Alison Botha se aanvallers ‘ʼn gevaar vir samelewing’

Alison Botha. Foto: Skermskoot uit die video

Die vrylating van Alison Botha se aanvallers dui op ʼn agteruitgang van die regstelsel en veral korrektiewe dienste, het die DA Donderdag gesê.

Botha, wat 29 jaar gelede ʼn grusame aanval deur Theuns Botha en Frans Kruger oorleef het, is boonop nie van die mans se paroolvrylating in kennis gestel nie.

Maroela Media het vroeër berig Kruger en Du Toit, wat Botha destyds verkrag en byna keelaf gesny het, is Dinsdag op parool vrygelaat.

“Dit dui op die agteruitgang van die strafregstelsel en veral die departement van korrektiewe dienste deurdat daar nie behoorlik met Botha beraadslaag is voordat die besluit geneem is nie,” sê Jahno Engelbrecht, die DA se woordvoerder oor korrektiewe dienste.

“Volgens inligting tot ons beskikking het die vrylating ook plaasgevind sonder enige beraadslaging met of oorweging van die individue wat beswaar daarteen aangeteken het.”

Botha is in 1994 deur Kruger en Du Toit aangeval. Hulle het haar verkrag en daarna 37 keer met messe gesteek. Die mans was ten tyde van die aanval op borgtog vry nadat hulle vroeër in verband met ʼn ander verkragtingsvoorval in hegtenis geneem is.

“Dit is ʼn duidelike aanduiding dat hierdie aanvallers ʼn gevaar vir die samelewing is. Hul vrylating vandeesweek uit die tronk is ʼn bedreiging vir Alison en elke ander vrou in Suid-Afrika se veiligheid,” sê Engelbrecht.

“Regter Chris Jansen het [destyds] by die vonnisoplegging na die twee mans as ‘inherent boos’ verwys en hulle tot lewenslange tronkstraf gevonnis, met aanbeveling dat hulle nooit parool toegestaan ​​word nie. Regter Jansen het verder aangedui as die doodstraf ʼn opsie was, dit op grond van die erns van hul misdade die vonnisoplegging sou gewees het.”

Volgens inligting wat die DA in ʼn parlementêre vraag aan Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, bekom het, is dit ʼn wetlike vereiste om met slagoffers van misdrywe soos verkragting te beraadslaag voordat daar ʼn besluit oor parool geneem word.

“Die versuim om Botha voldoende en betyds in te lig oor haar reg om vertoë te rig voor die besluit geneem is om parool toe te staan, is eenvoudig onaanvaarbaar.

“Die feit dat korrektiewe dienste dit as aanvaarbaar geag het om twee gevaarlike mans vry te laat sonder om Alison te raadpleeg, is ʼn aanduiding van die mislukking van Suid-Afrika se strafregstelsel.”

Volgens Engelbrecht is die destydse vrylating van die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester op parool – waarna hy twee vroue verkrag het – asook die vrylating van Jacob Zuma op mediese parool, maar net twee voorbeelde van die misbruik van die paroolstelsel.

“Dit is duidelik dat die departement en die minister geen lesse uit die monumentale debakel van die Bester-ontsnapping geleer het nie, en voortgaan om te werk sonder enige inagneming van hoe hul optrede landsburgers raak.

“Die departement van korrektiewe dienste moet onmiddellik sy paroolbesluit hersien, en behoorlik met Alison en haar familielede oor die bepalings van hierdie paroolvrylating praat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Antoinette ·

Dws geen “Restorative Justice” het plaasgevind nie?

“Restorative Justice gives people who have been harmed the chance to talk about the impact of the incident and seek answers about why it happened in a face-to-face meeting, via video, or through letters. Victims of crime often feel excluded, confused, and revictimized by the criminal justice process.”

KatjieDeKat ·

Daar moet foto’s geplaas word van hoe hulle nou lyk, dat mense veiliger kan wees. Niemand is veilig naby daardie twee nie, glo ek. Wys ons ten minste hoe die gevaar lyk, sodat mens n kans het om hul te vermy. Dis absoluut in die publieke belang.

Tewis ·

Geld wat STOM is maak reg wat KROM is.
????????????????????????????????????????????????????????????????

Theunis ·

Botha se totale lewe is verwoes, die persone verantwoordelik se straf moet so veel meer wees, hulle was, is en sal altyd ‘n gevaar vir die samelewing inhou, lewenslange tronkstraf sonder enige parool is die enige menseregtelikke keuse.

Groen Ghoen ·

Sy is vir dood agtergelaat en is ‘n lewende wonderwerk, ‘n bewys dat Lig altyd Donkerte oorwin. Dit klink nie asof haar aanvallers tot inkeer gekom het en haar om vergifnis gevra het nie?

