Baba in trollie ‘wou opgetel word’

Skermskoot van die video.

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn baba in ʼn Spar in Meyersdal probeer ontvoer het, het glo aan die kind se ma gesê dat die baba opgetel wou word, dis hoekom hy haar uit die winkeltrollie gelig het.

“Ek was so kwaad, geskok en histeries,” het Danielle Wolff in ʼn Facebook-plasing oor die voorval gesê.

Kringtelevisiebeeldmateriaal het Sondag vasgevang hoe ʼn man Wolff se agt maande oue baba uit ʼn winkeltrollie gryp terwyl Wolff vir ʼn oomblik haar rug draai om vleis te kry.

Sy het die beeldmateriaal by die winkelbestuur gekry en is na die Brackendowns-polisiestasie om ʼn saak aanhangig te maak.

ʼn 43-jarige man is kort ná die voorval in hegtenis geneem.

AO Gerhard Cornelius, polisiewoordvoerder, het intussen aan Maroela Media bevestig dat die man ʼn werknemer van die betrokke Spar is.

“Hy het Dinsdag in die Palm Ridge-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot ontvoering. Die saak is tot 15 September uitgestel,” sê hy.

Wolff het ná die voorval die beeldmateriaal op Facebook gedeel en die dag se gebeure uiteengesit, met die waarskuwing: “Jy dink dit sal nooit met jou gebeur nie”.

“Ek het opgekyk en toe is sy weg,” sê Wolff.

“Ek het haar in die arms van ʼn ander man gekry, haar uit sy arms gegryp en gevra wat soek hy met haar.”

Die man het glo skertsend gesê dat hy verby die trollie geloop het “en my dogter se arms was in die lug, so toe tel hy haar op”.

Een van die mans se kollegas het na bewering saam met hom gelag, maar Wolff sê sy het niks daarvan snaaks gevind nie. Sy was onseker wat om volgende te doen, maar voordat sy kon besluit, het die man haar weer genader om te “demonstreer” wat haar dogter gedoen het en dat sy inderwaarheid saam met hom wou gaan, aangesien sy nie gehuil het toe hy haar optel nie.

“Ek was oorstelp van emosie en het eindelik besluit om die trollie opsy te sit en die voorval by die bestuur aan te meld. Die bestuur het my verseker dat hulle die werknemer sal ondervra,” sê Wolff.

Volgens die bestuur het die betrokke werknemer “geen kwaad daarmee bedoel nie”.

Wolff was egter nie oortuig nie.

“Ek het die beeldmateriaal al soveel keer gekyk, ʼn paar sekondes later en wie weet wat kon gebeur het. Dit is ons onskuldige kinders en babas dié. Wees asseblief versigtig,” waarsku Wolff.

Die hoof van Spar Suid-Afrika het intussen na die familie uitgereik om hulle en die polisie in die ondersoek by te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Andre ·

Niemand, maar niemand tel iemand vreemd se kind op sonder toestemming nie.

KatjieDeKat ·

Baie waar! Ek sien nou die dag in Pick n Pay n man staan met n klein babatjie. Ek vra of ek die baba asb kan vashou vir n minuut of twee, ek raak nog steeds broeis as ek n baba sien. Mooiste ou dingetjie. MAAR ek het natuurlik reg langs hom bly staan met sy kindjie. Sommige mense sal seker nie daarvan hou nie maar ek is darem nou al byna n ou tannie so by die paar geleenthede wat ek vra, kry ek darem kans om weer n slag n ou babatjie vas te hou:-)

George ·

Ek sal nooit my kind enigens vir vreemdelinge gee nie, maak nie saak hoe oud of jonk nie

Wielspore ·

Ek het na die video op Youtube gaan kyk, die werknemer het die vrou dopgehou vanaf ‘n afstand en nader gestap, toe sy afbuk toe vermeerder hy sy spoed, die kind het nie hande opgelig toe hy verby stap. Vir my lyk dit soos ‘n doelbewuste poging om die baba te vat.

Christine ·

Absoluut, hy lieg mos! Dit tel in die eerste plek kriminerend teen hom, baie stil-stil dit gedoen en met die kind weggeloop.

Darts girl ·

Presies ek het ook die video gesien en daai kind het definitief nie haar arms in die lug gehad nie. Hy het doelbewus na haar toe geloop en opgetel en weg gestap om haar te ontvoer.

George ·

Ek weet ook nie, maar die man in die rooi hoody nader kom lyk vir my ook verdag, ek vermoed, in my opinie, die spar werker wou die kindjie oorgee aan hom. Maar ek kan helemal verkeerd wees, maar dit lyk my so

Leon ·

Volgens Spar se bestuur het die werknemer “geen kwaad daarmee bedoel nie” op grond waarvan maak hul die afleiding. Video spreek vanself. Hy kon mos dadelik die baba aan die ma terug gegee het. Hoekom wegloop met baba ?
Sal maar in toekoms inkopies doen by checkers en pick a pay doen

Rocco ·

Om van winkelgroep te verander, sal niks help nie. Wees bedag op mense om jou

KatjieDeKat ·

Dis waar, enige tyd, enige plek. Soos die Amerikaners sê: “Keep your head on a swivel, watch your six”. Niemand is meer veilig op enige plek nie. Veral nie kinders nie, en dit geld Oral oor die wereld.

efjy ·

Leon volg erder goeie raad en hou oog op jou kind, hierdie goed gebeur orals. Nie net by Spar nie.

