Al-Kaïda oorweeg glo om Gerco van Deventer vry te laat

‘n Skermgreep uit die video wat Gerco van Deventer onlangs opgeneem het. (Video: Verskaf)

Die Islamitiese militante organisasie Al-Kaïda oorweeg dit glo om Gerco van Deventer ná byna ses jaar in aanhouding vry te laat, het Imtiaz Sooliman, direkteur van die noodledigingsorganisasie Gift of the Givers gesê.

Mohamed Yehia Dicko, Gift of the Givers se gyselaarsonderhandelaar in Mali waar Van Deventer aangehou word, het deur bemiddelaars bevestiging van Al-Kaïda ontvang dat hulle “na al die dokumentasie gekyk het wat aan hulle gestuur is, en na al die mense geluister het wat met hulle gepraat het”.

Gerco van Deventer (Foto: Facebook)

“Ons het baie bemiddelaars, stam-oudstes en tradisionele leiers genader om ons by te staan en eindelik die onvoorwaardelike vrylating van Gerco van Deventer te verseker, sonder om enige losprys te betaal,” sê Sooliman.

Die onderhandelingsproses is in April vanjaar opnuut hervat en het volgens Sooliman “sterk begin”.

Daar is verder op “menslikheidsgronde” om Van Deventer se vrylating gepleit.

“Al-Kaïda het ons ʼn kort rukkie gelede deur bemiddelaars in kennis gestel dat hulle na al die inligting gekyk het en nou saam sit om te oorweeg of hulle aan ons eis gehoor sal gee om hom onvoorwaardelik sonder ʼn losprys vry te laat. Ons wag geduldig in hoop en gebed.

Gerco van Deventer en sy vrou, Shereen. (Foto: Facebook)

“Gerco is al vyf jaar en sewe maande van sy vrou en kinders weg. Dit was ʼn baie moeilike tyd vir hulle. Al wat ons kan doen, is bid en hoop dat die uitkoms positief sal wees.”

Gift of the Givers voer tans samesprekings met die nodige owerhede om ʼn toekomstige proses te fasiliteer en die nodige stappe te doen wanneer Van Deventer wel vrygelaat word.

Van Deventer, ʼn ervare Suid-Afrikaanse paramedikus wat voorheen onder meer in Afghanistan gewerk het, is sedert November 2017 in aanhouding nadat hy destyds vir werk na Libië gereis het en op die eerste dag van sy nuwe werk as gyselaar geneem is.

Maroela Media het vroeër berig oor ʼn videoboodskap wat vrygestel is waarin Van Deventer pleit vir enige moontlike hulp of optrede wat tot sy vrylating sal lei. Hy het gesê dat hy geen kennis dra van waar sy familie is óf hoe dit met hulle gaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johan ·

Die arme ou. Maar ten minste het hy n nuwe taal aangeleer by hierdie tyd.

Vanessa ·

Vir God is die onmoontlike moontlik!! Ons bid dat hy spoedig vrygelaat sal word. Hy is deur geweldige trauma, maar gelukkig is sy lewe gespaar. Dank die Here vir Sy genade en mag die Here die pad saam hom en sy familie loop om sy lewe weer te hervat.

Anel ·

Hoop hy kom veilig tuis. Wat leer dit vir ons? Bly weg uit ander Afrika lande. Maak nie saak hoe “nodig” hulle jou dienste het nie of hoe goed die geld is nie. Dit is nie die moeite werd nie. Sterkte aan hierdie familie.

Marcello ·

Dit is maklik om te sê: Bly weg, maar as Suid-Afrikaners beter vergoed word, en werkgewers nie teen velkleur diskrimineer nie, sal mense nie nodig hê om in die buiteland te gaan werk nie.

Harry ·

Jy bly in ‘n Afrika land! En moet mense eerder dood gaan van die honger in SA?

George ·

Ek hoop ek is verkeerd, maar wees maar versigtig om te veel hoop te kry. Die tiepe groepe is bekend daarvoor om valse hoop te skep, om dit weg te neem om mense te breuk.

piet ·

Neem hulle skenkings? Dis die soort organisasie waarvoor ek geld sal gee. Hulle help almal ongeag kleur, geloofsorientasie of wat ookal.

Arno ·

Is julle ernstig! Die ou is al meer as ses jaar vir niks aangehou. Gift of the givers is al jare kamstig besig om hom los te kry. Ek sou nie sê dat hulle enigsins gehelp het nie. Hy moes nie een dag aangehou gewees het nie! Genugtig, nou moet mens dankbaar wees?

Yvonne ·

Gift of the Givers doen meer vir die land as die hele ANC regering saam…hoe tragies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.