Die polisie in KwaZulu-Natal ondersoek ’n saak van moord nadat ’n bejaarde boer wat sowat twee weke gelede aangeval is, intussen aan sy beserings beswyk het.
Mpozana Khumalo (79) is Vrydag in ’n hospitaal dood nadat hy op 17 November in die Nkomba-omgewing in Muden, noordwes van Greytown, geskiet is.
Angus Williamson, voorsitter van die plaaslike boerevereniging, sê Khumalo het die betrokke dag na sy seun se beeste en skape op ’n plaas gaan kyk toe hy oorval is. Hy is aan ’n boom vasgebind voor hy geskiet en vir dood agtergelaat is.
Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, sê Khumalo is tydens die aanval in die regterkant van sy bors geskiet en van sy selfoon en kontant beroof voordat die aanvallers op die vlug geslaan het.
Werkers op die plaas het op Khumalo afgekom waarna hy na ’n hospitaal gehaas is.
Williamson het Khumalo as ’n nederige en saggeaarde persoon beskryf wat sy lewe lank geboer en na die familie se vee omgesien het.
“Ons is platgeslaan. Dit wys net weereens dat misdaad buite beheer is in landelike gebiede.”
Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die moord nie.
Die ondersoek duur voort.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
27 Kommentare
Rus in vrede Oupa. Jammer dat jy so gemartel moes word op jou ouderdom. En dat die regering NOG ‘n lewe en familie in die steek gelaat het.
In die land het jy nie meer ‘n rede om iemand te martel en doodmaak nie. Jy doen dit sommer vir die lekkerte!
Nou waar is Julius en sy maatjies nou? Net nog n arme boer
So onnodig.
Mense ons is in vet moeilikheid .