Bendegeweld op Kaapse Vlakte eis lewe van nóg ʼn kind

Nahemiah Claassen (Foto: Facebook)

ʼn 22-jarige man is in hegtenis geneem nadat bendelede op die Kaapse Vlakte Maandag in Parkwood by Grassy Park op mekaar begin skiet het en ʼn tienjarige seun in die proses raakgeskiet het. Nahemiah Claassen is Dinsdagmiddag in ’n hospitaal in Kaapstad dood.

Die man, wie se naam nie bekendgemaak is nie, staan tereg op aanklag van moord.

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, sê ʼn skietgeveg het die oggend omstreeks 11:00 tussen lede van een bende en ʼn bendelid van ʼn ander bende in Parkers Walk, Parkwood, uitgebreek. Nahemiah het glo buitekant sy huis gespeel toe ʼn dwaalkoeël hom vermoedelik in die kop getref het.

Hy is in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal in Kaapstad gehaas waar hy verdere mediese behandeling ontvang het. Hy was aan lewensondersteunende apparaat gekoppel wat Dinsdagmiddag afgeskakel is.

Traut het aan Maroela Media bevestig dat die saak teen die bendelid verander is van poging tot moord na moord. Hy sal eersdaags in die landdroshof in Wynberg verskyn.

Die Grassy Park-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het op sy Facebook-blad die voorval veroordeel.

“Hierdie is ʼn hartseer oomblik vir die gemeenskap van Parkwood. Nahemiah se naam sal onthou word soos die ander kinderslagoffers wat in die kruisvuur van bendes beland het,” lui die inskrywing.

“Die GPF is bekommerd dat nóg ʼn kind van ʼn toekoms beroof moes word.”

Melvin Jonkers, voorsitter van die GPF, het sy medelye met Nahemiah se familie betuig.

“’Ons betuig veral ons meegevoel met sy dierbare moeder en vader. Ons sal toesien dat geregtigheid geskied. Ons werk nou saam met Grassy Park se polisie en die teenbende-eenheid om te verseker dat die oortreders die maksimum straf sal ontvang vir hierdie gruwelike misdaad. Ons veroordeel alle bende-aktiwiteite,” sê Jonkers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pieter ·

Waar is eff, blm en anc nou? Of is dit dalk doodstil omdat daar geen wit velle / rassisme betrokke is wat politieke voordeel kan inhou nie?

Sarel ·

Hoekom gaan buig Mthetwa en sy BLM nie hulle knièë voor die ouers se huis nie.

Blikkies ·

Siek, Siek, Siek, Absoluut geen Wet en Orde in hierdie land nie. Die SAPS het nie die Kennis, Mag, Wil of Idee hoe om Misdaad in hierdie land te tem nie……….

Genis ·

Dankie Mandela vir jou patetiese ANC nalatenskap, 0 vir ANC, 10 vir Trump

Linda ·

Hoekom moet onskuldige kinders ly onder roekelose bendes. Dit gaan net aan en aan……..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.