‘ATKV-Skryfskool bestaan steeds’

(Foto: Kenny Eliason / Unsplash)

Die ATKV-Skryfskool het Woensdag geen twyfel by mense gelaat dat hy inderdaad steeds bestaan en voortgaan om Afrikaans in die land te bevorder.

Dit volg ná die nuus dat die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit (NWU) oënskynlik nie meer bestaan nie.

“Hoewel ons saamstem dat ʼn hersiening van die samewerkingsooreenkoms rakende die ATKV-Skryfskool op die Potchefstroomkampus nodig is, wil ons dit onomwonde stel dat die ATKV-Skryfskool as handelsmerk steeds bestaan,” het die skool in ʼn verklaring gesê.

“Die skool se werksaamhede was nooit tot die NWU-kampus beperk nie, en skryfkursusse vind ook elders in die land onder hierdie vaandel plaas.”

Die jaarlikse ooreenkoms tussen die ATKV en die NWU is nooit hernu nadat dit aan die einde van 2021 verval het nie. Die nuus is nooit aan die groot klok gehang nie, hoewel gerugte en bespiegelings oor die toekoms van die skool al geruime tyd die ronde doen.

Die ATKV sê nou dit is wel vir hom belangrik om saam met die NWU se Skool vir Tale te besin oor die toekomstige sakemodel van die ATKV-Skryfskool.

Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU op Potchefstroom, het vroeër aan Maroela Media gesê dat projekte wat voortaan by die NWU aangepak sal word, onder ʼn ander vaandel sal geskied om ook “veeltaligheid te bevorder”.

Volgens die ATKV was dit nog altyd deel van sy missie en visie om erkenning aan ander inheemse tale in die land te gee, soos dit blyk uit verskillende projekte wat hy oor die jare heen aangepak het. Sy fokus bly tog om Afrikaans te bevorder om mure tussen Suid-Afrikaners af te breek en wedersydse respek vir mekaar se moedertale aan te moedig.

“By toekomstige ATKV-Skryfskole sal die benadering binne ʼn meertalige konteks egter altyd fokus op die bevordering en uitbou van Afrikaans, maar nooit tot die nadeel van ander taal- en kultuurgroepe nie,” sê die ATKV.

“Die ATKV wil dit benadruk dat die ontwikkeling en koestering van skryftalent in Afrikaans vir ons kernbelangrik bly. Die skryfkuns is ʼn kragtige manier om Afrikaans as mondstuk vir die taal se sprekers in te span, maar ook as weerspieëling van die tydsgees en om die status quo uit te daag.”

Die ATKV is reeds besig om nog ʼn ATKV-Skryfwerksessie te beplan waaraan aspirantskrywers kan deelneem.

Hiermee saam ondersteun die ATKV ook die Afrikaanse letterkunde en skryfkuns op vele ander maniere, deur onder andere die organisasie Afrikaanse Skrywers en Mentors (ASEM), wat hulle beywer vir die ontwikkeling en mentorskap van aspirantskrywers, te ondersteun. Die ATKV werk ook ten nouste saam met die regeringsdepartemente van sport, kuns en kultuur en ander vennote, soos die Prins Albert-leesfees en ander feeste, onder andere die ATKV-Boeke-oase op kunstefeeste.

“Wees dus verseker daarvan dat die Afrikaanse skryfkuns steeds vir die ATKV van uiterste belang is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.