Bekende vervaardiger sterf

Herman Binge. (Foto: Facebook/ Herman Binge)

Die bekende rolprent- en televisievervaardiger en regisseur Herman Binge is Donderdag in die ouderdom van 68 jaar dood. Hy het kanker gehad.

Binge was die uitvoerende direkteur van Fremantle Productions SA, wat deel is van die internasionale FremantleMedia-groep, wat as vervaardigers van die meeste van wyle Taliep Pietersen se TV-programme opgetree het. Hy was ook die medevervaardiger van die bekroonde rolprent Johnny is nie dood nie (2016) en uitvoerende vervaardiger van Ander mens (2018). Meer onlangs het hy die gewilde kykNET-televisiereeks Waterfront vervaardig.

Binge het in 1978 ʼn LLB-graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, maar gou besef dit is nie wat hy met die res van sy lewe wil doen nie. Hy het ʼn paar jaar later ʼn graad in drama aan dieselfde universiteit voltooi.

Bekendes in die Suid-Afrikaanse rolptrentbedryf het huldeblyke en goeie herinneringe aan Binge op sosiale media gedeel.

“Daar is altyd die beeld in my geheue van Herman wat stel toe kom terwyl ons almal werk, altyd in ʼn baadjie, met twee inkopiesakke,” het die akteur Gérard Rudolf op Facebook geskryf. “In die een lekkergoed. In die ander biltong. Soos ʼn saghartige vader loop hy van een persoon op die stel na die ander en deel lekkergoed en biltong uit, maak vriendelike geselsies met akteurs en tegnici, maak seker almal is oukei. Laat almal, elke persoon spesiaal voel. Dis hoe Herman was. Dis hoe ek hom altyd sal onthou.”

Sy vriendin en kollega Carien Loubser het geskryf: “Herman het my ʼn paar weke gelede vertel dat hy ʼn deal met God gemaak het, God het sy kant nagekom – vir hom die liefde van sy lewe en hulle twee kinders gegee, so hý wat Herman is, is happy. Ek gaan jou baie mis.”

Die sangeres Amanda Strydom het ook haar medelye betoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Skappie ·

Mag onse Liewe Jesus sy gesin en almal wat hom geken het, styf in Sy arms hou in hierdie moeilike tyd wat vir hulle wag.

Treurwilger ·

Ai, hartseer nuus.
“Sterretjie” Combrinck was met Herman getroud, as ek reg onthou. Een van my gunsteling aktrises uit die goeie ou dae. Baie sterkte aan almal in hierdie hartseer tyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.