Bedrogsaak teen ANC-hoë se vrou weer uitgestel

Portia Sizani Foto: ENCA.com

Die bedrogsaak teen Portia Sizani, vrou van Stone Sizani, die voormalige ANC-hoofsweep in die parlement, is Vrydag wéér in die handelsmisdaadhof in Port Elizabeth uitgestel.

Die saak teen Sizani is in Julie verlede jaar ook uitgestel toe sy glo in Duitsland was en nie die hofverrigtinge kon bywoon nie.

Sizani het glo Vrydag weer bloot nie by die hof opgedaag nie waarna die saak uitgestel is.

Dié voormalige distrikskoördineerder vir vroeë kinderontwikkeling is in 2016 onskuldig bevind op vyf van die 15 aanklagte van geldwassery teen haar. Sy staan steeds tereg op 16 aanklagte van bedrog en tien aanklagte van geldwassery.

Sy word daarvan beskuldig dat sy die Oos-Kaapse departement van onderwys met meer as R1,2 miljoen bedrieg het en dat sy verskeie vervalste aansoeke vir Graad R-onderwysposte geprosesseer het. Sy was in daardie stadium die distrikskoördineerder vir vroeë kinderontwikkeling en het glo “spook onderwysers” aangestel en van 2009 tot 2010 na bewering hul salarisse in haar sak gedruk.

Sizani se prokureurs het ʼn aansoek gebring dat landdros Mputumi Mpofu homself moet onttrek aan die saak, maar die aansoek is in November verlede jaar van die hand gewys. Sizani se prokureurs het aangevoer Mpofu kan bevooroordeeld wees omdat sy vrou vir die departement van onderwys werk. Mpofu het egter daarop gewys dat sy vrou al sedert 2013 nie meer vir die departement werk nie.

Johan Wessels, vir Sizani, het daarna dokumente ingedien vir hersiening in die hooggeregshof in Grahamstad.

Die saak is tot 13 Augustus uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

zoom zoom ·

Hoekom word sy nie inhegtenis geneem nie. Of is sy van glas gemaak. Uiters swak van sapd .

Bennie ·

Die uitreiking van n lasbrief is wat die hof doen, NIE die SAPD nie.

Lientjie ·

So daar word nie ‘n lasbrief uitgereik vir haar nie die saak word maar net weer uitgestel. Rohde moes uit die hospitaal ontslaan word, want die landdros wou nie die siekbrief aanvaar nie.

Hettie ·

As dit ek en jy was ,was jy reeds vir minagting aangekla !
Wonder wie trek die toutjies !

Zumie ·

Nogal snaaks om te sien Me Sizane glo nie genoeg in reg(verkeerd)stellende aksie om vir haar ‘n voorheenbenadeelde prokureur aan te stel nie ,,,,,,,,

So sien ons weereens hoe hierdie regstellende aksie bloot ‘n manier is om ‘n ekonomiese oorlog teen die minderheid te voer en werksgeleenthede oor te neem terwyl niemand van hulle regtig daarin glo nie – veral wanneer hulle loodse, prokureurs en advokate kies…

Antjie ·

Blykbaar weet Johan Wessels vir die verdediging meer van strafreg as die aanklaer of regter! Daar moes lankal ʼn lasbrief uitgereik gewees het want geen borg-voorwaardes kan besoeke oorsee as verskoning insluit vir ontwyking van die verhoor nie. Duidelike bevooroordeling is betrokke. Komaan media!!!

Anoniem ·

Dit kan mos nie net so aanhou dat die saak uitgestel en uitgestel word nie. Op ‘n stadium moet hulle maar sonder haar voortgaan met die hofsaak, en haar in haar afwesigheid (volgens bewyse) skuldig vind en vonnis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.