Beëindig rassebeleid nóú, vra Solidariteit voor VN

Dr. Dirk Hermann en Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se regsdienste, tydens hul vroeëre besoek aan die VN. (Foto: Verskaf)

Solidariteit verskyn eerskomende Maandag weer voor die VN se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) om ’n klag teen die Suid-Afrikaanse regering te lê. Die oogmerk is om ʼn einde aan rasgebaseerde beleid in Suid-Afrika te probeer bring, ʼn proses wat reeds in 2016 begin het.

“Volgens die Internasionale Konvensie vir die Uitskakeling van Alle Vorme van Rassediskriminasie (ICERD), waarvan Suid-Afrika ʼn ondertekenaar is, mag regstellende aksiemaatreëls net tydelik van aard wees en moet dit gegrond wees op sosio-ekonomiese maatreëls, eerder as ras,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Solidariteit meen egter die drakoniese wyse waarop die ANC rasgebaseerde beleid toepas, druis nog altyd hierteen in en is die rede waarom dit so gou moontlik ongeldig verklaar moet word.

“Die tweede prys sal wees om die regering te dwing om minstens ʼn einddatum aan rasgebaseerde beleid te koppel, sodat dit nie onbepaald kan voortduur nie.”

Volgens Hermann moet die regering se rassebedeling eerder vervang word met een wat voorkeur gee aan meriete.

“Die fokus op gelykheid van uitkomste moet vervang word met ʼn fokus op gelykheid van geleenthede waar die regering veel meer moeite doen om mense aan die insetkant te bemagtig.”

Internasionale sentiment besig om te draai

Hermann meen Solidariteit se saak is nou selfs sterker as in 2016 omdat die internasionale sentiment besig is om weg te draai van die eng toepassing van rasgebaseerde beleid.

In Junie vanjaar het die Amerikaanse hooggeregshof ʼn ingrypende uitspraak gelewer dat kolleges in die VSA nie meer ras as ʼn faktor mag gebruik in hul toelatingsbeleid nie.

Die hof se besluit volg ná hofsake wat die beleid van die Harvard-Universiteit en die Universiteit van Noord-Carolina betwis het, dat rasbewuste toelatingsprogramme teen wit en Asiese aansoekers diskrimineer.

“Hierdie sogenaamde Harvard-uitspraak steun ons saak sonder enige twyfel omdat dit bevestig die res van die wêreld beweeg ook weg van ras as dominante oorwegingsfaktor.”

Op gelyke voet

Hermann meen Solidariteit is daarby ook in ʼn sterker posisie as in 2016 omdat hy nou “die kryt betree as die regering se gelykes”.

“Die magsverhouding het wesenlik geskuif vroeër vanjaar toe Solidariteit ʼn skikking met die regering onderteken het om bepaalde perke op rasgebaseerde arbeidswetgewing te stel.”

Dié verwikkeling was net moontlik omdat Solidariteit deur die jare volgehoue druk op die regering geplaas het en stadig maar seker respek begin afdwing het, sê Hermann.

“Dit het egter bloedsweet gekos vir Solidariteit om uiteindelik in hierdie gunstige posisie te kom.”

‘Het julle geduld?’

In 2016 het ʼn kundige wat op CERD dien Hermann na afloop van hul aanvanklike voorlegging voor die komitee genader. Hy het net een vraag gehad: “Het julle geduld?”

Diplomatieke prosesse soos hierdie neem ongelooflik lank om vrugte af te werp, maar dit begin tog uiteindelik in ons guns draai, sê Hermann.

“As ons nie in 2016 dié pad begin stap het nie, sou ons nie kon regkry wat ons nou regkry nie.”

Hierdie internasionale proses is ook net een van vele wapens in ons arsenaal teen die regering se rasmalheid, verduidelik Hermann.

“Almal wat op CERD dien is nie die regering se vriende nie. Daar is baie potensiaal om met behulp van verhoogde internasionale druk van die VN plaaslik aan die regering se rasgebaseerde fondamente te ruk.”

Solidariteit meen die regering het eenvoudig nie meer die luukse om rassewetgewing toe te pas nie, omdat dit feitlike alle aspekte van die samelewing lamgelê het.

“Ons tree natuurlik in namens minderheidsgroepe wat regstreeks deur die beleid benadeel word, maar ook namens alle burgers wat onder die gevolge van dié wetgewing ly.”

Die komitee se bevinding oor die aangeleentheid word binne die volgende maand verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Spookasem ·

Dankie Solidariteit vir wat julle alles vir ons doen! Ons kan net hoop en bid dit slaag.

Pieter ·

Daai 2de prys gaa nie werk nie,wat as hulle se nog 10 of 20 jaar?
Ons blankes is besig om dood te gaan van die honger, ons kry nie werk nie anders gaan ons ook een van die dae, trokke en winkels mot roof om te oorleef

Lettie ·

Groot dank aan dr Hermann, Solidaritet en Afrforum vir jul volgehoue insette. Prys die Here vir jul krag en hulp aan Afrikaners.

Johan ·

Ek dink dis n verlore stryd. Die BRICS lande het baie beter minderheidsgroep regte, dalk moet ons daar probeer. Die VN is immers die ANC se meesterwerk, hoe kan hulle nou teen hulle gaan.

Wakkerslaper ·

My eerlike dank aan Solidariteit vir hulle pogings en werk. Waar sou ons Boere sonder julle gewees het? Maar…. hierdie terroriste regime steur hom nie eers aan die Internasionale Strafhof nie, wat nog aan die VN? Wat ek maar hoop is dat hierdie net nog ‘n boksie was om af te tik. Wanneer ons Boere uiteindelik besluit om ons staatkundige vryheid en onafhanklikheid eenvoudig te vat, maak nie saak hoe nie, kan die res van die wêreld nie omdraai en sê ons het dit nie vreedsaam probeer doen nie. Kyk na die res van Afrika, staatsgrepe en burgeroorloë is ‘n gegewe… Dit is ongelukkig AL manier vir ons Boere se oorlewing.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die sosialistiese links-liberale VN is ‘n mors van tyd. Johan het ‘n punt beet. Die BRICS kanale is ‘n beter roete.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.