Al meer mense slagoffers van slenters op sosiale media

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Sosialemediagebruikers wat winskopies aanlyn raakloop, moet uiters waaksaam wees vir slenters wat eindelik tot rooftogte en kapings kan lei.

Die Gautengse polisie het Saterdag in ʼn verklaring gewaarsku dat voornemende kopers al meer slagoffers van dié soort misdade word, veral in die Tshwane-omgewing.

Lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê die spesifieke misdadigers wat in dié aanlyn slenters spesialiseer, lok hul slagoffers deur veral goedere en dienste op Facebook Marketplace aan te bied.

Hul modus operandi sluit in om ʼn afspraak met die voornemende koper te reël, waar ʼn jong man die koper gewoonlik by die afgespreekte plek ontmoet.

“Die jong man neem die koper dan na ʼn afgeleë plek waar die verkoper kamtig op hulle wag. Dit is dan hier waar die slagoffers deur gewapende rowers oorval word, wat hul besittings steel en en hulle dwing om geld van hul bankrekeninge na dié van die misdadigers oor te plaas voordat hulle van die toneel vlug,” het Masondo gesê.

“Soms word die slagoffers ook van hul voertuie beroof.”

Die polisie doen nou ʼn beroep op gebruikers is om nie na winskopies op sosialemediaplatforms te soek nie.

Diegene wat wel aanlyn koop, moet dit sover moontlik deur betroubare ondernemings en verkopers doen, en uiters waaksaam wees.

Verkopers moet uiteraard ook waaksaam wees vir kopers wat hulle nader om goedere en dienste te koop.

Maroela Media het vroeër berig dat die Kaapstadse restauranteienaar Ben Tuzee vermoor is toe hy voornemende kopers in Browns Farm sou ontmoet. Hy wou ʼn televisiestel verkoop wat hy op Marketplace geadverteer het.

Twee weke voordat Tuzee vermoor is, is Jacques Bruwer en sy seun onder presies dieselfde omstandighede aangeval. Ruve Wepener is ook in Philippi aangeval toe sy haar seun se kitaar aan ʼn moontlike Facebook Marketplace-koper wou verkoop. 

Die polisie gee dié wenke:

  • ʼn Voornemende verkoper én koper moet altyd omsigtig benader word.
  • Verifieer die koper of verkoper se aanlyn profiel.
  • Moet geen persoonlike inligting oor jouself bekendmaak nie.
  • Moet nooit ʼn koper of verkoper by ʼn afgeleë plek ontmoet nie – eerder by besige, openbare plekke.
  • As jy enigsins twyfel, beëindig die aanlyn gesprek met die koper of verkoper.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harley Davidson ·

En wie is nou so onosel om in vandag se tye te val vir dit?

piket ·

Kriminele gebruk ook soms huislose mense wat op straathoeke bedel om hulle vuil werk vir hulle te doen.

Danie ·

Amper 80 % van die gevalle is scams.Kry jou aandsg met n goeie deel betaal dan n klein deposito maak jou net vas en dan die groot hou.Dit stop nie daar dan nog n bedragie vir aflewering en nog n bedrag vir versekering.By hierdie tyd is jy ordenlik in die sop.

Niklaas ·

Jammer vir hardwerkende onskuldiges wat ‘n lewe probeer maak met aanlyn verkope. Maar ek bejeën elke oproep van vreemdelinge met minagting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.