AmaBhungane wen regstryd

Sam Sole, besturende vennoot by amaBhungane (Foto: amaBhungane)

Die Johannesburgse hooggeregshof het Maandag ’n bevel ter syde gestel wat die ondersoekende joernalistieke eenheid amaBhungane effektief verhoed het om te berig oor dokumente wat verband hou met die omstrede Johannesburgse sakeman Zunaid Moti en sy groep maatskappye.

Die Moti-groep beweer dié dokumente is gesteel deur ’n werknemer voordat dié bedank het.

Regter Roland Sutherland het egter Maandag die aanvanklike bevel – wat in kamerhof deur regter John Holland-Muter toegestaan is – tersyde gestel en dit beskryf as “’n misbruik van die proses van die hof”.

Sutherland het ook beslis dat die Moti-groep amaBhungane se regskoste betaal.

“’n Sleuteldimensie van doeltreffende ondersoekende joernalistiek is die ontvangs van inligting van bronne af wat anoniem wil bly,” sê Sutherland in die jongste uitspraak in die saak wat die land se mediavryheid getoets het.

Sutherland het in sy uitspraak daarop gewys dat die wet “binne perke” voorsiening maak vir die beskerming van bronne.

“Ons is verheug oor hierdie klinkende bevestiging van ondersoekende joernalistiek en amaBhungane se rol om dit met integriteit en in die openbare belang na te streef,” het Sam Sole, hoofredakteur van amaBhungane, Maandag aan AFP gesê.

’n Groot deel van die saak, wat verlede week aangehoor is, het gefokus op die onderskeid tussen persvryheid en die beskerming van privaatheid.

Die aanvanklike bevel het amaBhungane die reg gegun om voor Oktober vanjaar terug te keer na die hof en dit teen te staan voor dit finaal gemaak sou word.

Maroela Media het vroeër berig die beëdigde verklaring in die aanvanklike aansoek – agter geslote deure – is onder eed verklaar deur die nuut aangestelde uitvoerende hoof Andrew Dondo Mogajane nadat Moti onlangs as uitvoerende hoof van die 250 maatskappye in die groep bedank het.

Mogajane voer aan die dokumente in amaBhungane se besit is laat verlede jaar gesteel deur die voormalige werknemer Clinton van Niekerk, net voor hy vinnig bedank het.

Die groep se prokureurs, Ulrich Roux en Vennote, het in April vanjaar die dokumente skriftelik terug geëis omdat dit vertroulike inligting bevat.

AmaBhungane het egter geweier om die dokumente te verskaf, aangesien dit moontlik die identiteit van sy vertroulike bronne kon onthul.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frank ·

Daar behoort meer berigte van hierdie mense te wees. Hulle doen baie goeie werk teen korrupsie en wanpraktyke agter die skerms, onder die radar!!

Frank ·

So dit boemerang toe want nou is mense behoorlik nuuskierig oor die besigheid wat onderduimse taktiek aanwend om iets geheim te hou (ander Frank)

Althes ·

Dit is ñ blye dag vir persvryheid. Ek het baie respek vir ondersoekende joernaliste en ons het hul beriggewing nodig. Daar is te veel konkelwerk in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.