‘Barbaarse optrede’ by Clover veroordeel

Terence Tegg, ‘n veiligheidspesialis, is een van die jongste slagoffers van die geweld deur stakende Clover-werkers. (Foto: Facebook)

Die Reguleringsowerheid vir die Private Veiligheidsbedryf (Psira) het die moord die afgelope week op nog ʼn veiligheidswag by Clover se vervaardiging- en verspreidingsaanleg in Johannesburg – glo deur stakende werkers – ten sterkste veroordeel.

Terence Tegg (56), ʼn voormalige lid van 5 Verkenningskommando wat vir die private veiligheidsmaatskappy PPS gewerk het, is die jongste slagoffer. Hy is Donderdag dood toe stakende werkers by die maatskappy se aanleg probeer inkom het.

Tegg se moord volg op dié van Tshephe Molatsi, ʼn veiligheidswag wat verlede maand dood is toe ʼn bus met stakende werkers glo ʼn Clover-afleweringsvoertuig, begelei deur veiligheidswagte, voorgekeer het. Molatsi is geskiet en aangerand en op die toneel dood verklaar.

“Psira veroordeel hierdie barbaarse optrede teen private veiligheidswagte en doen ʼn beroep op die polisie om sy beste te doen om al die betrokkenes in die moord aan te keer en te verseker dat geregtigheid geskied,” lui ʼn verklaring van die reguleringsowerheid.

Ook die Raad van Militêre Veterane Organisasies van Suid-Afrika (RMVO-SA) het sy medelye met Tegg se geliefdes betuig en het Donderdag as ʼn “hartseer dag” bestempel.

“Ek salueer jou, makker, en sal jou nooit vergeet nie. Ons dra ons innige simpatie oor aan sy familie. Yster, mag jy rus in vrede en dankie vir jou diens,” lui ʼn verklaring van die raad.

Twee mense is reeds in verband met die moord op Tegg in hegtenis geneem.

Clover het intussen gesê die aanvalle mag nie voortduur nie. “Herhaaldelike geweld deur vakbondlede is heeltemal onaanvaarvaar. Nog ʼn mens is nou vermoor. Die vakbondleiers en hul lede ignoreer basies twee hofbevele en is duidelik buite beheer,” het Steven Velthuysen, woordvoerder van Clover, vroeër gesê.

“Hierdie is nie werkersoptrede nie, dit is moord.”

Beeldmateriaal van een van die gewelddadige aanvalle op ʼn veiligheidswag word intussen wyd op sosialemediaplatforms versprei. Dit vorm deel van die polisieondersoek.

Die staking by Clover duur sedert November, met werkers wat eis dat die maatskappy afleggings en salarisbesnoeiings opskort. Hulle is ook gekant teen Clover se bande met die Israelse botteleringsmaatskappy Central Bottling Company (CBS).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

37 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jack

Nee wat Clover.Maak julle deure toe en laat die sonder werk nou maar voel.

MakersMark

Maak toe die deur voer die produkte in. Laat die wat so staak en moor rietrot eet.

Nie Verbaas

En wat gaan daaraan gedoen word? Seker niks.

Frank

Sele moet voetsek en ramaparra en sy misbol moet voetsek.

Marieta

Kyk, mens kan miskien, as jy baie hard probeer en baie vergewensgesind is, die polisie se faling en versuim van daadwerklike optrede tydens verlede jaar se opstande probeer verstaan. Maar hoe gebeur dit dat hulle nie eers n gelokaliseerde groep moordende skurke kan kortvat nie?! Wat is hulle doel dan? Of word hulle deesdae net opgelei om die vreedsame weerloses in die samelewing te teister met waterkanonne of hoe om deel te word van kapings en diefstalsindikate? My hart krimp elke keer as ek hoor dat nog n polisieman of vrou vermoor is. Maar terselfdertyd kan ek ook nie help… Lees meer »