BBP: Ekonomie op pad na kantelpunt

(Foto: Maroela Media)

Die DA het die ANC gelooi vir ʼn beleid wat die amptelike opposisie sê die skuld moet kry vir die siklus van lae groei waarin Suid-Afrika vasgekeer is.

Statistieke Suid-Afrika het Dinsdag aangekondig dat die BBP in die tweede kwartaal van vanjaar met 0,7% ingekrimp het. Die groeikoers is nou van 19,9% afwaarts aangepas tot 1,7%.

“Dit is in skrille kontras met die tesourie se ooroptimistiese voorspelling aan die begin van die jaar vir BBP-groei van 4,8% vir vanjaar,” sê dr. Dion George, die DA se woordvoerder oor finansies.

Beurtkrag en die verwoestende oorstromings is sommige van die faktore wat tot die swak groei bygedra het.

“Vir meer as die helfte van die tweede kwartaal het Suid-Afrikaners rekordhoë beurtkrag ondervind wat ekonomiese uitsette gesmoor het, terwyl die ANC se onverskillige reaksie op die verwoestende vloede in KwaZulu-Natal enige hoop van ʼn vinnige herstel in sy spore gestuit het,” sê George.

Altesame 70% van Suid-Afrikaanse bedrywe het in hierdie tyd negatiewe groei ondervind.

Nagenoeg 41% van huishoudings sukkel om kos op die tafel te sit en George sê die daling in BBP gaan ʼn beduidende uitwerking op veral die armste huishoudings hê.

“Suid-Afrika se sogenaamde post-pandemieherstel het op elke gebied onderpresteer en die grootte van die ekonomie is opnuut kleiner as wat dit voor die pandemie was.”

George sê Suid-Afrika is ʼn ontluikende mark met ʼn reusewerksmag tot sy beskikking en die ekonomie behoort onder hierdie omstandighede groei te ondervind.

Pleks daarvan is Suid-Afrika vasgekeer in ʼn verskriklike afwaartse en selfgedrewe siklus wat veroorsaak word deur mislukte beleid, lae groei, hoë werkloosheid, minder kapitaalvorming weens onsekerheid oor die toekoms van private eiendomsreg en ʼn swak staatsdiens wat gekenmerk word deur staatsbeheerde ondernemings en patronaatskapnetwerke.

George waarsku indien die nodige fiskale hervorming nie ingestel gaan word nie, gaan Suid-Afrika ʼn kantelpunt bereik met ongekende skade wat nie ongedaan gemaak sal kan word nie.

Wouter Wessels, die VF Plus se woordvoerder oor ekonomie, stem saam dat die BBP-syfers ʼn aanduiding is dat die regering se planne vir die ekonomie misluk.

“Dit dui ook daarop dat pres. Cyril Ramaphosa uit voeling is met die werklikhede van die probleme wat die land se ekonomie kniehalter. Ekonomiese oplewing en groei sal slegs moontlik wees indien werklike strukturele hervorming in die land plaasvind,” sê Wessels.

Beurtkrag is Dinsdag opnuut ingestel en geld tot Sondag.

Wessels sê sonder betroubare elektrisiteitsvoorsiening, en met ontoereikende basiese dienslewering en die regering se beleid en wetgewing wat sakebedrywighede beperk, sal die ekonomie aanhou om te bloei.

“Dié inkrimping van die ekonomie sal die belastinginkomste van die staat benadeel wat die wankelrige fiskale posisie verder sal verswak. Die staatskas is reeds bankrot terwyl die behoefte aan maatskaplike dienste soos gesondheid, onderwys en maatskaplike toelae daagliks toeneem,” sê Wessels.

Die private sektor moet eerder in staat gestel word om te belê, werk te skep en ekonomiese groei te bewerkstellig, sê hy, maar dit kan slegs gebeur as die regering onder meer beleidsekerheid gee, die kragkrisis oplos, korrupsie hokslaan, kaderontplooiing staak en ontslae raak van wetgewing soos dié oor swart bemagtiging.

