer het vir haar skool se netbal-, sagtebal- en atletiekspanne uitgedraf, terwyl sy ook ’n bietjie krieket gespeel het.

“Stephan het my destyds geleer kolf.  As ’n regshandige persoon is dit steeds die enigste ding wat ek links doen; bloot omdat Stephan links kolf.”

Deesdae – soos wat werk en weer dit toelaat – hou sy daarvan om te draf, terwyl die Myburgh-familie ook hul eie gholfdag (die Jo Myburgh Invitational) het.

O ja, Jennifer het die voorlaaste toernooi gewen.

Foto: Verskaf.

Een van die grootste verskille tussen radio- en televisiewerk kan seker ook met ’n sportmetafoor verduidelik word. Radio is meer van ’n individuele storie, terwyl spanwerk die wagwoord op die kassie is.

Sy vertel laggend dat daar inderdaad soms kere is wanneer sy op die stel uitgeboul is en nie onmiddellik weet wat om te sê nie.

“In só ’n geval draai ek dikwels na Pierre (Breytenbach, haar mede-aanbieder) en vra vir hom wat hy oor die spesifieke onderwerp dink!”

So saam met Die GROOT Ontbyt-pligte het sy ook haar eie teatermaatskappy wat in kinderteater spesialiseer, terwyl sy ook soms op GrootFM uithelp.

Volgens Jennifer is dit ’n voorreg om haar werk in Afrikaans te doen en is sy baie dankbaar jeens kykNET en GrootFM wat vir haar die nodige platform bied om dit te kan doen.

“Hier het ek die geleentheid om in my taal te gesels, te kuier, te werk, te funksioneer, te speel en om kreatief te dink. Dit is so ’n groot voorreg om dit te kan doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Samuel ·

Ek dink Jennifer is ‘n groot aanwins op Groot Ontbyt. Sy en Frank is ‘n gedugte span.

DJ ·

Wanneer Pierre met sy aansitterige houding nie meer daar is nie sal ek weer Groot ontbyt kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.