Appèl kom oor rybewyse wat elke vyf jaar verval

(Foto: Maroela Media)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het in die hooggeregshof in Pretoria aansoek gedoen om verlof tot appèl teen die uitspraak dat die geldigheidstydperk van rybewyse nie hersien moet word nie.

Volgens AfriForum poog hy hierdeur om te verhoed dat padgebruikers beboet word wat nie betyds hernude rybewyse kon bekom nie.

Waarnemende regter JJ Strijdom het op 30 Oktober AfriForum se aanvanklike hersieningsaansoek van die hand gewys. Die uitspraak het gestel dat daar binne 180 dae nadat die aanvanklike regulasie rondom die geldigheidstydperk van bestuurslisensiekaarte uitgevaardig is, ʼn hersieningsaansoek gebring moes word.

AfriForum se regspan voer egter in sy appèlaansoek aan dat daar voldoende meriete is om tans wel ʼn hersieningsaansoek te bring, omdat die tersaaklike regulasie nie strook met die Nasionale Padverkeerswet en die Grondwet nie.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, wil die departement van vervoer regulasies afdwing wat in baie gevalle nie moontlik is om na te kom nie. “AfriForum het verskeie klagtes ontvang van individue wat nie betyds hul hernude bestuurslisensiekaarte van die departement van vervoer ontvang nie. Dit lei daartoe dat hulle beboet word ten spyte van elke poging om wettig gelisensieer te bly.”

AfriForum wys ook daarop dat die departement se lisensiekaartdrukker die afgelope paar jaar dikwels onklaar geraak het en dat dit duidelik is dat rybewyse steeds vinniger verval as wat nuwes gedruk word.

“Suid-Afrikaanse padgebruikers weet hoe dit voel om as gevolg van ʼn gebreekte drukker beboet te word,” verduidelik Boshoff. “As die departement van vervoer nie bestuurslisensiekaarte kan druk nie, moet hulle ook nie boetes vir vervalde bestuurslisensiekaarte druk nie – die onreg is ooglopend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hans ·

Wanneer verval huweliksertifikate elke vyf jaar?
Hel, kan baie onnodige onkoste en tyd spaar.

Casper ·

Dit is volgens my ‘n geld maak geleentheid.Aan wie behoort die onderneming wat die kaartjies druk,’n oud politikus.In Eswatini voorheen Swaziland verval die lisensie nooit nie.Ons lisensiekantoor hanteer Maandae en Dinsdae aansoeke om bestuurderslisensie en hernuwing,dan doen hulle net 20 aansoeke.Dan ry jy 50 km verder na Pauloietersburg en jy word elke dag van die week gehelp.Ek,my vrou en my dogter het daar aansoek gedoen en dit het +_ 15 minute geduur dan is jy klaar.

Casper ·

As hulle dan beperkings wil instel maak die lisensies geldig vir 10 jaar.Dit gaan tyd en geld bespaar.

hendrik ·

Ongeag van die tyds duur wat in elk geval niks werd is nie want ek wag nou al am per 2jaar vir my hernuwing . Maak maar liewer vrde daarmee

Bolandse Nooi ·

Aaaag …. mense, maak soos ek … kry ‘n tydelike lisensie elke 6 maande. Ek sal NOOOOOOOOOIIIIIIIT ooit die sig-toets slaag (sonder oogkundige besoek en bestuur met bril nie), daarom probeer ek nie eens meer my lisensie elke 5 jaar hernu nie; ek gaan net aan met ‘n tydelike lisensie “and none is the wiser”.

Heila Isabella ·

Ek stem dit is net n geld maak storie en hernu net elke 10jr dis meer billik teenoor elke bestuurder

Papsak ·

Geld maak stories en onbevoegde mense wat daarmee werk ook nog verleng die lisensie tyd

JohanR ·

Is rerig verby tyd dat jou liksensie vir 10 jaar geldig is. Dit was van die begin af net ‘n lekker ANC geld maak storie, soos met die e-tols.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.