Amazon-sonkragplaas vul SA kragnetwerk aan

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Amazon Web Services (AWS) het aangekondig dat sy eerste sonkrag-aangedrewe kragstasie in die land eindelik begin om hernubare energie tot die nasionalekragnetwerk by te dra.

Die 10 MW-sonkragplaas strek oor 20 ha in die Noord-Kaap en verskaf tans slegs hernubare energie aan al sy datasentrums in die land.

“Ons is opgewonde om saam met die departement van minerale hulpbronne en energie, die nasionale energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) en Eskom te werk om ʼn nuwe model vir hernubare kragopwekking in Suid-Afrika te lewer,” sê Nat Sahlstrom, direkteur van AWS Energie.

Dié sonkragprojek sal na verwagting tot 28 000 per megawattuur (MWh) se hernubare energie per jaar opwek, wat gelykstaande is aan die jaarlikse elektrisiteitsverbruik van meer as 8 000 Suid-Afrikaanse huishoudings.

Na raming sal die sonkragplaas voorkom dat meer as 25 000 ton se koolstof vrygestel word – dit is die ekwivalent van 5 400 motors wat jaarliks van die pad verwyder word.

“Hierdie projek bring Amazon nader aan sy doel om netto-nul-koolstofvrystelling teen 2040 te bereik en ons bedrywighede met 100% hernubare energie aan te dryf.”

Sowat 65% van Amazon se bedrywighede word reeds deur hernubare energie onderhou en altesaam 234 hernubare energieprojekte is wêreldwyd van stapel gestuur.

Die jongste projek in Suid-Afrika het reeds 167 werksgeleenthede geskep, wat grotendeels deur die plaaslike gemeenskap in die Noord-Kaap gevul word. Oortollige konstruksiemateriale soos palette en elektriese kabeldromme is ook aan plaaslike meubelondernemings en vaardigheidskole geskenk.

Volgens SOLA, die onderneming wat die sonkragplaas ontwikkel het, is dit vir Amazon belangrik om nie net hernubare energie in die land te bevorder nie, maar ook om Suid-Afrikaanse ondernemings te ondersteun.

“SOLA en Amazon as geheel is daartoe verbind om Suid-Afrika deur behulp van volhoubare energiebronne te transformeer, sodat die land se mense en sy ekonomie kan voortbestaan en groei,” sê Dom Wills, uitvoerende hoof van SOLA.

Amazon se aankondiging volg kort nadat die land ʼn geruime tyd lank gebuk gaan onder onbeplande kragonderbrekings en strenger beurtkragfases.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Di ·

Dis is wonderlik, wonder net of ons geagte, korrupte regering dit gaan goedkeur en wanneer?

Barney ·

Wel dit werk nie want daar is steeds load shedding. Kimberley was die eerste dorp in die wêreld wat krag gehaad het wat self geproduseer was. Vandag kom Amazon, ń globale reus wat klein besighede toe maak en verkoop krag aan ons. Dis belaglik! Nou dat almal weet dis ń globale reus besigheid hoop ek arm mense help hulself tot ń paar sonpanele verniet.

Piet parys ·

Saam met my 9500 kw / jaar wat ek opwek is daar nou darem spaar kw/ uur by Eskom as die krag aan is natuurlik

Frederik C ·

Besef Amazon nie dat Eskom bankrot is, en hulle nie gaan betaal nie ??

DisEkke ·

Dalk gaan dit oor meer as net geld. Hierdie reuse firmas kom almal in met een of ander agenda…

Papsak ·

Ja hulle moet net kyk eskom kan nie nou eers betaal om hulle korruptheid reg te kry nie hoop hulle sal daar kan betaal

piet ·

Die jaarlikse elektrisiteitsverbruik van 8000 huishoudings. As dit korrek is dan is dit mos peanuts, ‘n druppel in die emmer.

marius ·

Wat is die gevolge van die uitstraling van die massiewe son paneel plase ? Geen antwoord .

Anoniem ·

Eskom betaal nie vir die krag nie Amazon kry afslag op hulle rekening

Johann ·

Soo 1000MW gaan 20 000ha benodig Kan gladnie sien hoe ons kan oorskakel sonkrag nie

Hoekom ·

Dit is nie volhoubaar nie. Tussen 15 en 20 jaar dan moet jy die panele vervang. Dan sit ons weer waar ons sit. Om sonpanele te vervaardig gebruik nogsteeds ‘n hoop steenkool om die quartz te smelt, so son panele is ook nie rerig omgewings vriendelik nie…

annie ·

Die ANC, unies en die talle skelm kaders is al die pad verantwoordelik vir Eskom se ellende. Die duur nuwe nuttelose kragstasies het bygedra. Indien private groepe vroeër met groen krag kon begin was ons nie nou so ver agter nie. Die R130 miljard laat gulsige oë blink. Ons steenkoolmyne maak lekker geld en verskaf werk. Eskom het in ‘n swart, bitter aangebrande tameletjie ontaard wat nie maklik opgeruim kan word nie.

Jack ·

Wolf in skaapsklere. Gaan vind eers uit wie die groep besit en besluit weer of eie belang nie maar weer die dryfveer is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.