‘Alles is vernietig,’ sê KZN-vloedslagoffers

Huise en ander infrastruktuur het in die stormweer deurgeloop (Foto: Rajesh Jantilal, AFP)

Skrywer: Reneilwe Dhludhlu

Verward en in ongeloof.

Dit is hoe inwoners van die Mega-nedersetting in Durban gevoel het toe hulle staan en toekyk het hoe hul huise te midde van verwoestende oorstromings in Durban weggespoel het. Dosyne inwoners van dié nedersetting staan sedert Woensdag in ʼn ry en wag om vir tydelike skuiling te registreer.

Lede van gemeenskap het ingespring om slagoffers te help (Foto: Rajesh Jantilal, AFP)

“Alles is weg,” sê Sinethemba Duka (31) oor en oor, met ʼn grys slaprandhoed en ʼn salmkleurige gholfhemp aan – nadat hy net ʼn paar van sy kledingstukke kon red.

Toe Duka Maandag van die werk af as straatsmous teruggekeer het, het hy hom kniediep in die water bevind. “Ek was bang,” het hy gesê.

Modder en reën het vir 30 minute aanhou styg, wat hom gedwing het om sy huis te verlaat toe die water tot bokant die dak gestyg het.

Meer as 300 mense is reeds in verwoestende oorstromings in dié provinsie dood en nóg reën word boonop vir die naweek voorspel. Amptenare het dit as “een van die ergste reënstorms in die geskiedenis van Suid-Afrika” verklaar.

Yolanda Jojozi se baba, Usisipho, is Maandag dood toe die huis waarin hulle was inmekaar gestort het [Foto: Verskaf]

ʼn 21-jarige Durbanse ma is verpletter ná die dood van haar babadogter toe hul huis ineengestort het tydens die oorstromings.

Die voorval het Maandagaand in Mayville, wes van Durban, plaasgevind, toe Yolanda Jojozi met haar twee maande oue baba, Usisipho, by dié se pa gaan kuier het. Hulle het vir die naweek in Mayville gekuier en sou Maandag na hul huis in Illovo terugkeer, maar is weens die swaar reën verhinder.

Nadat Jojozi Maandag omstreeks 22:00 vir Usisipho gebad en neergelê het, het dit hard begin reën. Toe hulle ʼn harde slag hoor, het Sabelo, Usisipho se pa, uitgegaan om ondersoek in te stel.

Volgens Nosipho Jojozi, Yolanda se tannie, het die keermuur ineengestort en op die kamer in die sinkhuis waar hulle geslaap het, geval.

”Usisipho het soos gewoonlik teen die muur geslaap. Yolanda het probeer om haar met haar lyf te beskerm maar het ongelukkig inmekaargesak en eers by die hospitaal bygekom. Haar baba is dood voordat hulle by die hospitaal uitgekom het,” vertel Nosipho in trane. Sabelo se been is in die voorval beseer.

Yolanda Jojozi se baba, Usisipho, is Maandag dood toe die huis waarin hulle was inmekaar gestort het [Foto: Verskaf]

Nosipho sê sy het om 21:00 ʼn oproep ontvang om hospitaal toe te kom om Yolanda te kom haal. Sy het beserings aan haar kop, been, arm, nek en skouer opgedoen, maar is dieselfde aand nog ontslaan.

“Ek moes Yolanda op my rug dra, omdat sy weens haar beserings nie kon loop nie.” Verskeie paaie het egter verspoel en die twee moes wag tot die son opkom voordat Nosipho vir Yolanda na haar huis in Pinetown kon neem.

Volgens Nosipho is Yolanda verpletter ná haar kind se dood. “Haar hart is uitmekaar geskeur. Ek het haar nog nooit so gesien nie. Sy is erg getraumatiseerd en huil baie. Sy slaap nie en sê sy bly hoop dat sy ʼn oproep gaan ontvang wat sê ‘Usisipho lewe nog’.”

Nosipho sê hulle kon nog nie begrafnisreëlings tref nie omdat ʼn lykskouing nog gedoen moet word.

Sy is Donderdagoggend na die huis wat ineengestort het om dokumente en persoonlike items wat Yolanda in die oorstromings verloor het, te gaan soek. Sy sou vandeesweek by Unisa registreer om onderwys te studeer.

Volgens Lennox Mabaso, woordvoerder van die provinsiale regering, sal berading en hulp aan die families wat deur die oorstromings geraak is, aangebied word.

Intussen het lede van die gemeenskap ingespring om dié wat hul huise verloor het, te help. Van dié lede het tydelike skuiling opgerig asook kos en klere vir die slagoffers bymekaar gemaak.

Pres. Cyril Ramaphosa het Durban Woensdag besoek en hulp belowe vir diegene wat deur die oorstromings geraak is (Foto: Phill Magakoe, AFP)

Inwoners het gesê die meeste huise in die Mega-nedersetting is van sinkplaat en houtplanke gemaak – nie naastenby sterk genoeg om stormwater te weerstaan nie.

Maroela Media het vroeër berig die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het in dele van KwaZulu-Natal meer as 300 mm reën binne ʼn tydperk van 24 uur aangemeld.

Pres. Cyril Ramaphosa het Durban Woensdag besoek en hulp belowe vir diegene wat deur die oorstromings geraak is.

“Bykomende inligting deur AFP”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Grens ·

So na al die looting, kan mens seker nou nie goeie blessings ontvang nie.

Koen ·

Vieslike kommentaar. Impliseer jy dat almal wat skade gehad het by die looting betrokke was.

Anonymouse ·

Ek verstaan ook nie. Ek sien die fotos en my hart gaan uit na die mense. Die ou babatjie wat so lekker glimlag vir die kamera, wat nou nie meer hier met ons nie. En het sekerlik ‘n aaklige dood gesterf. En dis die kommentaar wat mense lewer! Ek verstaan net nie die haat wat almal vir mekaar het in Suid-Afrika nie. En hoe mense dink die beste manier om haat te oorkom, is nog meer haat nie. Dit gaan my verstand te bowe.

Wondermaarnet ·

Gaan Nkandla toe en trek daar in. Ek is seker zumpie kan doen met geselskap en sal sy mense met ope arms ontvang.

Anonymouse ·

Ek kan nie glo dat Christelike Afrikaners so min empatie het met hulle medemens nie.

Keelvol ·

Nou waar is julle held van die kinderagtige party dan nou? Hy gee dan so min vir sy mense om.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.