‘Alles soos verwag’ in matrieks se geografievraestel

skole matrieks matriek matriekeksamen onderwys

(Argieffoto: Maroela Media)

Nadat sommige matriekleerders ʼn onstuimige tyd met die chemievraestel gehad het, was van hulle minstens verlig toe Dinsdag se geografievraestel “soos verwag” saamgestel is.

Andre Bosch, ʼn matriekleerder aan Hoërskool Waterkloof, sê die 150-punte vraestel was oor die algemeen maklik.

“Dit was saamgestel soos baie ander vraestelle wat ek tydens my voorbereiding gedoen het,” sê hy.

“Die kaartwerk in vraag drie het veral vir my uitgestaan, juis omdat dit so maklik was.”

Volgens Andre is kaartwerk gewoonlik die afdeling in ʼn geografievraestel wat veral ʼn uitdaging kan bied, maar die kaartwerk in hierdie vraestel “was een van die maklikste kaartwerkvrae wat ek in ʼn hele ruk teëgekom het”.

ʼn Matriekleerder aan Hoërskool Charlie Hofmeyr in Ceres sê wel geen van die vrae was só opgestel dat dit sommer die antwoord weggegee het nie.

“Die vraestel het gehandel oor werk wat ons in die klas behandel het, so daar was niks vreemd daaraan nie,” sê Joshua Bulcraig.

Divan Nel van Hoërskool Zwartkop sê in die geval van die geografievraestel was drie uur genoeg tyd om gemaklik klaar te skryf.

“Al die matrieks in my skool kon hul vraestelle voltooi,” sê Divan.

Joshua sê hy het só gemaklik geskryf dat hy sommer na net meer as twee uur sy vraestel voltooi het.

Die matrieks gaan vandag (Woensdag) voort met hul Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen wanneer hulle die tweede Engels-vraestel aflê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.