Bela-wet: Duisende e-posvoorleggings wel ontleed

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Niamat Ullah/Unsplash)

Die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys het eindelik ingestem om die duisende openbare voorleggings wat nog as deel van die wysigingswetsontwerp op onderwyswette (bekend as die Bela-wetsontwerp) ontleed moet word, wel te ontleed.

Dié instemming volg twee weke nadat die DA en ander opposisiepartye uit beraadslagings oor klousules van die Bela-wetsontwerp in die parlement in Kaapstad gestap het.

Maroela Media het vroeër berig die opposisiepartye het die betrokke dag die kworum verbreek en uitgestap weens ʼn onduidelikheid oor watter skriftelike voorleggings ontleed gaan word aangesien al die handafgelewerde voorleggings blykbaar ontleed is, maar slegs ʼn gedeelte van die e-posvoorleggings (6 715 van 17 452).

Baxolile “Bax” Nodada, die DA se woordvoerder oor basiese onderwys, sê nou die komitee se instemming dat ál die e-posvoorleggings tog ontleed moet word, daarop dui dat opposisiepartye korrek en geregverdig was om die betrokke dag die kworum te verbreek en uit te stap.

“Die DA sal aan die komiteevoorsitter, Bongiwe Mbinqo-Gigaba, skryf om te versoek dat die behoorlike proses gevolg word, insluitend die aanbieding van ʼn kwalitatiewe en kwantitatiewe matriks van alle voorleggings oor elke klousule van die Bela-wetsontwerp, aangesien dit ʼn beduidende impak op die Bela-wetsontwerp kan hê.”

Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, het intussen in reaksie gesê dié burgerregteorganisasie beskou die portefeuljekomitee se ommekeer as positief. Die organisasie voel egter dit is betreurenswaardig dat politieke partye se druk en regsinsette nodig was om dit moontlik te maak.

Bailey sê die gebeure sluit aan by die meerderheid lede van die komitee se steun vir klousule 5 en 6 van die wetsontwerp, wat die finale besluitneming oor skole se taal- en plasingsbeleid uit die hande van beheerliggame na die provinsiale onderwyshoofde wil oordra. “Sodoende sal demokraties verkose beheerliggame wat die skoolgemeenskappe verteenwoordig as’t ware gemuilband word – net soos die mense wat moeite gedoen het om insette oor die wetsontwerp te gee byna stilgemaak is. Dit is ʼn aanduiding van die regerende party en sy vennote se magsug en minagting vir die mense wat hulle veronderstel is om te dien.”

Bailey sê voorts AfriForum beskou die regering se voortdurende inmenging in skoolgemeenskappe se besluite oor hul taalbeleid as niks anders nie as ʼn verbreking van die akkoord wat voor 1994 onderhandel is en as ʼn proses van kulturele etniese suiwering.

“By tersiêre instellings het ons beleef hoe Afrikaans as sondebok vir die gebrek aan voldoende studiemoontlikhede blameer is tot die druk só groot was dat die Afrikaanse instellings dubbel- of parallelmediumopsies ingestel het. Daarna het dit blitssnel na enkelmedium Engelse instellings omvorm. Nou sien ons hoe dieselfde resep by skole toegepas word. Die aantal Afrikaanse enkelmediumskole neem af en die druk op die res om ook Engels te akkommodeer neem toe. Dit is ʼn soort nieukolonialisme van ʼn spesiale aard wat Afrikaans en die ander inheemse tale uiteindelik onder die oorheersing van Engels gaan laat swig en kinders van die voordele van moedertaalonderrig gaan ontneem.

“Dit is nie alleen ongrondwetlik nie, maar ook ʼn skande.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die parlementêre portefeuljekomitee sal die voorleggings lees, maar die besluite is reeds genoem.

Raadsman ·

Soveel naiewe wit afrikaners wil die goeie probeer soek in die ANC.
Mense moet verstaan dat die ANC afrikaners en afrikaans haat en dat hul die land op sy kniee sal bring om sosialisme na te streef vir die land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.