Albert Fritz geskors glo oor seksuele misbruik

Albert Fritz, die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid. (Foto: Twitter)

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het Sondag in ʼn verklaring bevestig Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid, is geskors oor bewerings van seksuele misbruik teen hom.

Winde het Vrydag toestemming van die klaers gekry om die ernstige bewerings van seksuele misbruik teen Fritz te bevestig. Dit hangende ʼn ondersoek deur die polisie na die bewerings. Die Wes-Kaapse regering het sy volle steun toegesê aan dié ondersoek.

Winde het sedert Fritz se skorsing gesê hy kan nie meer inligting rondom die “ernstige aantygings” teen Fritz gee nie – met inagneming van spesifieke versoeke deur die klaers vir vertroulikheid, die erns van die bewerings en die regte van alle partye op ʼn regverdige en onbevooroordeelde ondersoek.

“Ek verstaan egter ten volle die openbare belangstelling in hierdie saak en ek is bekommerd oor die geweldige spekulasie wat die afgelope week tot gevolg gehad het. Dit was nog altyd my aard om ten volle deursigtig te wees,” het Winde in ʼn verklaring gesê.

“Ek het diepe respek vir die klaers wat na vore gekom het en hul dapperheid wat hulle aan die dag gelê het.”

Winde sê hy voel dit is nie gepas om verdere besonderhede bloot te lê oor wat die klaers na bewering aangedoen is nie.

“Ek sal ander aanmoedig om soortgelyke selfbeheersing te toon. Ons moet dink aan die mense wat eerste na vore gekom het, en nie poog om hulle deur ons optrede verdere skade te berokken of in werklikheid in gevaar te stel nie.”

Volgens Winde het die regering ʼn aantal stappe gedoen om te verseker dat die klaers in hierdie saak die ondersteuning en beskerming ontvang wat hulle nodig het. “Ons het ook reeds al die klaers ingelig oor hul regte om klagtes in te dien, en ek het hulle in werklikheid aangemoedig om dit te doen.

“Daarbenewens het ons die klaers verwys na ʼn nieregeringsorganisasie (NRO) wat daarop fokus om slagoffers van seksuele wangedrag te help en by te staan. Dit nadat ons bevestiging van sodanige NRO ontvang het dat so ʼn verwysing gepas sou wees en kan voortgaan. Dit is belangrik dat hulle ʼn onafhanklike ondersteuningstelsel gereed het.”

Winde sê elke persoon wat ʼn klag na sy kantoor bring, sal met sensitiwiteit hanteer word, binne die onafhanklike ondersoek wat hy begin het sowel as ten opsigte van enige kriminele of siviele eis wat die betrokke klaers dalk self wil aanvoor. “Hulle sal ons ondersteuning hê as hulle besluit om klagte in te dien.”

Winde het dit ook duidelik gemaak dat die opsie om kriminele klagte teen Fritz te lê steeds ʼn sterk moontlikheid is, afhangend van die uitslag van die onafhanklike ondersoek om die waarheid van die bewerings te bepaal. “Ek moet deur hierdie verslag gelei word om ʼn wettige en regverdige proses te verseker wat mettertyd die toets van regsondersoeke kan deurstaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Miskruier ·

Bly maar n probleem by gewone sterflinge wat opeens aansien en geld ontvang, hul verander hulself in n god.

Delia ·

Wonder of hy dogters het. Ek verstaan nie hoekom sulke mans nie eerder prostitute gaan opsoek en daarvoor betaal nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.