“Dit is wel moontlik om hierdie aanpassings te maak om die ekonomie op die herstelpad te plaas, maar onder die ANC sal dit nie gebeur nie,” sê Wessels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Deon ·

Van sleg na slegter! ‘n Donkerder pad vorentoe word heeltyd geskets. Dit het nou tyd geword dat die opposisiepartye presies in verstaanbare taal vir elke landsburger uitspel hoe HULLE die proses van verval gaan stop en omkeer. Daar word heeltyd gehamer en uitgespel wat die ANC verkeerd doen. Ons weet en sien dit lankal. Iets moet nou tog net dringend gedoen word asb. Politici moet nou die daad by die woord sit want meeste mense is siek en sat vir die mooipraatjies.

Jacobus ·

Roelof Botha is Pik Botha se seun, so wat verwag ons anders? Roelof Botha se seun is in Amerika een van die rykstes hoekom bele hy nie n paar miljard van sy eie dollers hier as dit so goed gaan nie. Ek glo nie n woord van die Botha se mooipraatjies nie. Hy kry in elk geval te veel lugtyd.

Republikein in die Wes Kaap ·

En Dr Roelof Botha het weer vanoggend op RSG vertel hoe goed dit met ons gaan.

Tanniepetoors ·

Hy beweer ook dat Statistiek SA se stats verkeerd bereken is. Volgens my beskeie mening sal dit nie die eerste keer wees wat hulle uitgevang word dat hul nie kan maal en deel nie.

Neestemmer ·

Onthou, Liberale het ‘n breinsiekte en is uit voeling met realiteit, net soos die CNN fopnuus daar in Amerika wat met die Seattle riots so ewe rapporteer dat die opstand meestal vreedsaam is, terwyl dit letterlik brand en chaos agter hulle is!

Republikein in die Wes Kaap ·

Neestemmer, dis ‘n feit. Daardie tipe mense leef in hul eie verbeeldings. Dié man glo steeds dat SASSA toelaes is bekostigbaar.

annie ·

Waar was die DA voor die ANC aan bewind gekom het? Wie was die mense wat oorgawe aan die ANC aangemoedig/saamgewerk het tot die totale oorgawe wat tot die uitloop aanleiding gegee het? Dié mense moet nou verantwoordelikheid neem. Om op die draad te sit en wolf-wolf te skree, lywige handleiding se skryf of hogere raat te gee, is ná-tydig. CR strompel (ANC-styl) nou weer na die VSA, een van die swaargewig-voorry wat SA tot oorgawe gedwing het, vir nog $’s+ vir nog misdrywe.

Nie Verbaas ·

“maar dit kan slegs gebeur as die regering onder meer beleidsekerheid gee, die kragkrisis oplos, korrupsie hokslaan, kaderontplooiing staak en ontslae raak van wetgewing soos dié oor swart bemagtiging.” DA, dink julle regtig dit gaan gebeur met n regering wat bekend is vir korrupsie en onbevoegdheid?

Wielspore ·

Partykeer wonder ek hoe waar is die soort statistieke veral as dit deur ‘n lid van ‘n politieke party bekend gemaak word. Ons maatskappy is in die vervaardigings sektor en uit ondervinding bepaal kreatiewe en pro-aktiewe optrede die sukses en wins. Bring nuwe produkte in die mark en skep vir jou ‘n inkomste. Deur net te wag vir die ekonomie om te herstel plaas jy jou toekoms in die hande van ‘n vreemdeling wat in elk geval niks vir jou omgee, hy is net agter jou geld aan.

Anna-marie ·

Maar….maar….maar…….het ons president nie gesê die ekonomie is besig om te herstel nie?

Papsak ·

Daar is geen groei of vooruitgang wat ek sien in SA nie alles versleg en verswak by die dag

henndrik ·

Die ANC is nie bekwaam genoeg om te verstaan wat hulle verkeerd doen nie

Alfred E Neuman ·

Presies! As jy dom is weet jy nie jy is dom nie. Die spreekwoordelike village idiot is hier ter sprake.

Kokerboom ·

‘n Faktor wat dringend geadresseer moet wo d is die onbeheerde menslike groeikoers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.