Lourens ·

Wie het hom die reg gegee om enigsins die kind op te tel in die eerste plek?

Kokkies ·

Ondersoek die bestuurder ook, met dit wat hy gesê het, is hy dalk deel van als.

Maritza ·

Dink nie so nie. Mens kan nie ander mense se optredes beheer nie maar natuurlik sal bestuur so se want anders kry sy winkel ‘n slegte naam

Trotse Boervrou ·

Maklik om nou te sê hy het geen kwaad daarmee bedoel nie. Hierdie mensie kon so vinnig van arms verwissel het. Dit is mos hoe sindikate werk. Wat op die aarde het hom en sy bestuur laat dink ‘n ma sal dink daar is “geen kwaad daarmee bedoel nie”. Nee wragtig, indien dit my kind was moes jy/julle maar my reaksie aanvaar het. Die trauma wat haar mamna moes beleef het kan nie as niks afgemaak word nie. Sy sal dit nooit vergeet nie.

Christine ·

En skielik verander Spar hul deuntjie en gee nou volle samewerking nadat hulle dit as onskuldige optrede wou afmaak.

Nie Verbaas ·

As daardie Spar se bestuur vir my in persoon vertel het dat hy geen kwaad daarby bedoel het nie was die hel los. Wat gee hulle die reg om te dink dit is die werknemers se reg om n baba sonder toestemming uit n waentjie op te tel? Die absolute arrogansie van die bestuur is verstommend.

Faraway ·

Toe hy haar “VAT” het hy van rigting verander!!!
Sy motief was dus nie goed bedoel nie?!!

Sarel ·

Les aan elke Ma…jy draai nie jou rug op jou kind in
Winkeltrollie nie…sy was gelukkig om haar kind te vind
ander was nie so gelukkig nie

melaney ·

Die man praat twak. Die bestuurder wil nie ‘n bohaai hê nie, nou probeer hy dit as niks afmaak. Daardie man wou duidelik die kind neem. Mama, gaan aan met die saak teen hom. Dit is jou kind!

Harley Davidson ·

Die ouers moet na hulle kinders kyk ek sien die ma nêrens in die skerm skoot nie en net soos plaasmoorde is dit algemene kennis dat kinders ontvoer word by inkopie sentrums

Gaitsigubib ·

Kyk na die vorige berig en click op beeldmateriaal (die blou gedeelte in die berig). Mens kannie sien wat gebeur op die stil foto nie.

Christine ·

Die mamma was die heeltyd daar, maar het haar rug gedraai om iets uit die yskas te haal. Kyk eers beeldmateriaal voor jy kommentaar lewer.

Gaitsigubib ·

Is dit werklik nodig om oor sy intensie te bespieggel? Watter vuilgoed sit sy hande aan n ander persoon se baba? Nogal die moment toe sy haar rug draai. Sluit hom toe vir 70 jaar, dat hy dit nie weer kan doen nie!

Johann ·

En so loop die bose onvermomd en dom astrant tussen ons rond! Hyt GEEN goeie intensies gehad nie! Maar hier kom weer n plek afbrand as hy afgedank en aangevat word want hey dis SA en hier tel verskillende reëls.

Kerrie ·

Hoe lank werk daai man by daardie SPAR……waar het hy voorheen gewerk?
Het daar kinders weggeraak by die ander ondernemings waar hy ook gewerk het van tevore?
Doen n ondersoek oor die ander werkers en hul vorige werks-plekke ook…..ek dink daar is vorige gevalle van ontvoerde babas ook dallk by daai winkels.

George ·

“geen kwaad bedoeling” so hoekom weg loop met haar?! Hoekom nie die ma se of roep nie, jy wou kind oorgee. Jy is skuldig en moet so gestraf word, en jou gesig landswyd bekend maak as trafficer.

Oesterbaaier ·

Kyk na die man in die rooi T-hemp wat links op die videoskerm verskyn, tussen die rakke beweeg, hy sien die baba, kyk in die rigting waar die werker is, wat dadelik agter die toonbank uitkom en hy kom te voorskyn die oomblik wat die man die baba gryp, maar verdwyn dadelik toe die vrou die werker konfronteer!

liesl ·

My opinie: In die eerste plek is dit nie die werker se plek om die kind optetel al sou sy haar hande uitgesteek het nie. Hy is daar om te werk, dis waarvoor hy betaal word, en om ‘n diens te lewer bv rakke reg pak. En tweedens ‘n mens vra uit respek uit, mag ek jou kind optel, jy tel nie net enige iemand se kind op nie. Hierdie is snert! Verskuilde agenda!!

QueenB ·

Het video nou bestudeer kyk mooi daar is n ou heel swart aangetrek met wit keppie sodra sy die kind trug vat kom hy yt loop dan by ander lyn in en kom op ander plek yt en loop by winkel yt met niks in sy hande nie slegs besig op sy selfoon omw mense wees versigtig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.