Uiteenlopende menings oor matrieks se chemievraestel

(Argieffoto: Shutterstock)

Die tweede fisiese wetenskapvraestel wat matriekleerders Maandag geskryf het, het redelik uiteenlopende opinies uitgelok, en selfs bewerings laat ontstaan dat daar foute in die vraestel was.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) sê wetenskaponderwysers was verdeeld oor die vraestel en hoe matriekleerders dit ervaar het.

Een onderwyser meen dat die vraestel “goed gebalanseerd was” en dat leerders gevoel het dat vorige vraestelle moeiliker was.

ʼn Ander onderwyser het weer opgemerk dat dit ʼn moeilike vraestel was en dat leerders wat ʼn oog op ʼn onderskeidings in dié vak het, bekommerd is oor hoe hulle gaan vaar.

“Daar was verskeie vrae wat vreemd gevra is, en leerders sou baie insig moes hê om dit te kon beantwoord,” sê een van die onderwysers.

“Daar was genoeg makliker vrae vir leerders om ʼn gemiddelde punt te kry, maar diegene wat onderskeidings wil hê het gekla dat hulle onseker was oor ʼn paar vrae omdat hulle dit nog in geen ander vraestelle gesien het nie.

“Daarom glo ek dat slegs leerders met goeie insig onderskeidings sal kry.”

Stephan Ehlers, ʼn matriekleerder aan Afrikaanse Hoër Seunskool (AHS) in Pretoria, sê daar was boonop “definitiewe foute” in die vraestel.

Volgens Ehlers het hy by vraag twee en vraag vier opgemerk dat daar foute was en dat dit hom ʼn bietjie gepootjie het.

“Die vraestel was regdeur uitdagend, maar die kombinasie van foute en moeilike vrae het ʼn ongemaklike voel by my gelaat,” sê hy.

ʼn Matriekleerder van Hoërskool Garsfontein het die vraestel ook as moeilik beskryf.

Hendrik Kruger sê daar was ʼn aantal vrae wat hy glad nie herken het nie, en boonop was dit moeilik gestel. Hy het nietemin genoeg tyd gehad om vraestel te voltooi.

Wetenskaponderwysers wat met Maroela Media gepraat het, sê daar was net genoeg tyd om die drie uur lange vraestel te voltooi vir diegene wat hulle werk goed geken het.

“Sterker kandidate kon betyds klaar skryf, wat beteken dat leerders wat oor die algemeen swakker vaar nie terug kon gaan na vrae wat hulle oorgeslaan het nie, en tyd het verstryk.”

Dié chemievraestel het uit 150 punte bestaan. Die eerste wetenskapvraestel het oor fisika gehandel en is verlede week geskryf.

Die eerste wetenskapvraestel was volgens onderwysers “goed gebalanseerd” en die “kognitiewe verspreiding het binne die vereistes geval”.

“Daar was innoverende en nuwe vrae in die vraestel wat leerders uitgedaag het, maar terselfdertyd het bekende scenario’s gesorg vir selfvertroue. Dit was ʼn goeie balans.”

Die matrieks gaan môre (Dinsdag) voort met hul Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen wanneer hulle die eerste geografievraestel aflê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jaco ·

Vreemd dat die vraestel nie voor die eksamen uitgelek het nie. Gewoonlik lek moeilike vakke wat op vaste wetenskaplike reëls gebaseer is, se vraestelle uit. Altyd wiskunde, chemie. Maklike vakke, waarvan die standaarde baie laag is, se vraestelle lek nooit uit nie. Geskiedenis en geografie was my 2 moeilikste vakke op skool, maar dís vandag so maklik dat dit nie eens op DSTV se hersieningsprogramme behandel word nie.

Sonblom ·

Ja, daar is beslis. Moet asb nie al die onnies oor dieselfde kam skeer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.