Bek-en-klouseer: ActionSA kap breë verbod

Foto ter illustrasie (Foto: Verskaf)

ActionSA doen ’n beroep op die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, om die algemene verbod op die vervoer en beweging van beeste wat vroeër vir drie weke lank ingestel is, te heroorweeg.

Die party is bekommerd dat die verbod skadelik sal wees vir die vee-, wild- en veselbedryf. Die party stel voor dat ’n meer praktiese en doeltreffende gebiedspesifieke verbod in samewerking met alle geraakte belanghebbendes oorweeg word.

Die minister het op 17 Augustus ʼn verbod van drie weke op die vervoer van beeste aangekondig ná ’n tweede groot uitbreking van bek-en-klouseer die afgelope vier maande.

Atholl Trollip, ActionSA se provinsiale voorsitter in die Oos-Kaap, meen dit is onprakties en onlogies dat die departement ʼn algemene verbod wil toepas om die verspreiding van bek-en-klouseer te bekamp.

Hy sê gebiedspesifieke kwarantyn en ʼn verskuiwing- en vervoerverbod is in die verlede verkies en was grootliks suksesvol. “Dit maak voorsiening vir die kwarantyn van hoërisiko- geografiese gebiede waar al die nodige protokolle toegepas en in werking gestel kan word om die verspreiding van die siekte te beperk,” sê Trollip.

Trollip gee ’n voorbeeld van die regering in Botswana wat onlangs streng stappe gedoen het vir die hantering van bek-en-klouseer. Die siekte is endemies aan verskeie streke in Botswana en die land het daarom gekies om ʼn gebiedspesifieke verbod in te stel.

“Die algemene verbod wat deur die departement opgelê is, sal die staat- en private sektor se skaars hulpbronne onvermydelik so dun rek dat dit nie meer doeltreffend sal wees om die verspreiding van bek-en-klouseer te isoleer en te beheer nie.

“Daar moet eerder op spesifieke gebiede, waar uitbrekings voorkom of endemies is, gefokus word om die verspreiding van die siekte daar te beperk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

domheks ·

Het nie ‘n benul van boerdery nie! Maar sy dink sy is alwetend.

Willem ·

Wat van beeste wat sommer orals wei. Langs boer se drade met sy beeste binne en sie ander net lanhs hom buite

Manie ·

Dis die rondloper “informele vee” wat orals wei wat siektes versprei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.