Ál minder ekspats kom huis toe

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Killian Pham/Unsplash)

Nóg die bosveld nóg braai, biltong of selfs die Bokke blyk genoeg te wees om Suid-Afrikaners in die buiteland huis toe te lok.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) se heel eerste migrasieverslag toon dat ál minder Suid-Afrikaanse emigrante die afgelope dekade na hul tuisland teruggekeer het. Dít terwyl ál meer Suid-Afrikaners landuit is.

Die lank verwagte migrasieverslag toon dat 45 866 Suid-Afrikaanse emigrante in 2011 vir goed na Suid-Afrika teruggekeer het. Teen 2022 het dié syfer tot 27 983 gedaal.

Die verspreiding oor bevolkingsgroepe, ouderdomme en geslag het sedert 2011 ook merkbaar verander.

Die verslag toon dat meer as die helfte van teruggekeerdes (56,6%) in 2011 wit Suid-Afrikaners is. Teen 2022 was dit steeds die geval, hoewel die persentasie wit Suid-Afrikaners wat teruggekeer het na Suid-Afrika tot 52,9% gedaal het.

Dít terwyl die aantal swart Suid-Afrikaanse emigrante wat in die betrokke 11 jaar teruggekeer het, van 32% tot 37,1% toegeneem het.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die bruin bevolkingsgroep het relatief stabiel gebly op 4,1%, terwyl die Indiër/Asiatiese bevolkingsgroep effens gedaal het tot 3,3%.

In 2011 het meer as een uit drie (38,6%) Suid-Afrikaanse emigrante hulle met hul terugkeer in Gauteng gevestig. Dit wil egter voorkom of die provinsie van voorkeur mettertyd na die Wes-Kaap verander het.

In 2022 het 35% van Suid-Afrikaanse emigrante hulle immers ná hul tyd in die buiteland in dié provinsie gevestig, vergeleke met die 26,6% wat besluit het om na Gauteng terug te keer.

Die verslag toon verder dat ál minder Suid-Afrikaanse emigrante na Mpumalanga en Noordwes terugkeer.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Groot uittog

Die migrasieverslag toon dat 501 600 Suid-Afrikaanse burgers teen 2000 in die buiteland gewoon het.

Teen 2005 het die getal tot 550 462 toegeneem en teen 2010 tot 743 807.

Teen 2015 het nie minder nie as 786 554 Suid-Afrikaners hulle in die vreemde gaan vestig.

Die getal sou later opskiet tot 914 901 in 2022.

(Grafika: Pieter Cloete/Maroela Media)

Luidens die verslag het 38,6% van Suid-Afrikaanse ekspats in 2000 besluit om hulle in Europa te vestig.

Oseanië (Australië, Nieu-Seeland) was destyds die naasgrootste trekpleister (21,1%), gevolg deur Noord-Amerika. Een uit elke vyf Suid-Afrikaanse ekspats (20,4%) het in daardie stadium op die Noord-Amerikaanse vasteland gewoon.

Sowat 16,9% van Suid-Afrikaanse emigrante het hulle wel destyds nog op die vasteland bevind, terwyl Asië, Latyns-Amerika en die Karibiese Eilande 2,8% en 0,2% van Suid-Afrikaners gehuisves het.

Die Verenigde Koninkryk (VK) het oor die jare deurlopend ʼn groot gunsteling onder Suid-Afrikaanse emigrante gebly. Die getal Suid-Afrikaners in die VK het geleidelik toegeneem van 136 720 in 2000 tot 247 336 twee dekades later.

Australië het ook ʼn aansienlike aantal Suid-Afrikaanse emigrante gelok. In 2000 het 80 650 Suid-Afrikaners hulle Doer Onder gaan vestig. Die getal Suid-Afrikaners in Australië het bly toeneem tot 199 690 in 2020.

Nieu-Seeland het ook ʼn aansienlike toename in Suid-Afrikaanse emigrante beleef: van 25 359 in 2000 tot 73 846 in 2020.

(Grafika: Pieter Cloete/Maroela Media)

Die VSA blyk nog ʼn gewilde keuse te wees. Die getal Suid-Afrikaanse emigrante in die VSA het van 65 171 in 2000 tot 117 321 in 2020 toegeneem.

Kanada het egter mettertyd ook ʼn voorkeurbestemming geword: van 36 949 Suid-Afrikaanse emigrante in 2000 tot 48 093 in 2020.

Duitsland het ʼn merkbare styging beleef, van 5 060 in 2000 tot 20 378 in 2020.

Suid-Afrikaanse emigrante woonagtig in Mosambiek het in die betrokke twee dekades van 11 835 tot 20 171 toegeneem.

Nederland was in 2000 die tuiste van 10 553 Suid-Afrikaanse ekspats. Dié getal het teen 2020 op 17 522 gestaan.

StatsSA sê ál meer Suid-Afrikaners besluit om veral in die buiteland te gaan studeer. Meer as 13 000 studente het in 2020 oor die waters gegaan om te studeer. Effens minder studente (12 636) is egter die daaropvolgende jaar oorsee om te gaan studeer.

  • StatsSA se lank verwagte migrasieverslag is gefinansier deur die Europese Unie (EU) en opgestel met behulp van sensusdata, asook data van huishoudelike opnames en akademiese navorsing.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Robert ·

Ek dink as meer mense dit kon bekostig om te emmigreer, sou die syfers heelwat anders gelyk het…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.