Matrieks dalk onderskeidings kwyt oor chemievraestel

(Argieffoto)

Talle matriekleerders is diep bekommerd dat hulle dalk ʼn beoogde onderskeiding in fisiese wetenskap kwyt kan wees nadat hulle Maandag die chemievraestel geskryf het wat “op so ʼn hoë standaard was, dat dit grens aan onbillik”.

Só sê Celeste Labuschagne, vakspesialis vir wetenskappe by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), nadat SOS verskeie klagtes oor die vraestel ontvang het.

Verskeie matriekleerders, ouers en onderwysers is dit eens dat gister se vraestel ongebalanseerd en deurspek met foute was.

ʼn Matriekleerder aan Afrikaanse Hoër Seunskool (AHS) in Pretoria het Maroela Media gister reeds op beweerde foute in die vraestel gewys wat hom onnodig laat kopkrap het.

Labuschagne het self twee foute uitgewys wat al vroeg in die vraestel verskyn het.

“In een van die vrae het ʼn gedeelte van ʼn skets ontbreek en in ʼn ander vraag het bepaalde inligting ontbreek,” sê sy.

“Die leerders wat deurlopend goed gevaar het sou dadelik die fout agtergekom het, maar ʼn mens moet in ag neem dat hierdie kinders onder geweldige druk is en dat dit hulle moontlik kon pootjie.”

Daar was nog ʼn vraag, wat later in die 150-puntvraestel verskyn het, wat glo ietwat van die leerplan afgewyk het, en dus geensins in matrieks se verwysingsraamwerk is nie.

“Selfs al het ʼn matriek al die vorige vraestelle deurgewerk, sou hulle nie só vraag in ʼn vraestel gekry het nie,” sê Labuschagne.

“Die algemene gevoel is dat die vraestel nie ʼn billike assessering van leerders se kennis was nie, en baie onderwysers is ongemaklik oor hoe moeilik dit was.”

Verreikende gevolge

Labuschagne sê dit is moontlik dat baie onderskeidings in hierdie vak gevolglik in die slag gaan bly.

“Baie leerders se universiteitskeuring hang van hierdie punte af en as hulle nie daardie onderskeiding kry nie, gaan hulle dalk nie gekeur word [vir hul voornemende studierigting] nie.”

Sy verduidelik dat 75% van matriekleerders se jaarpunte deur die eindeksamen bepaal word; “as jy sleg vaar, kan dit jou dalk ʼn onderskeiding kos”.

Ouers van matriekleerders het reeds op sosiale media hul kommer te kenne gegee oor die moontlike gevolge van ʼn swak punt in die vak.

ʼn Ouer het op Facebook gesê dat haar seun gesien het hoe baie matriekleerders huilend uit eksamenlokale gestap het, terwyl ʼn ander een aanvoer dat daar met leerders se toekoms gespeel word.

Volgens Labuschagne is daar egter nie veel wat ouers of leerders kan doen noudat die vraestel klaar geskryf is nie.

“In hierdie stadium is daar niks wat gedoen kan word nie. Ons kan net hoop dat daar in die nasienproses op sekere probleme gelet word.”

Labuschagne sê normaalweg word sowat 10 000 vraestelle gemerk voordat tendense uitgelig en riglyne gegee word oor hoe om dit te hanteer. Daar is egter min kans dat die matriekleerders se punte opwaarts aangepas gaan word.

“Vanaf 2008 is daar nooit regtig aanpassings in fisiese wetenskap gedoen nie,” sê sy.

“Maar daar is nogtans hoop dat as ʼn groot probleem by die nasien van die vraestelle opgemerk word, ʼn kurwe-aanpassing gedoen kan word.”

Matriekvraestelle gaan deur ʼn uitgebreide goedkeuringsproses voordat dit in die eindeksamen gebruik word. Dit moet eerstens aan verskeie vereistes voldoen, waarna dit onder meer aan ʼn modereringspaneel voorgelê word.

“Of al hierdie prosesse 100% gevolg is, weet niemand nie, maar ons het baie vrae,” sê Labuschagne.

Maroela Media het ʼn navraag oor die vraestel aan die onderwysdepartement gerig en kommentaar sal bygewerk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Nou as die vraestel deur ‘n uitgebreide nasienproses gegaan het en gemodereer is, hoe sluip fout(e) steeds in? O …. ek vergeet, diegene wat die nasienwerk en moderasie gedoenn het, is 1/10 sélf 30%-kandidate.

George ·

Jys reg, enige iemand na matriek ’76 se syfer moes 33,3% gewees het.

Gert ·

Hoekom laat skole nie eers die onderwyser in die spesifieke vak die vraestel eers skryf nie. Kom ons se Bv die onderwyser skryf n toets vraestel met honderd vrae waarvan 50 in die leerder se vraestel gaan verskyn. Die onderwyser weet nie watter 50 nie maar kan wel goedkeuring gee aan al honderd indien dit regverdig en reg is. Ek stel voor die onderwyser moet die minister van onderwys wees.

Gert ·

Hoekom laat skole nie eers die onderwyser in die spesifieke vak die vraestel eers skryf nie. Kom ons se Bv die onderwyser skryf n toets vraestel met honderd vrae waarvan 50 in die leerder se vraestel gaan verskyn. Die onderwyser weet nie watter 50 nie maar kan wel goedkeuring gee aan al honderd indien dit regverdig en reg is.

VINETTE ·

My kind het ook gese vorige jare se vraestelle was makliker. Hierdie eksamen was daar in sekere vraestelle vrae wat tydens covid uitgehaal was maar nou terug is sonder dat die werk behandel was. Of goed word direk van engels na Afrikaans vertaal so dat die betekenis verlore gaan. Lyk eerder of hul kinders opstel om te faal.

Wildemien ·

My seun het dieselfde ervaring gehad. Die Afrikaanse vraestel was lost in translation. Nog ‘n stukkie ammunisie wat uitgehaal word vir die regverdiging om weg te doen met Afrikaanse skole.

Theresa ·

Dit is juis waar die A-kandidaat van die res geskei word, om buite die boks te dink, al is dit nie in die verwysingsraamwerk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.