Begroting 2023: Reuse-reddingsboei vir Eskom

(Argieffoto: ANA)

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het Woensdag in sy begroting die reusebedrag van  254 miljard aan Eskom toegewys om die las op die reeds sukkelende kragvoorsiener se balansstaat te verminder en Eskom toe te laat om broodnodige instandhoudingswerk te doen om die beskikbaarheid van krag te verhoog.

“Die gebrek aan betroubare elektrisiteitsvoorsiening is die grootste ekonomiese beperking. Rekordvlakke van beurtkrag is verlede jaar ondervind: 207 dae van beurtkrag in vergelyking met 75 dae in 2021.

“In reaksie daarop tree ons daadwerklik op om bykomende kapasiteit by die netwerk te voeg. Ons werk ook daaraan om die energiesektor te hervorm om energiesekerheid op lang termyn te behaal,” sê Godongwana.

As deel hiervan neem die regering dus ʼn gedeelte van Eskom se skuldlas oor. Die sukses van hierdie ooreenkoms berus egter op die inwerkingstelling van sleutelhervorming wat die tekortkominge van Eskom se transmissienetwerk en die prestasie van sy kragsentrales regruk.

Die skuldverligting sal in twee dele gedoen word: ʼn aanvanklike R184 miljard vir die volle skuldvereffening (in drie betalings) op mediumtermyn. Die tweede is die regstreekse oorname van tot R70 miljard van Eskom se leningsportefeulje in 2025-’26.

Danksy die skuldverligting, sal dit nie vir Eskom nodig wees om in hierdie tydperk nog geld te leen nie. Die kragvoorsiener sal kan voortgaan met herstrukturering en sal beleggings en instandhouding kan doen wat moet help verseker meer krag word aan die netwerk gelewer.

Die regering sal die ooreenkoms finansier deur die R66 miljard vir basislynvoorsiening wat in die mediumtermynbegroting toegewys is, en die oorblywende R118 miljard in bykomende lenings oor die volgende drie jaar.

Die minister sê streng voorwaardes word egter aan die ooreenkoms gekoppel om te verseker belastingbetalers se geld word beskerm.

Die voorwaardes sluit in:

  • ʼn Vereiste aan Eskom dat kapitaalbesteding in transmissie en distribusie in die skuldverligtingstydperk voorkeur moet geniet.
  • Dat Eskom op die instandhouding van sy bestaande opwekkingsvloot moet fokus om die beskikbaarheid van krag te verhoog.
  • Dat die geld slegs vir die betaling van skuld en rentebetalings gebruik mag word.

Munisipaliteite het Eskom teen die einde van verlede jaar meer as R56,3 miljard geskuld – en die bedrag bly styg. Godongwana sê dit sal dus teenproduktief wees om skuldverligting van dié omvang aan Eskom te gee, sonder om ook hierdie risiko te pak.

“Ons werk saam met Eskom om ʼn oplossing vir die probleem te vind. Eskom sal aansporingsverligting gee aan munisipaliteite vir wie die skuld onbekostigbaar is,” sê Godongwana.

Maar ook dié verligting kom met bepaalde streng voorwaardes.

Dit sluit in die installasie van voorafbetaalde kragmeters om die praktyk van wanbetaling en operasionele uitvoering reg te ruk, sê die minister.

“Eskom se finansiële volhoubaarheid op lang termyn hang af van sy kliënte wat hul skuld betaal.”

Die nasionale tesourie sal besonderhede oor die skuldverligting in Maart bekend maak en daar sal op 1 April met die inwerkingstelling daarvan begin word.

Godongwana het in sy begrotingsrede gewaarsku die kultuur van wanbetaling, nie net deur munisipaliteite nie, maar alle staatsinstellings, is kommerwekkend.

“Die gedrag ondermyn ons instellings en lê dit lam en maak dit onmoontlik om dienste te lewer,” sê die minister.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

marius ·

Nou moet die belasting betaler verder bloei vir hulle gemors! Hierdie hool is verrot en sal NOOIT herstel nie !

Geert ·

Dus betaal die paar belasting betalers alweer vir die regering se swak administrasie en diefstal.

domheks ·

Betaal eerste die ENORME klomp salarisse en bonusse, daarna sal Eskom en die ander plekke betaal word. Ek dink daar moet salarisse vasgestel word vir alle munisipale werkers.

Robert ·

Ons betaal ons krag aan die muslikepaliteit wat deel is van die regering. Die muslikepaliteit (regering) betaal nie vir Eskom nie. Dan word ons deur die regering gemelk met alle soorte belastings, wat die geld weer aanwend om vir Eskom ‘n reddingboei aan te bied. Ons betaal dus duurder vir ons krag as wat ons eintlik betaal en dan het ons vir 8 tot 10 ure ‘n dag nie eens krag nie. Het ek iets gemis?

Anel ·

Hulle sê nie waar die geld vandaan kom nie. Seker van die staatspensioenfonds? Hulle het dit mos al vir lank in die visier!!! Maar ek dink hulle moes al lankal vooraf betaal meters in huise in Soweto gesit het. Betaal wat jy gebruik. As jy nie koop nie, jammer vir jou. Ons gewone mense kan nie meer almal dra nie!!!!!!

TRP ·

Geniet julle bonus Eskom werkers want ek twyfel of dit werklik aangewend sal word soos voorgeskryf. Ironie is, almal weet dit maar dit word steeds toegelaat.

Chris dupreez ·

En nou gaan daar gesê word dat die volgende ceo van eskom die plek regruk

miche ·

Ja Chris, stem saam met jou – dis presies wat hul gaan sê.

Nie Verbaas ·

En wat gaan met die geld gebeur? Reguit in korruptes, onbevoegdes en nutteloses se sakke in en Eskom ploeter steeds aan met hulle “uiters bevoegde” SEB arbeidsmag. Fantasties, hier kom false 8.

Herpiet ·

Die sinkende Titanic se tyd word net nog verleng om die bodem te tref- met ons belasting geld. Wie wil in elk geval nog geld leen aan eskom

Pierre ·

So wat is die les wat sekeres hieruit leër? Moenie betaal nie – iemand anders sal dit doen! Mooi president wat julle skep. Gaan nie verander nie.

Buks ·

Hulle gaan net WEER die geld gebruik op salarisse salaris verhogings en bonusse

Nico ·

Hoeveel gaan in die sakke van die ANC regering beland, regte klomp bloedsuiers wat nie genoeg kry nie.

Francois ·

So word net meer geld in n bodemlose put gegooi vir die caders om meer te skep

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.