Begrafnisondernemer ondersoek ná lyke op snelweg beland

Foto: Twitter via @JMPDSafety

Die private begrafnisondernemer wat Woensdag die 42 doodskiste met liggame daarin vervoer het wat op M1-snelweg in Johannesburg beland het nadat wiele van die sleepwa losgekom het, het glo nie die nodige dokumentasie gehad om die liggame te vervoer nie.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het omstreeks 09:45 op die M1-Suid naby Braamfontein gebeur toe die lyke van die Charlotte Maxeke-hospitaal na die Olifantsvlei-begraafplaas vervoer is. ʼn Woordvoerder van die JMPD het gesê die wiele van die sleepwa het losgekom en die doodskiste het op die snelweg uitgeval. Die verkeer was vir langer as ses uur ontwrig terwyl owerhede die voorval ondersoek en die toneel opgeruim het.

ʼn Woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid het vroeër gesê al die liggame was ongeskonde ná die voorval.

Gwen Ramokgopa, LUR vir onderwys in Gauteng, het Donderdag ʼn voorlopige verslag oor die voorval aan die Gautengse wetgewer voorgehou. Volgens Ramokgopa was 26 van die liggame doodgeboortes waarvan die familie verkies het om nie die liggame huis toe te neem nie en die regering versoek het om dit namens hulle te begrawe.

Foto: Twitter via @JMPDSafety

Ramokgopa het gesê die voorlopige verslag dui daarop dat daar ʼn oortreding van die wet was, insluitend die begrafnisondernemer wat nie die nodige dokumentasie aan die polisie kon toon nie. Sy het gesê die hospitaalbestuur het dus ook versuim om die begrafnisondernemer vir die nodige dokumentasie te vra voordat hy die hospitaal met die liggame verlaat het.

“Ek het reeds die hospitaal opdrag gegee om die nodige stappe te doen om die nienakoming van beleid in hierdie verband reg te stel. Ek het gaan kyk na die regulasies van die hospitaal oor die vervoer van liggame en gevind daar is geen duidelike spesifikasies hieroor nie. Ek het daarom die waarnemende hoof van die departement opdrag gegee dat hierdie spesifikasies onmiddellik opgestel word,” het Ramokgopa gesê.

Ramokgopa het die voorval as baie onaangenaam en onaanvaarbaar beskryf. “Selfs in gevalle waar ʼn oorledene se naasbestaandes nie opgespoor kan word nie, is ons volgens wet verplig om die persoon op ʼn waardige en respekvolle manier te begrawe. Ek het opdrag gegee dat die begrafnisproses van hierdie liggame vir sewe dae uitgestel word om families wat dalk nog graag hul geliefdes wil kom uitken daardie geleentheid te gee.”

Sy het gesê sy is vasbeslote om die saak deeglik te ondersoek sodat al die regstellende maatreëls ingestel word om te verseker dat so iets nooit weer gebeur nie. “Enigiemand wat nie sy of haar verantwoordelikhede nagekom het nie, moet aanspreeklik gehou word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Simbolies ·

Simbolies van ook hoe die regering se wiele besig is om af te val.

Dom ·

Ek wonder net hoekom die LUR van Onderwys die voorval ondersoek het?

Altie ·

Ten minste het “iemand” ernstig en daadwerklik opgetree. Iemand vir wie dit ook nie reg gelyk het nie. Eks net bly die saak word ondersoek en nie net so gelaat nie. Dalk kry famielies nog n geliefde se oorskot om eties te begrawe.

Willie ·

Dalk geskiedkundig? Dan gaan hulle agterkom hulle vaal in alles…

Ashley ·

Dit is sulke dinge wat my verstommend laat. Na 25 jaar in die buiteland. Ek besef net elke dag hoe “agter” Suid-Afrika is met doe res van die Wereld.

wielie ·

As dit ek was wat die lyk was …….. sou ek begin spooook het op daardie hoofweg :)

Gedoriewaar ·

Wie sou nou kon raai dat hierdie tipe ondersoek deel van die LUR van onderwys se “job description is”?

Alida ·

Dit is tragies dat soiets gebeur het. Geen respek getoon. Nog ‘n skandaal op Dept van Gesondheid. Die begrafnisondernemer behoort seker weer aan ‘n Zuma maatjie. Dit is afskuwelik.

Andre ·

Daar sal niks van die sogenaamde ondersoek kom nie. Almal betrokke is op die soustrein. Hulle sal dus hulself moet “ondersoek”. Snaaks dat daar noudat hulle uitgevang is, skielik “daadwerklike stappe” gedoen gaan word. Dieselfde ou bekende storie

Uvonka ·

Julle moet eers leer om afgestorwenes met waardigheid en respek te vervoer!!! Soos gewoonlik word niks meer reg gedoen in SA nie.

So wrintie waar ·

Hoe lekker lag ek nou vir die kommentare. Ja bid jou aan LUR.
Sy is seker nog nie gewoond aan haar nuwe posbeskrywing as LUR van gesondheid nie. ???

neels ·

Hierdie was definitief nie n eerste keer nie en so kom onreelmatighede aan die lig. Seker die ansisters wat die wiele los gemaak het sodat die gekonkel geopenbaar kan word. Net soos met Life Ensidemi. Daar is seker ook weer miljoene rande betrokke.

Gedoriewaar ·

Hopelik maak die LUR n beter “job” van hierdie ondersoek as die ondersoeke na chaos in die skole?

Ronel ·

Ek kan nie anders as om te wonder nie. Hoeveel van daai doodgeboortes is “asblik baba’s” nie?

All trades ·

Klink vir my die LUR van onderwys is “Jack of all trades, but master of none”?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.