Stofdonkie ·

Ek dink die Afrikaanse woord waarvoor jy soek is “Suid-Afrika”

Piet ·

Waar bevind hierdie twee tronkvoëls huself na hulle vrystelling Dinsdag en wat is al die parool voorwaardes wat hulle aan moet voldoen of is hierdie nie vrae wat mag gevra word nie?

Jubba ·

Hennie hierdie is die nuwe wereld, jy kan n brandsiek bees en hondsdol dier van kant maak maar nie die goed nie nee, jou belasting geld moet hullle broodjies en bersies gee vir paar jaar sodat hulle dan weer vry kan loop en hulle ding doen. Dit is wat dit is.

SomeOne ·

vra afriforum om te help om die 2 weer terug in die tronk te kry
wat gaan in lamola se kop aan, maak hy ook sy eie wette?

SjN ·

Sy is ook nie eens geken in die saak nie, maar ene Hani besluit vir die howe ivm haar man se moordenaars.

Anon ·

Daar is kere wat die regstelsel werklik teleurstellend is. Die wreedheid van hierdie aanval laat ‘n mens sidder en hierdie mans hoort nie in die samelewing nie. Die blote feit dat Alison Botha oorleef en herstel het is ‘n wonderwerk. Die paroolraad se dubbel standaarde reflekteer hoe onnosel en disfunksioneel die korrektiewe dienste werklik is. Skandelik.

Impact ·

Die feit dat Allison nie eens kennis gedra het van die parool nie, spreek boekdele. Hier is weer ‘n slang in die gras

Cindy ·

Dit is absoluut belaglik! Ek stem saam met KatjieDeKat, dit is in publieke belang om onlangse fotos te plaas. Wie van die wat besluit het dat hulle vrygelaat word, gaan verantwoordelikheid neem wanneer die 2 weer moor en/of verkrag. Gaan hulle voor die families/geliefdes van die slagoffers staan en verskoning vra.

Janice ·

Dit is ‘n ou laai van ons parool raad om gevangenis vry te laat sonder om die slagoffer of hulle families in kennis te stel. Kruger het vir lank ‘n selfoon in die tronk gehad en was baie aktief op sosiale media en die vuil gemors wat hy op FB geplaas het was skokkend. Jammer om te se, maar hierdie twee het oor die 29 jaar om in te haal en ek voel baie jammer vir hulle volgende slagoffers.

Fluisterwind ·

Watter bewyse kan die korrektiewediense lewer dat die twee gevangenisse wel
gerehabiliteer is?

Bre ·

SUID AFRIKA IS N VERLORE LAND… Geen waardes, geen geregtigheid, geen regverdigheid… NET MOOI NIKS maar beslis ‘n land van verrotting

Bre ·

Jy is doodreg SjN en ons kan NIKS daaraan doen nie. Dit het nou al reeds TE VER gevorder.

Di ·

Die Regering voel ‘n veer vir enige een se lewe in hierdie land. Solank hulle self beveilig word, is die Kaap Hollands. Kriminele het meer regte in die land as ons!! Die Minister wat dit goedgekeur het, is net so skuldig.

Jax ·

Wat n skande en on-eer aan die arme vrou! Skors die regter en kommitee wat die moordenaars vrygelaat het!

Niklaas ·

Bitter min vrouens sal op hul gemak voel met hierdie onmenslike skepsels in die omtrek.

Tsek! ·

Hulle weet nie dat hulle nie weet nie – dis hoekom hulle die posisies beklee en die tipe besluite maak!

popsa ·

Hierdie is ‘n fout en ‘n uiterste, radikale fout. Hierdie twee het BEDOEL om ‘n vrou te ONTEER en wreed te VERMOOR. Dit is slegs genade dat sy lewe. Die regter het ver gekyk, géén parool aanbeveel, omdat die doodstraf nie meer ‘n opsie is in SA nie. Die doodstraf sou egter sy eerste keuse gewees het, want hy WEET dat die kwaad onder die volk uitgeroei moet word! Hulle mag haar genadeloos verniel en verwoes, onteer en so te sê vermoor, maar self bly hulle nou VRY lewe…net om dieselfde aan ‘n volgende onskuldige vrou of vroue te gaan doen?

As vrou voel ek weerloos en onbeskerm deur die regstelsel van SA. Waarom moet daar selfs slegs ‘n geringe kans bestaan dat soiets weer kan gebeur? Beteken ‘n vrou se lewe dan niks? Het wêreldwye geskiedenis nie oor en oor BEWYS dat mense wat sulke dinge doen dit spoedig herhaal nadat parool toegestaan is nie? WAAROM word sulke afstootlike verkragters en moordenaars tussen die kosbare vroue, meisies en dogtertjies van SA vrygelaat?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.