Dele van KZN kry 300 mm in een dag

Oorstroomde paaie in KwaZulu-Natal (Foto: Verskaf)

Dele in KwaZulu-Natal het oornag meer as 300 mm reën gekry en die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) waarsku oor nóg reën vir laat Dinsdagmiddag.

Volgens die weerdiens se reënverslag het daar altesaam 311 mm reën in 24 uur in Margate geval, gevolg deur 307 mm in Mount Edgecombe, 304 mm in die noorde van Durban (by die Virginia-lughawe), 225 mm by die King Shaka- internasionale lughawe en 188 mm in Port Edward.

Hannelee Doubell, woordvoerder van die SAWD, sê hoewel impakgebaseerde waarskuwings betyds deur die weerdiens uitgereik is, blyk dit dat die buitengewone swaar reënval binne 24 uur selfs die verwagtinge van die Suider-Afrikaanse meteorologiese gemeenskap oortref het.

Sy sê sulke hoë reënvalsyfers word gewoonlik geassosieer met die hoeveelheid reën wat deur tropiese siklone teweeggebring word. “Hierdie afsny-laagdrukstelsel wat sedert Vrydag in die land woed en verantwoordelik is vir die swaar reën, is egter nie tropies van aard is nie, en ook nie ’n sikloon nie,” het Doubell bevestig.

Dele in KZN het tot 300 mm reën in 24 uur gekry (Foto: Verskaf)

Swaar reën val sedert die naweek oor dele van KwaZulu-Natal en die departement van samewerking en tradisionele sake in KwaZulu-Natal het Dinsdagmiddag bevestig dat daar reeds 45 sterftes weens die swaar reën aangemeld is.

Volgens Robert McKenzie, woordvoerder van die provinsiale nooddiens, is van die paaie in die provinsie wat vroeër vandag oorstroom het, weer oopgestel. Hy waarsku motoriste egter om steeds versigtig op die paaie te wees omdat daar voorwerpe en modder, en soms bome, in die pad lê.

McKenzie sê motoriste moet ook versigtig wees waar mangatdeksels tydens vloede afgespoel het en ook waar nuwe slaggate op die paaie gevorm het.

Sipho Hlomuka, LUR vir menslike nedersettings, samewerkende regering en tradisionele sake in die provinsie, het vroeër vandag ʼn beroep op inwoners gedoen om uiters versigtig te wees en waar moontlik bedrywighede en reisplanne uit te stel.

Hy het inwoners wat in laagliggende gebiede woon, versoek om skuiling op hoër terreine te soek, aangesien die swaar reën na verwagting oorstromings sal veroorsaak.

“Die aanhoudende swaar reën verhoog die risiko van oorstromings in informele nedersettings, laagliggende gebiede en brûe, aangesien die grond reeds versadig is van die naweek se reën,” het Hlomuka gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Samuel ·

Mag die liewe Heer gee dat nood reddingswerkers spoedig ‘n sinvolle bydrae kan maak. Politici moet ophou om munt te wil slaan uit hierdie situasie.

annie ·

Daar was nie behoorlike waarskuwings oorgedra nie. Die erns is totaal onderskat. Tydens ‘n vorige soortgelyke vloed is motoriste ook onkant gevang met gevolglike groot skade en lewensverlies. Ons weerdiens moet meer in pas kom met wêreldstandaarde.

Jacques ·

Hoe warmer die aarde, hoe meer vog in die lug…. en hoe meer ekstreem die storms en vloede

Lillian ·

3 weke gelede daar vakansie gehou, wie sou kon dink dat dit nou so sou lyk? Sterkte aan almal daar!

Cherokee ·

Dit was hewig. Reën het net bloot ingestroom deur nuwe vensters en vensters wat onlangs gediens is, asof daar geen rubbers is om die ruite te seël. Water van die vloere opgetel met handdoeke in emmers en dit weggespoel. Die reënvoorspelling vir komende Saterdag die 16de, is 80% kans op reën in Durban.
Vrydag 60% en Saterdag 80%, so dit gaan waarskynlik weer ‘n nat Vrydag en Saterdag wees.

Cherokee ·

Die reënvoorspelling vir Durban is 20% vir nou, en ons het reeds om etenstyd ‘n reënbui gehad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.