Begroting: Goeie nuus vir belastingbetalers!

Tito Mboweni, minister van finansies, lewer sy begrotingsrede in die parlement. (Foto: Verskaf)

Salaristrekkers kan effense verligting verwag in die persentasie belasting wat in die komende boekjaar op hul inkomste gehef sal word. Die tariewe wat van toepassing is op die oordragkoste met die aankoop van ʼn eiendom, sal ook in Maart afneem. Verbruikers sal egter meer opdok vir brandstof en alkoholiese drankies.

Tito Mboweni, minister van finansies, het dié inligting tydens Woensdag se begrotingsrede gedeel.

“Hardwerkende Suid-Afrikaners kan werklik ʼn verligting in inkomstebelasting verwag,” sê Mboweni. “ʼn Onderwyser wat ongeveer R460 000 ʼn jaar verdien, sal byvoorbeeld R3 400 ʼn jaar minder aan belasting betaal. Belastingbetalers wat gemiddeld R265 000 ʼn jaar verdien, sal jaarliks ongeveer R1 300 minder belasting betaal. As jy R10 000 ʼn maand verdien, sal jou belasting met 10% afneem en as jy R100 000 ʼn maand verdien, sal jy 1,5% minder inkomstebelasting betaal,” sê Mboweni.

Dié bepalings geld vanaf 1 Maart 2020 tot 28 Februarie 2021.

Die bedrag wat ʼn individu kan verdien voordat hulle belasting moet betaal, is ook opgestoot. Persone onder die ouderdom van 65 jaar moet jaarliks R83 100 verdien voordat hulle belasting moet betaal, in vergelyking met die huidige R79 000. Persone tussen die ouderdomme van 65 en 74 moet jaarliks eers R128 650 verdien voordat belasting gehef word, teenoor die R122 300 wat tans geld. Persone ouer as 75 moet eers R145 850 verdien voor belasting gehef word. Tans is dié bedrag R136 750.

Huiseienaars sal ook minder hereregte betaal wanneer hulle ʼn eiendom koop. Indien ʼn eiendom R1 miljoen en minder kos, word geen hereregte gehef nie. Mboweni sê dit is gedoen om die eiendomsmark ʼn hupstoot te gee. Eienaars sal wel nog moet opdok aan prokureurskoste om die eiendom na die nuwe eienaar se naam oor te dra.

Suid-Afrikaners sal wel meer opdok vir alkoholiese drankies en tabakprodukte, aangesien sondebelasting met tussen 4,4% en 7,4% verhoog. Vir moutbier, appelbier en alkoholiese vrugtedrankies sal Suid-Afrikaners 8c per 340 ml meer betaal. Die prys van wyn styg met tussen 14c en 23c per 750 ml-bottel en sterk drank soos vodka en whiskey sal R2,89 per 750 ml-bottel meer kos. Rokers sal vanaf 1 Maart 74c meer betaal vir ʼn pakkie van 20 sigarette en sigare sal R6,73 meer per 23 g kos.

Die algemene brandstofheffing gaan ook met 25c per liter toeneem, waarvan 16c vir die algemene brandstofheffing bestem is en 9c vir die padongeluksfonds. Dit verhoog die algemene brandstofheffing tot R3,70 per liter petrol en R3,55 per liter diesel. Mboweni sê dit is nodig om meer geld na die padongeluksfonds te kanaliseer, aangesien dié instansie se aanspreeklikheid teen 2023 na verwagting R600 miljard sal oortref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Erik ·

Wow, ek is ‘n onderwyser, en departementshoof, en verdien nie R460 000 per jaar nie? Behalwe as dit die pakket met voordele insluit kan dit naby kom, maar nie R460 000 nie.

Snowball ·

En in dieselfde asem sê hy dit kan nie net die staatspensioenfonds wees wat Eskom moet red nie, maar ook privaat pensioenfondse sal moet betrek word….
Die groot plan om te plunder is nog mooi in plek.

voor ek vergeet ... ·

Goeie begroting, maar ongelukkig is daar ’n groot kans dat dit deur die vakbonde gekniehater gaan word.

Piet parys ·

Ja Tsjaka mboweni waar is die vangplek . Gryp pensioene en dan die eskom verhoging petrol gaan op . Enige slim ekonoom sal vir mens die ware prentjie skets . DIS NAG GEEN LAND SAL UIT DIE GEMORS KOM VEROORSAAK DEUR HULLE WAT DIT MOET REGRUK NIE

Johan Venter ·

En die verhoogde brandstofheffing, wat gaan die impak op die ekonomie en pryse wees?

KantNota ·

“Huiseienaars sal ook minder oordragkoste betaal…word geen oordragkoste gehef nie.”

Ek vermoed dit moet “hereregte” wees en nie “oordragkoste” nie

Erika ·

Nou het ek ‘n baie dom vraag, gister stop ek by ‘n PNP om paar goedjies te koop, met ‘n skok sien dat ek dieselfde pakkie mince wat ek net die vorige dag gekoop het, en R25 sente voor betaal het, is toe sommer R53 vir dieselfde hoeveelheid mince, dubbel wat ek gewoonlik betaal vir pakkie mince. Ek kon nie die pryse glo nie, het gaan vra of dit dalk verkeerd gemerk is, maar die dame het my verseker dit is die korrekte prys. Belaglik, want nou kan ek nie meer mince koop nie, ek gaan nie daardie belaglike prys betaal nie!

charmaine ·

Sjoe ek is bly oor die eiendom oordragkostes want dit is ook soms n vreeslike bedrag. Veral noudat ons n nuwe plek soek.

Lizel ·

Kyk asb na die Oordragskostes, dit is glad nie reg nie. Die Hereregte aan die Ontvang van Inkomste is dan vrygestel tot die bedrag van R1 000 000.00. Oordragskostes is die Prokureursfooi

Botterblommetjie ·

Geen oordragkoste nie…. (wens was by my huiskoop so), en vermindering…. is dit nou om die te help met onteiening sonder vergoeding en dan ook gratis op die persoon se naam… Alles kom in plek met ‘n doel. Niks is sonder beplanning nie… En dan kry hulle darem belasting op die huis wat gekoop word. Hulle gaan met elke besluit wen…

Vettiemaragartos ·

MM die artikel lees foutief wat betref die betaling van oordragskoste. Dit is wel hereregte wat nie betaalbaar sal wees op ‘n kooptransaksie onder R1 000 000,00, maar die arme oordragprokureur se kinders moet ook eet so daar sal dus steeds oordragkostes betaalbaar wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.