‘ANC sal 2024-verkiesing wen’ – Ramaphosa

President Cyril Ramaphosa (Foto: African National Congress/Twitter)

Die ANC sal ’n volstrekte meerderheid in die 2024-verkiesing wen en nie in ’n koalisie hoef te regeer nie.

Só het president Cyril Ramaphosa Saterdag in Sandton gesê toe hy vrae beantwoord het in ’n bespreking oor die ANC se verkiesingsmanifes. ANC-ondersteuners word Sondag tydens ’n byeenkoms in Soweto oor die manifes ingelig.

Gevra oor die soort partye wat die ANC as bondgenote sien om aan bewind te bly, het die president geglimlag en gesê: “Ons werk nie om in ’n koalisie te wees nie.”

“Die meerderheid mense wat nog altyd vir die ANC gestem het, sien die ANC steeds as die enigste voertuig vir die transformasieproses in die land, om dit te konsolideer en beter te maak.

“Baie mense sien niemand anders dit beter doen nie.”

Die ANC sal op die grond ondersteun word deur die grootste vakbondfederasie in die land, die magtige Cosatu en die Kommunistiese Party (SAKP).

Tydens die laaste veldtog in 2019 het die ANC ekonomiese en sosiale transformasie, die stryd teen korrupsie, misdaad en die vordering wat sedert apartheid gemaak is, vooropgestel.

“Ons het ’n heel ander land,” het hy gesê, maar bygevoeg dat “die skaduwee van apartheid steeds ’n skadu werp op alles wat die party probeer doen het”.

Onder apartheid het 36% van Suid-Afrikaners toegang tot elektrisiteit gehad en nou is hierdie syfer naby aan 93%, het Ramaphosa gesê.

“Dit is ’n groot prestasie, maar daar is nog baie om te doen.”

Ramaphosa het erken baie kiesers is “bitter krities oor die ANC”.

“Vernuwing gebeur nie oornag nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.